Verbruikersake: Kredietreguleerder vat nóg ʼn motorfinansierder vas oor op pad- fooi

geld 4

Argieffoto.

Die Nasionale Kredietreguleerder het ʼn voldoeningskennisgewing uitgereik aan Volkswagen Financial Services South Africa omdat die instansie ʼn op pad- fooi, ʼn administrasiefooi en ʼn hanteringsfooi op kredietooreenkomste hef vir motorfinansiering. Dit is die tweede groot motorfinansierder wat ʼn voldoeningskennisgewing ontvang, nadat BMW Financial Services vroeër vandeesmaand ook aangespreek is omdat hy ontoelaatbare fooie hef. Ina Opperman verduidelik weer hoe verbruikers kan sorg dat hulle nie fooie betaal wat nie deur die Nasionale Kredietwet toegelaat word nie.

Die voldoeningskennisgewing wat die motorfinansierders ontvang het, beveel die instansies om die verbruikers terug te betaal vir die bykomende fooie wat gehef is en ʼn ouditverslag by die Kredietreguleerder in te dien wat wys dat dit gedoen is.

Volgens Nomsa Motshegare, hoof van die Nasionale Kredietreguleerder, kan die gewoonte van motorfinansierders wat fooie onwettig hef, net gestaak word indien verbruikers ook help deur aan te dring op ʼn kwotasie en seker te maak waarvoor hulle betaal. Die Kredietreguleerder sal ook aanhou om landswyd ondersoek in te stel en die heffing van onwettige fooie te keer.

ʼn Kredietooreenkoms mag net die hoofskuld, aanvangsgelde, diensgelde, rente, kredietlewensversekering, ʼn fooi vir wanbetalingsadministrasie en invorderingskoste insluit. Die hoofskuld is die bedrag wat waarvoor jy finansiering kry. Aanvangsgelde is die fooi wat jy betaal vir die goedgekeurde kredietooreenkoms en mag nie meer as 15% van die hoofskuld wees nie.

Die diensfooi mag nie meer as R50 wees nie en is bedoel vir die administrasie van die ooreenkoms. Rente mag gehef word op die uitstaande balans van die ooreenkoms volgens die voorgeskrewe bedrag. Die finansierder kan ook jou premies vir kredietlewensversekering by die ooreenkoms voeg, maar dit mag nie meer as R4,50 per R1 000 wees nie.

Die voorgeskrewe fooie vir wanbetalingsadministrasie en invorderingskoste mag net gehef word indien jy nie betaal nie en dek die onkoste om jou te laat weet jou rekening is agterstallig. Dit mag nie die voorgeskrewe maksimum vir die betrokke kategorie kredietooreenkoms oorskry nie.

Dit is ʼn kriminele oortreding om fooie te hef wat deur die Kredietwet verbied word.

Kla hier:

Wanneer jy oor ʼn kredietooreenkoms wil kla, moet jy eers by die kredietverskaffer self kla. Indien jou klagte nie opgelos word nie, kan jy kla by die Nasionale Kredietreguleerder. Besoek die reguleerder se webwerf by www.ncr.org.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

bgj van der westhuizen ·

dit is reg wat hulle vas besteel die verbruiker al vir jare al

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.