Verbruikersake: Motorhandelaar gestraf

motor-herstelwerk-kar-probleme

Foto: Fancycrave/Pexels.com

Ondernemings wat weier om verbruikers se regte te respekteer, doen dit dikwels omdat hulle meen daar sal geen negatiewe gevolge vir hulle wees nie. ʼn Motorhandelaar van die Wes-Kaap het egter agtergekom dat ʼn mens verbruikers se regte in terme van die Wet op Verbruikersbeskerming moet respekteer as jy nie jou sak hard wil skud nie. Ina Opperman vertel wat gebeur het.

ʼn Verbruiker van Kuilsrivier, Hanlie van Lill, het ʼn gebruikte motor by Western Motors CC gekoop, wat vyf dae nadat sy dit ontvang het, gebreek het. Die handelaar het egter geweier om te help en selfs ʼn klagte by ʼn ombudsman het nie gehelp om haar klagte op te los nie. Van Lill het geen geleentheid gekry om volgens die wet te kies om die motor te laat herstel of vervang of om haar geld terug te kry nie.

“Die klagte is op die ou end na die Nasionale Verbruikerskommissie verwys. Nadat ons self met die handelaar in verbinding getree het om hom die kans te gee om die klagte op vriendskaplike wyse op te los, het ons besluit om nader ondersoek in te stel,” sê Ebrahim Mohamed, verbruikerskommissaris.

Die ondersoek het gewys dat die motorhandelaar die wet op verskeie plekke oortree het en die kommissie het die klagte na die Nasionale Verbruikerstribunaal verwys. Die tribunaal het bevind dat die motorhandelaar wel die wet oortree het en dus beveel dat hy die volle bedrag wat Van Lill betaal het, R61 450, aan haar terugbetaal.

Die tribunaal het ook die motorhandelaar ʼn administratiewe boete van R100 000 opgelê vir oortreding van die wet. Volgens artikel 56 van die wet het alle goedere ’n versweë waarborg dat die goedere aan die vereistes en standaarde van artikel 55 voldoen. Verbruikers kan goedere binne ses maande teruggee indien dit nie aan die vereistes en standaarde van artikel 55 voldoen nie.

Die verskaffer moet dan die gebrekkige, onveilige of defektiewe goedere herstel of vervang of die verbruiker se geld teruggee.

Volgens Mohamed moet verskaffers van goedere en dienste aan verbruikers hieruit leer dat dit beter is om verbruikersklagtes op te los deur middel van ombudskemas, omdat hulle ʼn belangrike rol vervul in die stelsel om klagtes op ʼn vriendskaplike wyse op te los.

“Indien ʼn verskaffer van goedere of dienste nie gehoor gee aan die aanbevelings van ʼn geakkrediteerde ombudsman nie, kom die klagte direk na die kommissie toe en ons moet dan ondersoek instel en die klagte na die tribunaal verwys indien die verskaffer nie aan die bepalings van die wet voldoen nie,” sê hy.

Verbruikers kan kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantore vir verbruikersake. Besoek die Nasionale Verbruikerskommissie se webwerf vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Verlepte botterblom ·

Wens daar iets met my klagte gebeur. Ek is gedreig en moes op facebook sien ek was nie die enigste een nie…. Die ombutsman sou te lank gevat het, want die plaaslike verbruikers kantoor kon my nie direk help nie. Ek moes noodgedwonge die kar teen ‘n verlies verkoop(stukkend) om net iets weer te kon koop anders sit ek sonder vervoer. Ek moes ook dus skuld aangegaan het om darem weer iets te kon bekostig. Probleem is nie almal van ons het geld wat ons kan mors nie. Ons spaar ‘n paar jaar aan R60 000. Hulle moet die ombutsman meer toeganklik maak en die sake binne ‘n week oplos, want ons verbruikers het net nie die tyd en geld nie….

Motortrade ·

Jy moet egter besef dat die motorhandelaar die voertuig wat hy aan jou verkoop, ingeruil het van die publiek af. d.w.s dat dit die publiek is wat skelm is, want hulle verklaar nie foute op die voertuig voordat hulle dit inruil nie. ek moes die jaar al twee engines oordoen agv skelm mense daar buite. en die wet beskerm die verbruiker. daar is niks wat die handelaar beskerm nie. n saak het altyd 3 kante

Hans Potgieter ·

Ek het op 14 September 2017 ‘n klagte aan die National Consumer Comm ge-mail. Nogal na die adres op hulle webtuiste en tot op hede geen reaksie gevind. Nou waarheen nou?

Anoniem ·

Ek het my voertuig ook by ‘n bekende voertuig handelaar gekoop. Ek het R170 000 vir my voertuig betaal waar ek al vanaf 2015 besig is met die Ombudsman. Na n jaar wat ek die voetuig gehad het, het my kar se verf begin afdop en die dak begin oop kraak. Het verskeie kere teruggegaan na die handelaar. Ek het 3 weke teruggegaan en maarself geld gevat om my voertuig te laat regmaak. Die paneelklopper wat tans besig is met my kar het my laat weet dat die dak van die voertuig bestaan net uit “body putty” en dat die voertuig in ongeluk was en dat die dak ernstig beskadig is. En dit het die handelaar nie vir my gese nie. So wat kan ek nog verder doen ?

Gerrie ·

Gaan hof toe (sien n’ prokureer), maak n’ saak teen die handelaar.

anton ·

Dit is hoekom ek verkies om nuut te koop en as ek nie kan nie en n gebruikte voertuig koop, koop ek dit liewer privaat by die eienaar self wat gewoontelik darm eerlik is oor alles.
En natuurlik weet ek dan ook wie die vorige eienaar was wat vir my baie belangrik is. By n handelaar weet jy nooit wie het voorheen die voertuig besit nie.

Cedric ·

Anton, moet nie jouself bluf om te dink nuut is enige iets beter as tweede hands nie. Ek gaan nie stry dat die risiko groter is nie, maar ek het bv by n bitter bekende motor handelaar my kar vanaf die fabriek bestel, net vir die verf om af te dop 9 maande later, asook my “bumpers” voor en agter wat nie reggesit was nie. Die motorhandelaar het my n nuwe kar belowe, net om dit terug te trek en gesê ek moet hulle ombudsman toe vat indien ek die uitkoms wil verander. Hulle het die motor al 5 keer gehad oor n periode van 10 maande, sonder om tot vandag toe nog n verslag te lewer oor hoekom my verf afdop, my die skuld gegee en nog beter, die ombudsman wil nie die saak hanteer nie, want dit is n “dispuut” en hulle hanteer dit nie, en die advokaat wat ek uiteindelik gaan sien het, het my gesê my kanse in die hof is 50/50 en dat ek die kar moet laat strip van verf, professionele mense betaal en dat ek sonder die gebruik van my voertuig gaan wees… en intussen gaan my waarde af en af. Ek het die motor gekoop Vir R430k en dieselfde handelaar bied my maar n skrale R220k aan vir die voertuig wat n jaar en 8 maande oud is…. Hoe is daai vir nuut koop?

Ockie ·

Ek het vir dieselfde handelaar gese dat die wiel sal daai nadat ek dit ook oorgekom het.Die voertuig se model was verkeerd die cluster was verander ens. N prokureer het my ongeveer twee jaar terug R100000.00 gevra om n saak te maak. Op die ou end het ek die voertuig verkoop met n verlies van R20000.00

Stan ·

Ag, nee man!! Dit is ‘n skande dat julle so ingedoen word!! As julle die bewyse het ‘name & shame’ dat ons weet om nie by hulle te koop nie!!!

Chris Ws ·

As jy belangstel in ‘n spesifieke 2de handse voertuig vra die verkoopsman of hy die voertuig sal vat vir ‘n AA toets.Indien hy se nee,groet hom en loop.

Wiebo ·

Ek het baie jare vir n baie bekende motorhandelaars groep gewerk en ek wil net se dat ek self BAIE nuwe voertuie (gedwing was) verkoop het wat beskadig was of in ongelukke betrokke was.Mense, daar is baie splinternuwe karre in vertoonlokale wat al gestamp was, en reggemaak is. Handelaars hoofde dwing verkoopsmanne om die voertuie te verkoop, anders moet jy maar ander werk gaan soek…………EN, die kilometer lesing op n nuwe kar kan ook n klug wees. Ek het al voertuie in Durban en PE gaan haal en na Pretoria toe gery met die “speedo” wat ontkoppel was………..en dan koop iemand n “nuwe” kar……………..

Stan ·

Die handelaar is integriteitloos en maak my naar!!! Kry dan maar eerder ‘n ander werk.

SjN ·

Ek het n motorhandelaar geken jare gelede, as jy hom vra hoeveel kilos het die voertuig op dan vra hy jou hoeveel kilos wil jy he moet die voertuig op he. Die meter word eenvoudig terug gedraai of ander een word geinstalleer, hoe moelik kon dit wees.

Handelaar ·

Die skelmste element in die gebruikte motor befryf is kliente
MAAR nie almal nie en so ook is alle handelaars nie oneerlik nie
Glo maar vir my

StefanG ·

Hierdie is iets wat te veel gebeur. Voel skoon of die Ombudsman hoed in een mis is met die voertuig handelaars se skelm streke. Na ek ook ‘n splinternuwe Nissan gekoop het, het my koppelaar gegroet na 2 maande en 20 000km. Na ek vele eksterne verslae gekry het wat aandui dat die koppelaar foutief is (mens kan self klein kraaktjies sien op die blokke) kies die ombudsman nogsteeds net Nissan se kant en blameer hulle my vir die skade.

Handelaar ·

n Koppelaar is n sluitasie item
Die ombudsman het die streke goed opgesom

Pieter ·

Motortrade, ek stem saam. Ek het vroeer jare ook ‘n motor besigheid gehad. Meeste van die vertuie word in geruil van die publiek. Vandag se motors bestaan uit ‘n groot deel elektroniese komponente. Motor handelaars is maar net ook mense soos elk van ons. Wanneer die Wet toegepas word, word jy geag ‘n kenner te moet wees. As iets skeef loop is dit nie die persoon wat geweet het van die foute nie, maar jy want jy moet mos nou dan die kenner wees. Geen besigheid kan bestaan as jy moet heeltyd opdok vir foute wat deur oneerlike mense aan jou verkoop is nie.

anton ·

Handelaars wil alte maklik die publiek wat die motor inruil beskuldig van foute op n voertuig waarvan hulle dan kwansuis nie geweet het nie.
My mening is, moenie n handelaar word as jy nie kennis het van voertuie nie want met goeie kennis sal jy amper 100% van foute op n voertuig kan opspoor.
Die AA is n baie goeie bewys daarvan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.