Verbruikersake: Oppas vir heffings wat nie in kredietooreenkoms mag wees

ncr-nasionale-kredietreguleerder

Die kantore van die Nasionale Kredietreguleerder. Foto: Google.co.za

Die Nasionale Kredietreguleerder het ʼn voldoeningskennisgewing uitgereik aan BMW Financial Services omdat kliënte ʼn heffing van tussen R3 000 en R6 000 moet betaal vir die registrasie van ʼn voertuig as deel van die kredietooreenkoms om ʼn motor by die maatskappy te laat finansier. Die heffing mag volgens die Nasionale Kredietwet nie deel wees van die kredietooreenkoms nie. Ina Opperman verduidelik watter fooie deel mag wees van ʼn kredietooreenkoms.

BMW Financial Services moet nou al die verbruikers wat hierdie fooi betaal het, se geld terugbetaal, sê Nomsa Motshegare, hoof van die Nasionale Kredietreguleerder. Die maatskappy moet ook ʼn ouditverslag aan die reguleerder verskaf wat wys hoeveel verbruikers die heffing betaal het.

Volgens Motshegare moet verbruikers volgens die Kredietwet ʼn kwotasie kry wat aandui presies hoeveel die krediet gaan kos. Die kwotasie gee verbruikers die geleentheid om seker te maak hoeveel hulle betaal en waarvoor.

Watter koste mag gehef word?

Volgens artikel 101 van die Kredietwet, wat handel oor die koste van krediet, mag ʼn kredietooreenkoms net die volgende betalings insluit:

• die hoofskuld;
• aanvangsgeld;
• diensgeld;
• rente;
• kredietlewensversekering;
• ʼn heffing vir wanbetalingsadministrasie; en
• invorderingskoste.

Hoofskuld

Die bedrag wat jy leen of waarvoor jy finansiering, soos vir ʼn motor, kry.

Aanvangsgeld

Die fooi wat die kredietverskaffer hef om die kredietooreenkoms met die verbruiker te sluit. Jy betaal dit net as die aansoek goedgekeur word en jy voortgaan daarmee. Die aanvangsfooi mag nie meer as 15% van die hoofskuld beloop nie.

Diensgeld

Die diensfooi is die heffing wat jy betaal sodat die kredietverskaffer die ooreenkoms administreer en in stand hou. Jy mag nie meer as R50 per maand aan die diensfooi betaal nie.

Rente

Rente is die bedrag wat jy aan die kredietverskaffer betaal op die uitstaande balans van die ooreenkoms. Jy mag nie meer rente as die voorgeskrewe bedrag vir elke soort lening betaal nie.

Kredietlewensversekering

Iemand wat lewenskredietversekering uitneem, se uitstaande skuld word gedek indien hy of sy permanent ongeskik raak om te werk, of sterf. Jy mag nie meer as R4,50 per R1 000 betaal vir versekering van ʼn bedrag vir kredietgeriewe, ongesekureerde lenings, ontwikkelingskrediet of ander soorte kredietooreenkomste nie. Vir huislenings mag verbruikers nou nie meer as R2 per R1 000 van die versekerde bedrag betaal nie.

Wanbetalingsadministrasie

Hierdie bedrag mag net gehef word indien jy nie jou maandelikse paaiement betaal nie, vir onkoste om jou te laat weet dat jou betalings agterstallig is. Dit mag nie die voorgeskrewe maksimum vir die betrokke kategorie kredietooreenkoms oorskry nie.

Invorderingskoste

Die invorderingskoste mag ook net gehef word indien jy nie betaal nie en mag net die kredietverskaffer se werklike koste om die geld in te vorder, dek.

Kla hier:

Wanneer jy oor ʼn kredietooreenkoms wil kla, moet jy eers by die kredietverskaffer self kla. Indien jou klagte nie opgelos word nie, kan jy kla by die Nasionale Kredietreguleerder. Besoek die reguleerder se webwerf by www.ncr.org.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Paul Kruger ·

Ek wil asb net onder julle aandag bring, die Diensfooi is nie R50 rand n maand nie maar R60 n maand uitsluitend BTW. Aan die begin van die krediet wet was dit R50 uitsluitend BTW maar daar is laas jaar n verandering gemaak aan die krediet wet vir die verandering. Dalk kyk na ander banke wat die foooe vra prorata cie die huidige maand wat BMW Finansiering nie doen nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.