Verbruikersrubriek: ʼn Knaende probleem nadat motorwaarborg verval

Foto: Pixabay

Ons het al almal van die nagmerrie gehoor wanneer jy ʼn gebruikte motor by ʼn handelaar koop: Sodra die waarborg of motorplan verval, ontwikkel die motor ʼn aanhoudende probleem wat net nie opgelos kan word nie en niemand weet hoe om dit reg te maak nie. Die handelaar was sy hande in onskuld en jy sit sonder wiele en met ʼn plat beursie. Ina Opperman gee raad oor wat om te doen in so ʼn geval.

Motorprobleme kan jou ʼn groot klomp geld uit die sak jaag en daarom kan ʼn aanhoudende probleem wat nie opgelos word nie groot frustrasie veroorsaak. Daar is ʼn paar uitweë wat jy kan volg in so ʼn geval. Jy kan jou regte uitoefen ingevolge die Wet op Verbruikersbeskerming, jy kan die by Ombudsman vir die Motorbedryf kla of jy kan die nukkerige motor inruil.

Die Wet op Verbruikersbeskerming

Artikel 56 (1) van die Wet op Verbruikersbeskerming bepaal dat alle goedere wat jy koop ʼn versweë waarborg het dat dit, in hierdie geval die motor, voldoen aan die vereistes en standaarde van artikel 55, wat die gehalte en veiligheid van die motor waarborg, asook dat dit doen wat dit veronderstel is om te doen, goed werk, geen defekte het nie en ʼn redelike tyd sal hou.

Indien die motor nie aan die standaarde wat in artikel 55 gestel is, voldoen nie, het jy die reg om dit volgens artikel 56 binne ses maande terug te gee. Die handelaar moet dit dan herstel, vervang of jou geld terugbetaal. Indien die probleem nie binne drie maande reggestel word nie of as jy ʼn verdere gebrek, defek of onveilige kenmerk ontdek, moet die handelaar die motor vervang of jou geld terug betaal. Jy moet die handelaar dus tyd gee om te kyk of hy die probleem kan oplos.

Dit is so dat jy kan eis dat die handelaar die motor vervang of jou geld terug betaal, maar die handelaar is geregtig daarop om ʼn bedrag van die koopsom af te trek vir die tyd wat jy die motor gebruik het. Dit kan ʼn aardige som beloop as die waarborg of motorplan, wat soms tot vyf jaar duur, reeds verstryk het.

Artikel 57 van die wet bepaal jou regte wanneer herstelwerk gedoen word om jou te beskerm teen swak herstelwerk. Elke nuwe of herboude onderdeel wat gedurende herstel- of onderhoudswerk gebruik word en die herstelwerk self word vir drie maande nadat die werk gedoen is, of selfs langer indien jy en hersteller skriftelik daaroor ooreenkom, gewaarborg.

Wanneer jou motor dus weer dieselfde probleem het binne drie maande nadat herstelwerk gedoen is, moet die handelaar dit gratis herstel as dieselfde probleem dit veroorsaak het, of jou geld teruggee, sodat jy ʼn ander hersteller kan kry om die motor te herstel.

Onthou egter dat hierdie waarborg nietig is as jy die onderdeel of item verkeerd gebruik of misbruik. Dit is ook nie van toepassing op probleme wat deur gewone slytasie veroorsaak word nie.

Kla by Miosa

Kla oor motorprobleme wat nie deur die handelaar opgelos word nie by die Ombudsman vir die Motorbedryf (Miosa). Klagtevorms is beskikbaar by www.miosa.co.za.

Ruil die motor in

Aangesien die handelaar sal opmerk dat die motor ʼn probleem het, sal jy uiteraard minder vir die motor kry wanneer jy dit inruil, maar so sal jy ten minste ontslae raak van die knaende probleem wat jou nog meer geld uit die sak gaan jaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

eugene ·

nou as jy die nukkerige motor inruil, waarheen gaan die handelaar dan met hom?
ek sal jou se:
hy verkoop hom weer en jou probleem word sy probleem …
dan se almal motorhandelaars is skelm?

Bruno Samartino ·

”n Paar motorhandelaars het al persoonlik aan my gese dat gebruikte motors nie onder die wet op verbruikersbeskerming val nie en dat die verswee waarborg van 6 maande nie op motors van toepassing is nie. Hul bied 1 maand of 1000km waarborg en vir enigiets meer moet jy betaal. Dis natuurlik nie waar nie, maar hulle hou voet by stuk ek is verkeerd

Waarborg ·

En onthou net wat die slim dame nie genoem het nie, jou voertug moet ‘n vol diensrekord by die handelaar hê. Jy kan nie by ‘n back yard mechanic jou voertuig diens nie. Jy moet ook jou voertuig betyds diens soos die voorwaardes ander verval jou waarborg ook en sal ‘n handelaar nie die waarborg kan respekteer nie. Indien jy die voertuig wil terug gee sal jy die km’s wat reeds gery is volgens AA tariewe betaal en jy kry ook net die waarde wat die voertuig dan op daardie stadium werd is terug.

diena ·

Dis nie waar nie.. ons is nou besig met so n saak.. ek het my prokureur in kennis gestel van wat aangaan indien dit in die hof sou opeindig.. ombudsman betrokke gekry en dealership het dadelik begin werk maak van die probleem

diena ·

@ Waarborg..
Dis nie waar nie.. ons is nou besig met so n saak.. ek het my prokureur in kennis gestel van wat aangaan indien dit in die hof sou opeindig.. ombudsman betrokke gekry en dealership het dadelik begin werk maak van die probleem

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.