Toyota het so ʼn tydjie gelede die Supra-naam met ʼn nuwe model teruggebring. Die wat wéét waaroor Supra gaan was ietwat omgekrap oor BMW se betrokkenheid by die projek. Ander was nie gepla nie. Ek het nie heeltemal geweet hoe ek daaroor voel nie, maar omdat ek ʼn BMW-liefhebber is, was ek stilletjies opgewonde oor wat die vennootskap sou oplewer.
Die eindproduk was vir my ietwat van ʼn verbasing. Daar is nou al die hele internet vol bewyse dat die Toyota Supra heelwat vinniger is as die BMW Z4 M40i. Die een is op die ander geskoei … maar ek dink die Japannese het hier en daar hul eie kalibrasie toegepas, en siedaar, die Supra is weer gebore.
In Suid-Afrika het ons nie die vierde generasie Toyota Supra gekry nie. Dit is die oranje Supra waarmee Brian O Connor in die eerste The Fast and The Furious- fliek gery het. Daai fliek het motors van die Japanse mark reg oor die wêreld gewild gemaak. Produkte soos die Toyota Supra, Nissan Skyline GT-R en Mazda RX7 was nooit tevore só gewild nie.
Nietemin, daar is ʼn kultusgevolg as dit kom by dié motor, en baie mense het nou al hul monde daaroor uitgespoel, maar kom ek sê dit só: Die nuwe Toyota Supra is 100% die Supra-naamplaatjie werd.
Die ontwerp is mooi, uniek en trek aandag. Die tweesitplek-binneruim het lekker ruimte (vir twee) en ʼn billike kattebak. Daar is ʼn turboaangejaagde inlynsessilinderenjin voor, en agterwielaandrywing met ʼn puik 8-spoed outomatiese ratkas in die middel.
Waar dinge interessant raak, is met daai einste enjin. Dit is BMW se 3,0-enjin … maar ek is oortuig dat Toyota se ingenieurs met die kalibrasie getokkel het … en die eindproduk brul baie harder as sy BMW-boetie. Die enjin bied op papier 250 kW en 500 Nm. In werklikheid dink ek eerder 300 kW en 600 Nm is nader aan die waarheid. 0 – 100 km/h duik in ʼn ratse 4,3 sekondes op en hy sal aanhou tot ʼn beperkte 250 km/h.
Sean Nurse, redakteur van AutoDealer, en Thomas Falkiner van die Tiso Blackstar- groep wat Sunday Times uitgee het ʼn wyle terug aan die Emerald Speed Fest deelgeneem in twee Toyota Supras … en hul klas loshande gewen. Indrukwekkend.
By die bekendstelling het ek gekla oor die kalibrasie van die stuur en die invloed wat die agterste ewenaar daarop het, maar dit is net uitgelig op die paaie waarop ons gery het en die spoed waarteen ons gejaag het. Hier, terug by die huis in Pretoria op die paaie wat ek ken het die Supra hom nie een keer wangedra nie – behalwe elke keer wat ek wou. Die arme bande.
Ritgehalte in die Supra is verbasend goed vir ʼn sportmotor, en die padhouvermoë puik … maar moenie dink die Supra is ʼn lammetjie nie – hy kan net soos ou Kallie boks. Dit is maklik om die Supra op te som. Dit is ʼn klein hoeveelhede, unieke sportmotor wat bó sy gewig boks. In relatiewe terme is net meer as R1 miljoen vir só motor nie duur nie, en ek dink dié een sal oor ʼn klompie jare baie meer werd wees.
Die reeks lyk só:
Toyota Supra 3.0T Track | R991 500 |
Toyota Supra 3.0T | R1 115 600 |
Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/ 100 000 km waarborg en 80 000 km diensplan.
Die kompetisie lyk só:
BMW M2 Competition outo | Porsche 718 Cayman S outo | |
Enjin | 3.0 inlynsessilinderturbo | 2.5 bokserviersilinderturbo |
Krag | 302 kW/ 550 Nm | 257 kW/ 420 Nm |
Ratkas | 7-spoed dubbelkoppelaar | 6-spoed dubbelkoppelaar |
0 – 100 km/h | 4.2 sek | 4.6 sek |
Topspoed | 250 km/h (elektronies beperk) | 285 km/h |
Diensplan & Waarborg | 2 jaar/ onbeperkte km waarborg 5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan | 2 jaar/ onbeperkte km waarborg 3 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan |
Prys | R1 061 956 | R1 262 000 |
Albei dié mededingers is bitter spesiaal. Teen die prys het die wilde karakter van die M2 Competition my hele hart gesteel. Ons hoort vanjaar ʼn beurt te kry met Porsche se nuwe Cayman GT4 … dit gaan pret wees.
En die Ford Mustang as mededinger met 331kw vir die V8 (teen dieselfde prys) en 213kw vir die 2.3?