Vergeet van jou sorge met dié KTM

Die KTM 1290 Superadventure S (Foto: Brian Cheyne)

’n Wyse man het eenkeer gesê: “Soms het jy meer as een tenk petrol nodig om jou kop skoon te kry.” Die laaste twee weke was vir my ’n emosionele wipplak, en toe KTM hulle 1290 Superadventure S vir my aanbied, kon ek nie nee sê nie. Ek bel toe ’n vriend om saam met my te gaan kop skoon ry.

KTM het nie probeer om een fiets te bou om beide pad- en grondpadvoorkeure te bevredig nie. Hulle het twee doelgemaakte modelle in hul 1290-reeks. Die R-model is vir die ernstige stofpadryers, en die S vir die res. Die verskille is nie so voor die hand liggend nie, maar as jy die twee modelle langs mekaar sit, raak dit duidelik. Die S-model het kleiner wiele en hulle is op allooivellings teenoor die R se speekwiele. Die bande op die S is ’n 19”/17”-kombinasie teenoor die R se 21”/18”. Verder het die S ’n ordentlike skerm en minder grondvryhoogte.

Gelukkig het KTM die enjin en elektronika onveranderd gelaat tussen die twee modelle. Dieselfde kernaangedrewe 1301cc-enjin van die SuperDuke doen diens in die Superadventures, en hierdie is ’n enjin wat ek net eenvoudig nie in woorde kan beskryf nie. Ek kan wel my vriend se gesig beskryf toe ek en hy fietse geruil het vir ’n kort lopie op die N4-snelweg. Van sy as-aangedrewe fiets na ’n ketting-aangedrewe missiel het sy uitdrukking merkbaar verander. Ek het hom lanklaas so tevrede en verskrik tegelyk gesien. Daar is egter ’n groot kans dat hierdie krag verslawend kan raak, so hanteer dit maar versigtig.

Ons het net gery tot waar iemand vir ons kon koffie gee, en toe het ek gekyk of ek die nuutste opdatering van die KTM aan die gang kan kry. Beide 1290-modelle is toegerus met ’n 6.5”-TFT-skerm en dit het KTM die geleentheid gegee om navigasie deel van die skerm te maak. As jy nog ’n kommunikasiestelsel in jou pletterpet het, sal die Oostenrykse dame verder vir jou mooi verduidelik waar jy moet draai, al struikel sy soms oor name soos Sefako Makgatho. Die stelsel werk van jou foon af, en projekteer bloot die inligting na die skerm. Dit beteken dat as die foon lui, jy ook sien wie jou bel. Dit is regtig ’n handige toevoeging tot die reeds volledige instrumentasie.

Die KTM 1290 Superadventure S (Foto: Brian Cheyne)

Hierdie stelsel het tot gevolg dat jou foon so bietjie harder gaan werk, maar KTM het selfs daarvoor ’n oplossing. Net regs van die skerm is ’n waterdigte paneelkissie met ’n ingeboude USB-sok om jou foon aan die gang te hou. Ek het nie baie tyd gehad om die stelsel deeglik te toets nie, maar dit werk maklik genoeg. Omdat dit ’n toepassing op jou foon is, is dit ’n stelsel wat toekomstige opgradering makliker sal maak.

Na ’n stewige ontbyt kon ons sommer net lekker ry met geen plan of eindbestemming nie, en selfs hier het die Superadventure S nie teleurgestel nie. Die vering en ryprogramme is nog iets wat jy op die skerm kan verstel met behulp van knoppies op die linkerkantse handvatsel.

Die KTM smeek jou om hom te ry en elke draai en kinkel te geniet, terwyl die fiets se magdom elektronika alles mooi onder beheer hou. Die bande is Pirelli Scorpions, en jy kan maar druk in ’n draai. Hulle klou en die fiets neem jou leunhoek in gedagte as jy wil stop of versnel . Die fiets is ook toegerus met snelskakeling wat die rit net soveel meer pret gemaak het.

Die KTM 1290 Superadventure S (Foto: Brian Cheyne)

Ek was verbaas dat hierdie stelsel elke nou en dan tussen twee ratte verlore geraak het en vir my ’n neutraal gegee het. Dit moet nie gebeur met ’n fiets in hierdie klas nie. Toe ek dit vir KTM noem, het hulle vir my verduidelik dat die snelskakeling jou versneller se posisie in ag neem en blykbaar het ek nie, met die krane vol oop, die ratte hardhandig genoeg gekakel nie. So dalk is dit iets waaraan mens net gewoond moet raak. Van die klankbaan en die versnelling kon ek egter nie genoeg kry nie.

In hierdie kategorie is die kompetisie hewig, maar die KTM is ’n waardige opponent vir enige teenstander. Die wyse man was dus reg. Jy hét meer as een tenk petrol nodig. Jy kort ’n KTM 1290 Superadventure  S ook!

Produkblad: https://www.ktm.com/za/travel/1290-super-adventure-s/

Die feite:

Enjin1301cc V-Twee
Gewig ( Droog )215 kg
Saalhoogte860 mm
Kraglewering160pk ( 118kw )
Tenk kapasiteit23L
PrysR 225 999

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kobus ·

Absoluut fantastiese fiets. Ek wens net KTM se diens was so goed soos hul produkte.

anton ·

Daarom ry ek liewer n BMW.
Boxer enjin is bulletproof en het geen gelyke nie.
Die hele fiets in geheel is onoortreflik. :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.