Vergelyking: Met of sonder maskara?

Die Nissan Navara 4×2. Foto: Verskaf

Ek het nou al baie mense gehoor sê: “Die nuwe Mercedes-Benz X-klas is net ʼn Nissan Navara met ʼn bietjie maskara.” Nou kyk, ek kan hier vir jou sê: Nadat ek ʼn bietjie tyd met albei bakkies terselfdertyd deurgebring het – dit is geensins waar nie.

Die ontwerp:

Snaaks genoeg is die Navara in dié opsig vir my die mooier bakkie. Ek hou veral van hoe die Navara afgerond is agter en die enjinkap se konkawe vorm is iets anders. Die Mercedes-Benz is nie lelik nie, maar die agterligte lyk of daar iets kort, en die voorkant is vir my effe oninspirerend. Die Navara se bakseiltjie werk regtig netjies en hou stof goed uit die laaibak.

Die binneruim:

In dié opsig blink die Mercedes-Benz uit ver bó die Nissan, behalwe vir een klein feit: Ná ʼn week weet ek nou nog nie waar die Mercedes se koppie-houers is nie. Die Mercedes se stuurwiel is vir my baie mooier as dié van die Nissan, en die kontrole vir die inligtingstelsel op die Mercedes-Benz is netjies.

Die Mercedes-Benz X-klas (Foto: Mercedes)

Die Mercedes-Benz se sitplekke is vir my heelwat meer gemaklik as dié van die Navara. Omdat die Navara en X-klas platforms deel het hul albei een groot probleem. Die stuurkolom is heeltemal te laag, en kan nie hoër, óf in en uit stel nie. Mercedes-Benz kan ook aandag gee aan die gebruiker-vriendelikheid van die inligtingstelsel. Dit is bitter moeilik om baas te raak.

Die enjins:

Ek het nou ʼn X250d Progressive- outo en ʼn Navara 4×2 SE- handrat. Albei is laag in die aanbieding van onder af. Die Navara is die goedkoopste model in die aanbieding, en die X-klas die goedkoopste outo. Albei het dieselfde enjin. Die 2,3-viersilinderdiesel met ʼn tweeling-turbo bied 140 kW en 450 Nm.

Die Navara se handrat werk lekker, en die koppelaar is goed gekalibreer. Die fisieke beweegaksie van die rathefboom is effe lank, maar ʼn mens raak dit gewoond. Ek het al met die outomatiese Navara gery, en ʼn mens kan duidelik voel dat die X-klas verskil. Hulle het hul ratkas se ratwisselingspatrone anders geprogrammeer, en die X-klas voel minder lui as die Navara in die stadsverkeer. Albei se enjin is regtig sterk en ʼn mens moet leer hoe om hulle te geniet. Meeste diesels hou nie van toere nie, en hier na 3 000 r/min is hul asem op. Nie die geval met die Navara en die X-klas nie. Op ongeveer 3 000 r/min neem die tweede, groter turboaanjaer oor en dán voel ʼn mens regtig hoe sterk dié enjin is. Albei bakkies trek lekker sterk tot so 4 600 r/min.

Die Nissan Navara 4×2. Foto: Verskaf

Die onderstelle, dryfaste en ritgehalte:

Al deel die Navara en die X-klas ʼn onderstel, deel hulle nie ʼn agterste ewenaar nie. Die Mercedes-Benz maak gebruik van hul G-klas se dryfas. Ek neem aan dit het net te doen met hul 4×4-stelsels want by die bekendstelling het die 4×4 en ewenaarslot perfek in- en uitgeskop sonder enige gesukkel. Albei bakkies het lieflike ritgehalte op die snelweg, en al verskil wat ek nou kon voel is dat die Mercedes-Benz baie meer “scuttle shake” het. Dit is waar jy ʼn aanhoudende skudgevoel van die onderstel, deur jou boude kry as die pad sleg raak. Al wat ek kan dink wat dit moontlik kon veroorsaak is dat die Mercedes-Benz ʼn kappie op gehad het. Die Navara het ook kleiner wiele met ʼn lekker groot profiel- band opgehad, dalk kan dit bydra daartoe.

Hier kom die sleg van albei bakkies. Nie die Navara óf die X-klas is gemaak om vrag te dra nie. Dié bakkies het kronkelvere agter, nie bladvere soos ander bakkies. Die kronkelvere is lieflik sag as die bakkie leeg is, en bied ʼn heerlike ritgehalte, maar die oomblik wanneer ʼn mens vrag op die bakkies laai gaan lê hulle boude. Ek het vir ʼn pel gewys, op die Navara spesifiek – as ʼn mens die agterste flap oopmaak en ek en hy sit daarop, dan sak die bakkie so 15 cm, van net 200 kg – dis ʼn groot probleem. Mercedes-Benz én Nissan sal soos Volkswagen met hul Amarok swaardiensvering moet aanbied. Indien jy met jou Navara of X-klas wil sleep, of van tyd tot tyd goed agterop laai, sal daar sterker vere moet wees. Mercedes-Benz kan dalk lugvering leen by een van hul ander sportnutsvoertuie.

So … watter een? Sjoe. Ek dink as ʼn mens die geld het en jy van ʼn Mercedes-Benz hou, koop die X-klas. Die binneruim is lieflik stil, mooi en gemaklik. Is dié X-klas R240 000 meer werd as die Navara? In my eerlik opinie – nee. As Mercedes-Benz vroeg volgende jaar hul X350d V6 diesel bekendstel, en sy binneruim uiters luuks maak, met ʼn AMG pakket op en hom aanbied teen R1m, dán sal daai bakkie koning kraai – maar die mooier binneruim is hier nie vir my die R240 000 werd nie. Indien Nissan beter vering kan beskikbaar stel vir die Navara, kan die Navara sy man staan teen enige van die ander bakkies in die mark. In die hoër prysklas sal ek steeds my geld agter VW se Amarok V6 plaas.

Dié twee vergelyk só:

Nissan Navara 4×2 SE handrat140kW/ 450Nm6.3ℓ/100km6 jaar/ 150 000km waarborg

3 jaar/ 90 000km diensplan

R461 900
Mercedes-Benz X250d 4×2 Progressive outo140kW/ 450Nm7.8ℓ/100km2 jaar/ onbeperkte km waarborg

6 jaar/ 100 000km omvattende instandhoudingsplan

R699 200

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Eish ·

Hulle kom en gaan, maar as jy n bakkie soek, kraai Toyota koning.
Verkoopsyfers dien as bewys.

siestog ·

Seker as jy aan min gewoont is sal ‘n toyota goed genoeg wees. Verkoopsyfer se niks. MB, Nissan en VW v6 is waarde vir geld vir iemand wat meer in ‘n bakkie soek as ‘n paar wiele. Veiligheid en ekstra is waarvoor jy betaal. Die amarok se Anti Roll is ook n plus punt

Vraagteken ·

Nee siestog, verkoopsyfers sê baie. Mense koop goed wat betroubaar is. Hoe lank dink jy gaan daardie Amarok ry voordat hy probleme gee!? Sal jy ‘n Amarok of ‘n Navara gaan koop wat ouer as 5 – 8 jaar is, want ek sal defnitief ‘n Hilux koop wat so oud is? En as iets verkeerd gaan, dan kan ek ten minste bekostig om hom reg te maak – weereens dieselfde kan nie gesê word van die Navara en Amarok nie. ‘N Hilux is gebou om mishandel te word, nie so baie die opisisie nie.

Siestog ·

Vraagteken
Ek het my familie te lief om hulle veiligheid in ‘n toyota te waag. As die ding nie rol nie word jy ge hijack. Dan kon die maandelikse buitensporige versekering premies by. Nee dankie. My calculator werk goed as ek my sommetjies maak. As verkoopsyfers regtig die kwaliteit bepaal verduidelik gou die een. Mihandra en WGM se verkope is beter as die land cruiser sin op ‘n jaar basis. Volgens jou stelling is hulle dan beter bakkies as die cruiser??

Vraagteken ·

Ek het al hierdie debat op verskeie keer gevoer. Die rede hoekom hulle rol gaan oor voertuigdinamika. Die voertuie wat nie rol nie, ‘understeer’ – en dus kort hy 1 km om ‘n draai te maak in ‘n noodsituasie (die Hilux sal ‘n draai kan maak, veral as jy bekwaam agter die stuur is). As ‘n mens so ‘n voertuig rol dan het jy basies geen vermoë agter die stuur nie! En omdat jy bang is jy gaan hom rol… well, I rest my case.

In terme van jou hijack kommentaar. Jy’t ‘obviously’ nie gesien hoe die Rangers deesdae gevat word nie. Dit sê vir my eending, die voertuie wat verkoop word gevat. ‘n Ou sal nie ‘n Amarok vat nie, want hulle verkope is nie so goed nie (en niemand weet hoe hulle werk). Terloops, ek dog dit was net ‘n probleem met die vorige Hilux. Die nuwes word nie meer op so ‘n gereelde basis gevat nie?

Gaan jy nou regtig met so ‘n argument navore kom? Jy koop ‘n Mahindra en GWM net om geld te spaar – jy maak hom nie reg nie, jy gooi om weg (geen rede verder nie).

Gerhard ·

Ag nee wat Vraagteken, die Toyota Rollux is al vir dekades berug daarvoor dat hulle maklik omval. Verder het die nuwe modelle probleme met DPF wat oppak. Ek soek nie een verniet nie.

Gerhard Bezuidenhout ·

Neewat ek verkies die Nissan bo die Mercedes. Eerstens is die aankoopprys van die Mercedes belaglik en dan gaan jy nog hoes vir sy duur dienste ook. Nie vir my nie dankie.

Chris Ws ·

Dis eienaardig dat die Amarok feitlik nie verkoop nie.Miskien is dit NIE so eienaardig as mens sy prys kyk nie.
Persoonlik dink ek die Navara is ‘n BAIE beter koop as die Mercedes.Instandhouding en dienste speel ‘n groot rol en tel in Nissan se guns.Daar is min indien enige voertuig wat ‘n Japanese fabrikaat kan wen by waarde vir geld.

Andre C ·

Daar was in die vorige navara n kragtige V6 diesel en V6 petrol.
Dit asook n enkelkajuit,clubcab is wat Nissan moet loods

bgj van der westhuizen ·

die Mercedes is nie n Mercedes nie net buite om en binne in die bakkie onderstel is Nissan en masjien is wat die selde as Nissan bakkie het en as dit nie n vrag kan laai nie dan beteking hy niks en is te duur vir wat dit is

koos1 ·

Het Mercedes so min vertroue in hulle X klas, dat hulle nie eers die moeder voertuig se waarborg wil ewenaar nie. En dan nog amper ‘n kwart miljoen meer betaal. Kopers van hierdie X klas moet regtig desperaat wees vir die handelsmerk!
Dit sê my wel dat die Nissan seker die beste bakkies het, want Mercedes beskou dit goed genoeg om as moeder voertuig te gebruik.
As jy ‘n Nissan Navada wil hê, koop een, moenie een koop met ‘n Mercedes “badge” nie.

Pierre ·

Tweede keer wat julle skryf oor die Merc bakkie. Kom manne, soos ek laas gevrae het, bring die xklas en ek vrae my vriende om hulle, Toyota’s, Ford’s, Isuzu’s en VW’s te bring, dan kyk ons wie kraai koning. Of is julle bank wat by Krugersdorp of Gerotek gebeur het weer gaan gebeur? Hoeveel word julle betaal om die bakkie te bemark?

Verduidelik ·

Brendon Help gou.
200kg agter op ‘n bakkie klap is dieselfde as 200kg op ‘n hak as jy iets sleep.
Enige bakkie en voertuig sal 15cm of meer sak as jy 200kg op sy hak sit. Die aanbevele gewig is so 75 to 100kg op ‘n hak en dan sak my bakkie al klaar baie.

Brendon ·

Dagsê Verduidelik,

Baie dankie vir jou kommentaar. Eerstens wil ek vra, watse bakkie ry jy? Hoe oud is jou bakkie en watse kilos het hy op? Die faktore sal help bepaal of dit aanvaarbaar is dat die laaibak só sak. Ek praat ook van 15cm, nie mm nie – dit is regtig baie. Ek’t nou onlangs met ‘n Hyundai H1 gesleep, kattebak vol gelaai en my karavaan seker so 100kg op die bal, en dit het nie 10cm gesak nie.

My vraag is, wat gaan met daai vering gebeur as mens ‘n ton op die bakkie laai?

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

Rupert Ashford ·

Brendan, sover ek weet is geen dual cab bakkie veronderstel om ‘n ton op sy bak te laai nie. Dit is vir enkelkajuite.

Brendon ·

Dagsê Rupert

Baie dankie vir jou kommentaar. Die Amarok dubbelkajuit met swaardiens vering wat ‘n ‘geen koste opsie’ is, kan 1.3 ton op sy bak laai.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

Piet Pompies ·

Vir ‘n voornemende Bakkie koper met ‘n beperkte inkomste het waarde vir geld ‘n ander betekenis as ‘n persoon wat ‘n Bakkie koop en prys speel nie ‘n rol. Aktiewe veligheids toerusting soos ABS is tot voordeel van die bestuurder en insittendes in omtrent alle toestande. Lugsakke se bied weer beskerming vir mense teen laer spoed. Hoe veilig ‘n voertuig is, is ‘n relatiewe term wat sleg die bestuurder bepaal. Jy kan die veiligste Bakkie bestuur maar as jy roekeloos ry gaan jy seerkry. Die meeste moderne Bakkies word deesdae besit deur eienaars wat in stede bly wat elke dag teerpad ry. Hulle sit agter ‘n rekenaar en kan heeldag ‘n bekgeveg (Rekenaarsleutelbord oorlog) begin oor watse Bakkie is die beste. Maar daar waar die Bakkie in die veld werk, hout laai, sand laai….. dit is daar waar die Manne Bakkies van die Meisie Bakkies onderskei word. Alles loop reg, altyd reg……

TvdM ·

Piet Pompies ek hoop nie jy ry ‘n nuwe 2.8 Hilux so op die stof paaie nie. Daai is ‘n teerpad/dorps bakkie. Google gou “Hilux 2.8 air filter problems”.

Vraagteken ·

TvdM, jy weet duidelik as iemand jaloers is as hulle oor ‘air filters’ praat. :):):)

TvdM ·

As ek nou nie ‘n Toyota gehad het nie sou ek sê jy het ‘n punt beet Vraagteken. Ek hou my net nie blind vir hul foute nie. Beide my twee Toyotas was vol foute van nuuts af. Die ander drie fabrikate is nog fout vry met hoër kilo’s op die klok.

Gerhard ·

Kyk as ek ‘n Mercedes prys betaal soek ek ‘n Mercedes nie ‘n omgebouwde Nissan nie. Dan ombou ek eerder die Nissan self en betaal nog steeds minder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.