Verminder padsterftes: AA se topwenke vir veilige motors

Argieffoto

Argieffoto

Die minister van vervoer se onlangse aankondiging dat die 2015-padsterftesyfer hoër as in die vorige ooreenstemmende jaar was, beklemtoon opnuut die noodsaak van ’n padwaardige, veilige voertuig.

Layton Beard, woordvoerder van die AA, sê dit is belangrik dat mense op gereelde grondslag op veral sekere aspekte van motorveiligheid let. Een daarvan is ʼn volledige noodhulptoestel.

“ʼn Noodhulptoestel is van die uiterste belang in ʼn motor. Dit bevat nie net pleisters of medisyne nie, maar verwys ook na ʼn rooi driehoek (as jy langs die pad moet stilhou) of kabels om die motor se battery te herlaai.”

Beard wys die belangrikste veiligheidsaspekte waarna jy moet omsien soos volg uit:

  1. Ruitveërs: “Bestuurders is geneig om te vergeet van ruitveërs wanneer dit vir lang tydperke nie reën nie. Dit is egter gemaak van rubber, raak bros wanneer dit nie vervang word nie en kan dan nie hul doel verrig nie.”
  2. Motorbande: “Bande verskil volgens die handelsmerk en kan meer óf minder kilometers aflê voordat hulle vervang moet word. Dit is egter belangrik om gereeld te kyk of jou bande se loopvlak nog diep genoeg is.” Die groef van die bande mag nie minder as 1 mm diep wees nie.
  3. Spaarband en ander elemente: “Maak ook seker dat jou spaarband se loopvlak diep genoeg is. Sorg dat daar ʼn rooi driehoek is vir wanneer jy wel van die pad moet aftrek en stilhou. Maak gereeld seker die moersleutel en domkrag is in werkende toestand.”
  4. Padwaardigheid: “Padwaardigheid gaan oor verskeie elemente. Krake aan motorruite moenie te groot wees nie, die enjin moet reg werk en alle ander meganiese aspekte moet in orde wees.”
  5. Ligte: “Foutiewe ligte of flikkerligte wat nie werk nie, kan lei tot groot ongelukke. Dit is beslis onveilig om só te ry, en bestuurders moet weekliks seker maak dat motorligte in ’n werkende toestand is.”
  6. Sitplekgordels: “ʼn Sitplekgordel kan die verskil tussen lewe en dood inhou. Maak altyd seker dat al die gordels werk en jou veilig sal hou in ʼn botsing.”
  7. Spieëls: “Bestuurders is geneig om dit nie as ʼn veiligheidsaspek te beskou nie. As jy nie kan sien nie, is jy ʼn risiko vir jouself en vir ander op die pad. Dit is belangrik dat albei kantspieëls van die motor, asook die truspieël, werk.”

Beard wys ook daarop dat kinders van drie jaar en jonger volgens wet in ʼn karstoeltjie moet sit. “Dit is ʼn absolute noodsaaklikheid. Indien kinders te groot is vir so ʼn karstoeltjie, moet hulle altyd vasgegespe wees.”

Talle ongelukke kan voorkom word as bestuurders na die veiligheid van hul motors omsien. Dit blyk byvoorbeeld uit die laer padsterftesyfer in ʼn land soos Noorweë waar ouer motors van die pad geskrap word. “Baie ongelukke word veroorsaak omdat mense nie na die algemene toestand, betroubaarheid en veiligheid van hul motors omsien nie. As jy jou motor gereeld laat versien en weekliks net seker maak dat alles, van bande tot ligte en spieëls, in orde is, is jy reeds veiliger,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Paul ·

Punt twee is foutief.

Subregulasie 212(1)(j)(i) van die regulasies tot die Padverkeerswet spesifiseer dat die minimumdiepte van die groewe in motorbande 1 millimeter is, nie 2 millimeter soos die artikel sê nie.

Sune van Heerden ·

Dagsê Paul

Ons vra om verskoning vir die fout, dankie dat jy ons daarop gewys het. Die berig is gewysig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Reinhardt ·

As mense kan ophou motors bestuur om by die werk te kom en liewer fietsry sal die wêreld n beter plek wees.

charmaine ·

My opinie is dat min van die boonste 7 punte selde die problem is?

Die veiligheidspunte noem nie, onder die invloed, spoed en roekeloose bestuur nie. Meeste van gruwelike ongelukke Desember was kop-aan-kop botsings omdat motoriste en trokke verbysteek op gevaarlike plekke. Dit is n gebrek aaan respek op die pad en geen discipline.

charmaine ·

Reinhardt jou voorstel van fietse is n baie goeie idee, want dan sal die oorgewig SA’s oefening in kry, maar waar gaan hulle die “GROOT L” sticker plak?
Want die “Groot L” bestuurders is my gat se deksel!!!

M A ·

En as jy 50 km van die werk woon? Hoe laat moet jy dan soggens opstaan om betyds met jou fiets by die werk te wees? En hoe gaan jy lyk en ruik?

Francois kroukamp ·

Ons kan die veiligste voertuie het maar as verkeersreels nie toegepas word nie sal die sterftes nie afneem nie. Mense verontagsaam die reels elke dag en daar is geen wetstoepassers nie. Stop nie by stop strate nie dubbel parkering u-draaie so kan ek aangaan. As die klein ding nie toegepas word nie hoekom sal ek by die spoed hou sperstrepe gehoorsaam of nie an die verkeerde kant van die pad bestuur sodatek gouer die passasiers kan aflaai

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.