Verminder só padsterftes oor Paasnaweek

Foto: Alamy

Foto: Alamy

Die minister van vervoer, Dipuo Peters, het vroeër laasjaar gesê dat heelwat meer mense in 2015 tydens Paasnaweek op die land se paaie gesterf het as in 2014. Met Paasnaweek om die draai, het ER24 ʼn paar wenke gegee om veiliger op die paaie te wees.

In 2015 is 287 mense tydens Paasnaweek op die land se paaie dood vergeleke met 193 in 2014. Oor die Paasnaweek ry gemiddeld 2500 tot 4500 voertuie per uur deur die land se tolhekke.

Peters het in ʼn vorige verklaring gesê alkohol- en dwelmmisbruik, roekelose en nalatige bestuur, moegheid, onpadwaardige voertuie, bestuurders wat op blinde hoogtes verbysteek en informele nedersettings langs besige paaie en kruisings, is die grootste faktore wat tot padsterftes bydra.

“Ons streng wetstoepassing en geen verdraagsaamheid vir wetteloosheid op ons paaie nie, dui duidelik daarop die faktore wat die meeste tot padsterftes bydra, is voorkombaar en kan uitgeskakel word,” het Peters gesê.

Met Paasnaweek om die draai, gee ER24 ʼn paar wenke oor hoe om veiliger op die paaie te wees:

  • Gaan jou motor noukeurig na voordat jy vertrek.
  • Maak seker jou motor se bande is in ʼn goeie toestand.
  • Maak seker jy het ʼn domkrag, noodwiel, brandblusser en noodhulpkissie in jou voertuig.
  • Lees die weervoorspelling en verkeersverslae voordat jy vertrek.
  • Verseker jou ruitveërs is in ʼn goeie werkende toestand.
  • Maak seker jou motor is padwaardig.
  • Maak seker jy is goed uitgerus. Neem gereeld ʼn blaaskans en maak beurte om te bestuur.
  • Moenie jou selfoon gebruik wanneer jy bestuur nie.
  • Handhaaf ʼn veilige volgafstand en vermy padwoede.
  • Hou ten alle tye by die spoedgrens.
  • Maak seker almal in die voertuig het sitplekgordels aan.
  • Hou ʼn lys van mediese besonderhede by jou. Die lys moet jou mediese fondsnommer bevat, telefoonnommers van mense om te kontak in ʼn noodgeval, jou bloedgroep, allergieë en mediese geskiedenis.

Kontak ER24 by 084 124 vir enige mediese noodgevalle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Michiel ·

Dis maklik: SIGbare polisiëring oral. Stop ELKE oorlaaide kar/bakkie asook elke voertuig wat onpadwaardig LYK en indien so, konfiskeer op die plek. Konfiskeer ook spoedvrate se voertuie. SORTED!

Klein Koos ·

Gaan nie werk nie. Hulle hou te veel van bribe geld. Na die paas seisoen ry hul almal weer blink karre

Weet Nie ·

Al hoe dit gaan werk as jy al die Taxi’s van die paaie afhaal.

Tiger ·

Na my mening moet daar elke 10 km op alle nationale teerpaaie en snelwee akkurate spoedlokvalle wees.Indien iemand die spoed grens met meer as 20km/h oorskry moet sy voertuig gekonfiskeer en verbeurt verklaar word.Boetes help nie.Indien jy met al vier wiele oor ‘n sperstreep ry moet jou voertuig ook gekonfiskeer te word EN jy aangekla word van poging tot moord.Padblokkades moet elke 30 km gehou word op al die hoof roetes en nationale teer paaie.Toetsing vir bestuur onder die invloed van alkohol of dwelms moet 100maal verbeter word teenoor wat dit tans is.Onpadwaardige voertuie moet van die pad gehaal word .Al die dinge kan DALK help maar ten minste gaan dit ook werkskepping in die hand werk.Die beste is om maar met Jan Tuisbly se karretjie te ry.

Johann Marx ·

Nie dit wat Weet Nie of Michiel voorstel sal ooit werk nie…..waar gaan die vet katte hulle bonusse vandaan kry as hulle alles van die pad moet aftrek en toesluit?

Arno ·

Ek moet die pad na Durban aan durf Saterdag oggend. Ek is maar op my senewees. Mens kan hoe versigtig wees, maar jy kan nie voorspel wat die mens voor of agter jou gaan doen nie. Dis my grootste vrees. Mense wat die pad reels breek sit nie net hulle lewens in gevaar nie, maar ook die van die mense wat hulle in gaan vas ry.

Voordat ek ry, maak ek ook darm seker die Here is met my op die pad. Ek ry nie voordat ek vir Sy beskerming gevra het nie. Dit en ek kyk my voertuig deeglik deer en vat ekstra olie en water saam vir in geval ek dit nodig het.

Stephan ·

Hi Arno…ek self vat die langpad aan Saterdag oggend oppad na Lydenburg vanaf Bloemfontein….ek stres ook oor die verkeer want ons ry met n Atos….my werk verg baie langpad na verskeie stede waar selfoontorings werk nodig het….wees veilig asb

Pietsepan ·

Die antwoord is opvoeding en beskawing. Dit gebeur nie oornag nie. Polisiëring van onbeskaafdes werk nie. Bevorder gehoorsaamheid deur meer advertensies oral van die beskaafde optrede op te rig. Dit sal geld kos, maar dis omdat ons bevolking onbeskaafd is.

Wat-ek-lees ·

Waar is hierdie verkeersmense ander tye want hulle is NIE op ons paaie?
Die grootste ander oorsaak is GEDULD wat net nie bestaan.
Begin met verkeersopvoeding in skole sodat die kleuter sy/haar pa/ma kan betig.
Voorsien aanboordkameras vir motoriste wat bereid is om met videos te help om die padvarke PERMANENT van ons paaie af te haal.

louis ·

Ek het so pas n 800km agter die rug. Wat ek voorstel is , laat die padtoestand jou spoed bepaal,daar was dele wat ons gery het waar jy 160 km n uur kon ry en dele waar jy nie vinniger as 80 km n uur in n 120km zone kon ry nie (as gevolg van) van die verkeer. Wat wel. Gebeur het is,mense wat kanse vat op blinde hoogtes,wat met n spoed by jou verby kom en dan skielik wil regs draai,voertuie wat voor jou indraai,voertuie wat nie stihou by stopstrate,voetgangers wat net oor die pad loop, ouens wat vet gee as jy wil verby gaan,en so kan ek aangaan sonder enige verkeers amptenare om op te tree. Ek is wel deur 2 spoed lokvalle, wat my laat dink enige oortreding is ok moet net nie vinnig ry nie. Ek stem vir meer sigbaarheid veral op blinde hoogtes en meer pad blokkades. En tree op vir vir bo genoemde oortedings. Genoeg vir eers

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.