Vermy dié slaggate as jy ʼn tweedehandse motor koop

Foto: Pixabay

Duisende Suid-Afrikaanse verbruikers trap jaarliks in dieselfde strik wanneer dit by die koop van tweedehandse voertuie kom: Die motor lyk ooglopend soos ʼn winskoop en die geskiedenis van die voertuig blyk in orde te wees, maar dán tref die ongeluk skielik, en dit kos boonop ʼn fortuin om te herstel.

Elmarie Twilley, woordvoerder van Virseker, sê dit is belangrik dat kopers oordeelkundig te werk gaan wanneer hulle in die mark vir ʼn tweedehandse voertuig is.

Twilley meen daar is talle vangplekke waarvoor verbruikers moet uitkyk en dat potensiële kopers dié proses met gesonde skeptisisme moet benader.

“Te veel Suid-Afrikaners wat al tweedehandse voertuie gekoop het, het al dié nagmerrie deurgemaak,” sê sy. “As verbruikers nie versigtig is met die aankoop van tweedehandse voertuie nie, kan hulle ʼn reuseherstelprojek of ʼn ongeluk wat wag om te gebeur koop.”

Sy sê verbruikers moet deeglik ingelig wees om sodoende nié “ʼn skedonk te koop nie”. “’n Haastige besluit op die ingewing van die oomblik is amper altyd ʼn duur besluit. Om meer navorsing te doen en met kenners te gesels, sal bydra tot ʼn meer ingeligte besluit en jou boonop ʼn gevoel van rustigheid en selfvertroue gee wanneer jy jou nuwe wiele beproef.”

Twillery stel dié wenke voor:

  1. Doen jou huiswerk. Lees aanlyn forums en resensies om seker te maak dat die voertuig wat jy wil hê nie geneig is tot probleme nie. Dit sal jou ook ʼn idee gee oor wat ʼn redelike prys is vir die presiese voertuig wat jy wil koop.
  2. Kry agtergrondinligting. Om ʼn voertuig van ʼn betroubare handelaar met ʼn goeie naverkoperekord te koop, is noodsaaklik. In die geval van ʼn privaat verkoper, vra soveel vrae moontlik om seker te maak dat jy nie moeilikheid op wiele koop nie.
  3. Snuffel rond. Moenie tevrede wees met die eerste die beste kopie wat jou pad kruis nie. Besoek ander handelaars of privaat verkopers om na ander soortgelyke voertuie te kyk en hulle vir ʼn toetsrit te neem. Wanneer jy aanlyn soek, gebruik die “gunstelinge”-soekfunksie wat baie webwerwe bied om jou keuse tot ongeveer vyf voertuie af te skaal wat jy dan kan vergelyk.
  4. Kyk na die odometer. Voertuie met ʼn hoë odometer beteken oor die algemeen hoër onderhoudskoste en is meer geneig tot duur herstelwerk. Terwyl dit dalk op kort termyn na ʼn kostebesparing lyk, kan die langtermynkoste jou baie duur te staan kom.
  5. ʼn Diensrekord is van kritieke belang. Motors wat ʼn volledige diensrekord by agente of ʼn goeie RMI-geakkrediteerde dienssentrum het, is oor die algemeen beter kopies. Indien die voertuig se versienings nie op datum is nie, dring daarop aan dat die handelaar die motor versien as ʼn voorwaarde vir die aankoop.
  6. Vra vir ʼn ongeluk- en diefstalverslag. Ongelukbeskadigde voertuie, of dié wat onder misdaad deurgeloop het, is ʼn hoë risiko om te koop. Dit is veral waar wanneer die voertuig se enjin of elektroniese komponente geraak is. Bevestig dat die motor ongeluk- en voorvalvry is en maak gebruik van ʼn agtergrond-nagaandiens soos www.vehiclecheck.co.za.
  7. Kyk vir lekplekke. Olie en ander vloeistowwe wat lek, selfs al is dit net ʼn bietjie, is ʼn duidelike teken van swak onderhoud of skade. Maak seker dat jy onder die voertuig, en ook in die enjinkompartement, loer. ʼn Vuil, olierige enjin is een waarby jy liefs moet verbystuur.
  8. Gaan die bande na. Bande wat glad of oneweredig verslyt is, kan enigiets van slegte wielbelyning en -balansering, tot verslete skokbrekers en ʼn beskadigde veringstelsel beteken.
  9. Binneruim-inspeksie. Kyk uit vir enige krake, barse en skeure in die binnepanele en sitplekmateriaal. Gewone verslyting, ooreenstemmig met die ouderdom van die voertuig, is aanvaarbaar, maar ʼn gekraakte paneelbord of vermiste paneel kan ʼn veel groter probleem aandui.
  10. ʼn Voertuig wat goed onderhou is, behoort geensins te sukkel om aan te sluit of glad te loop nie. Dit behoort nie uitermatig te rook nie en die ritgehalte behoort glad en sonder ʼn gestotter, ratprobleme, vibrasies, remgeluide, stuurkasgeluide en uitermatige geratel te wees.
  11. Veiligheidstelsels soos sitplekgordels en lugsakke is ʼn móét om na te gaan. Indien enige van hierdie stelsels nie werk nie en herstel moet word, stuur eerder verby.
  12. Maak seker dat alle elektriese en elektroniese stelsels werk. Toets die ligte, die ruitveërs, die verwarmer en verkoelingstelsels en die navigasiestelsel om seker te maak dat alles werk.
  13. Jy kan vra vir ʼn deeglike 101-punt-oorsig deur ʼn betroubare inspeksiemaatskappy net om seker te maak dat die voertuig meganies in ʼn goeie toestand is. So ʼn toets kan jou – of die handelaar wat bereid is om dit te laat doen – ʼn paar honderd rand uit die sak jaag, maar dis beslis die moeite werd vir ekstra gemoedsrus.
  14. Neem ʼn verlengde waarborg uit. Verskeie maatskappye bied verlengde waarborge vir gebruikte voertuie aan en solank die voertuig versien word volgens die vervaardiger se spesifikasies, kan hulle vir jou dekking aanbied vir enigiets van net die sleutelkomponente tot meer omvattende dekking.
  15. Pasop vir die “winskoop van ʼn leeftyd”. As ʼn kopie te goed lyk om waar te wees, ís dit waarskynlik.
  16. Wees gewillig om weg te loop. Vermy die versoeking om ʼn voertuig net daar en dan te koop, veral wanneer dit by winskopies kom. Gun jou eerder die tyd om ʼn ingeligte, rasionele besluit te neem om kopersberou te vermy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

SjN ·

Dona, waar kry jy nog n regte mechanic, deesdae is dit n new part fitter.

Dona ·

Ek’s gelukkig, het n baie betroubare vriend wat een is. @rooiman, mooi man, jy kon dit in afrikaans sê, well done, you deserve a medal of sorts.

Piet Pompies ·

In my leeftyd het ek al heelwat voertuie gekoop en verkoop, privaat en by handelaars. Dit is nogal ‘n interesante ervaring en kan my ervaring koppel aan een woord wat die sukses en tevredenheid van ‘n transaksie bepaal. Die woord is eerlikheid, maak nie saak waar en by wie jy koop, as die verkoper oneerlik is, is jy gelukkig as jy tevrede uit die transaksie gaan stap. Goeie vriend van my het ‘n gebruikte motor handelaar begin en ‘n reuse sukses daarvan gemaak, ongelukkig het sy drang na rykdom so groot geraak dat eerlikheid nie meer die goue draad van sy besigheid was. Vandag is die man wel af maar sy inkomste bly constant, daar is nie groei. My slegste ervaring was ‘n voertuig wat ek gekoop het by ‘n handelaar wat toe ‘n suurlemoen was. Die verkoopsman, die verkoopsbestuurder en die finansierings dame het almal saamgewerk. Na 4 maande het ek die vertuig met ‘n verlies van R9K verkoop. Al die persone wat my verneuk het by die handelaar, het bedank. Die hoofbestuurder het net sy skouers opgetrek en gesê hulle word self deur die maatskappy ondersoek en kan maar in die ry staan vir my kwota. Die verkoopsbestuurder doen nog sy rondtes in die omgewing en het nou die ander dag sy kontaknommer op Faceboek gekry. Toe ek hom kantak oor die saak verwys hy my terug na die handelaar.

Vraagteken ·

Baie belangrik- kyk na die ‘chassis rails’ en ‘crumple zones’ (gewoontlik die grootste stuk yster net voor die enjin :):):)). As hulle “ge-weld, ge-cut, en ge-paint” is, loop weg. Dit is die eerste teken dat die voertuig in ‘n groot ongeluk betrokke was. Die kaanse is ook groot dat die bak vervorm (gebuig) het – dit is gevolglik dat jou wielbelyning nie reg is nie, en die hele voertuig dwars beweeg.

En kyk dat al die panele presies dieselfde kleur is (dit is reg as die ‘bumper’ nie presies dieselfde is nie omdat hulle teen ‘n ander hoekpunt geverf word). Maak ook seker dat die spasies tussen elke paneel eweredig is.

Karolis ·

Wees ook eerlik wanneer jy jou motor verkoop aan die handelaar.
Sodoende val hierdie hele onaangename stories van kopers wat ingeloop word weg.

André ·

Goeiedag Maroela

Daar is fout met die eerste sin van punt 10. Dit lyk of ‘n volgende sin begin word voordat die vorige een voltooi is.

Groete
André

Cyril Blackburn ·

Dagsê André
Dankie vir jou kommentaar! Ons vra om verskoning vir die flater – die berig is reeds gewysig.
Groetnis
Cyril nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.