Verneukpan toe op ’n Zontes 310-T: Só moet jy stadiger reis

Verneukpan. (Foto: Brian Cheyne)

Net voor Kenhardt in die Noord-Kaap hou ek stil by ’n yslike versamelvoëlnes. Dis warm, maar ek staan en verwonder my aan die vakmanskap wat hierdie klein voëltjies aan die dag lê. Toe wonder ek of dit nie maar soos ons motorfietsryers is nie: versameldiere.

Ek is op pad na Kenhardt vir ’n baie spesiale byeenkoms van 77 siele wat dieselfde passies deel. Motorfietsry met al sy fasette, en om terselfdertyd ’n klein finansiële inspuiting vir hierdie pragtige dorpie te gee.

My plan was om van Pretoria met my eie BMW G 310 GS te ry, maar Zontes het vir my hulle 310-T aangebied. Die vertroue wat hulle in hul produk het, was duidelik. Ek was nog altyd reg vir ’n uitdaging en hierdie het na die perfekte geleentheid gelyk om te kyk of ʼn mens regtig met so ʼn klein fietsie kan toer.

Die fiets is toegerus met ’n volledige bagasiestel van baie hoë gehalte. Dit is mooi afgewerk aan die binnekant en is natuurlik sluitbaar. Ek was verbaas oor hoeveel jy in hierdie tassies kan pak. Die bagasiestel het deur al die wedervaringe van reën en stof en ysige koue nie een keer die elemente binne gelaat nie. My duur kameratoerusting was dus veilig.

Die Zontes 310-T deel ’n platform met die res van die 310-reeks, maar lyk tog of hy bedoel is om sy man te kan staan op ʼn grondpad. In hierdie klas kry jy nou al heelwat van hierdie avontuurfietsies wat geskoei is op ’n padfiets en nie eintlik bedoel is om té ver van die teerpad te ry nie. Ek was egter oortuig dat die Zontes oor die vermoë beskik en ek het ingeval by die Stars & Dust-toer wat gereël is deur Jacques Koning, ’n internis van Pretoria.

Verneukpan. (Foto: Willem Ebersohn)

Ons sou Kenhardt as basis gebruik en dan ’n dag uitry Verneukpan toe. Dáár is ’n klein klipmonument opgerig waarin ons elkeen ’n spesiale gedagte of herinnering kon plaas. Koning was self aan die begin van die jaar in ’n baie groot ongeluk betrokke. Hy was nog besig om te herstel toe Covid-19 die land lamgelê het. Hy is self baie nou betrokke by die behandeling van Covid-19-gevalle hier in Pretoria, so hierdie reis na stilte, sterre en stof was vir ons almal broodnodig. Met my blou boksie vol van my eie spesiale herinneringe in my Zontes is ek en ’n vriend op ’n Triumph Tiger vort.

Ons eerste oornagstop was in Kathu. Die volgelaaide Zontes het glad nie te sleg gedoen nie, hoewel ek dink die kanttassies het bygedra tot ’n hoër brandstofverbruik en laer gemiddelde spoed. Die fiets kon egter heel goed bybly by die spoedgrens, maar met so klein fietsie was dit nogal vreesaanjaend om voertuie verby te steek. Hier sou ’n groter fiets beslis beter gewees het. Nogtans het die klein Zontes hom goed van sy taak gekwyt.

Die enigste teëspoed wat ons gehad het, was met die agterste modderskermpie wat wou agterbly. Daarom is dit belangrik om op enige reis seker te maak jy het die regte gereedskap en heelwat kabelbinders! En dit help as iemand saamry wat weet hoe om dit te gebruik.

Van Kathu het ons die laaste paar honderd kilometer afgelê en in Kenhardt aangekom. Die klein Zontes het baie aandag getrek, veral omdat hy groter vertoon as wat jy van sy kapasiteit verwag. Die bagasie haal baie maklik van die fiets af en ek kon alles afhaal en saam met my in die hotel neem. Kenhardt se mense het hulle harte vir ons oopgemaak en ons kon middagetes koop by stalletjies wat opgerig is. Een van die boere het ons ook genooi om op sy plaas te kom braai.

Hierdie klein dorpies fassineer my en dit bly baie spesiaal.

Die malle gejaag van Gauteng was nou letterlik ʼn duisend kilometer weg.

(Foto: Brian Cheyne)

Op Erfenisdag, oftewel Braaidag, het ons na Verneukpan gery. Die pad soontoe was in relatiewe goeie toestand en ná 40 km van sinkplaatpad, het ons die eerste plaashek oopgemaak om die laaste 30 km aan te pak. Hierdie stukkie pad was by tye net ’n tweespoor en ons het ophou tel deur hoeveel hekke ons gegaan het tot ons uiteindelik by die pan aangekom het.

Weer eens het die klein Zontes net gedienstig sy werk gedoen.

Daar aangekom, het ons by die kampterrein stilgehou. Daar is ’n basiese skerm opgesit om die braai-area teen die wind te beskerm.

Ek het dadelik alles van die fiets afgehaal en op die pan gaan ry. Die oppervlak is kliphard en jy kan kilometers in enige rigting ry sonder vrees van verkeer. Dit was ’n ongelooflike ervaring.

Dit is werklik iets wat elke motorfietsryer ten minste een keer moet ervaar. In ons groep was daar twee Harley-Davidsons en selfs ’n Indian en om hierdie fietse te hoor brul op die pan was besonders.

Die aand in my tent met my getroue Chinese fietsie langs my het ek lank gelê en nadink oor die inhoud van my boksie. Oor die wonderlike dinge wat al in my lewe gebeur het en ook die mense wat na aan my hart is. My boksie is nou binne die monument en elke keer wat ek daar kom sal ek ’n geestelike verbinding hê met die plek.

Verneukpan is iets om te beleef.

Ná ons wonderlike ervaring is ons terug Kenhardt toe. Die dorpie bly jou verras. Hier bly ’n reus van ʼn man met die naam Tiny. Hy het ons met ope arms ingenooi in sy huis om na sy versameling van oor die tagtig motorfietse te kom kyk. Hy het onder meer die tweede Suzuki Hayabusa wat ooit gemaak is by hom en selfs ’n Boss Hoss. Verbeel jou ’n motorfiets met ’n Amerikaanse V8-enjin! In Kenhardt van alle plekke.

Dit was hartseer om afskeid te neem van Kenhardt, maar ek moes die Zontes nog ry tot in Kaapstad. Saam met twee nuwe Verneukpan-vriendinne op GSe is ons af, deur Calvinia en Nieuwoudtville tot oor Van Rhynspas met sy pragtige uitsig oor die Knersvlakte.

Een van hulle het, hoe nader ons aan Kaapstad kom, al hoe stadiger begin ry. As sy by die huis kom sou die reis oor wees en sy wou hom net nog so bietjie rek. My gevoel was dieselfde.

Baie mense het gesê ek is laf om met so klein fietsie so ver te ry, maar dis hoe ek wil reis. Ek wil inneem. Ek wil stop op Sannieshof en Biesiesvlei. Ek wil gesels en mense se stories hoor. Avontuur is om elke draai in ons land en dié fiets het vir my bewys dat jy nie ’n yslike fiets daarvoor nodig het nie. Die klein Zontes was genoeg vir dié tipe rit.

Produkblad : http://www.zontes.co.za/zt310-t-orange/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Boerkind

Brian dit was nou lekker om jou stuk reisgenot hier te lees!! Man, ek deel jou sentiment oor “kleiner” fietse! Ek het pas gou Kaapstad toe en terug gery (220km) met my kleindogter se Duke 390. Ek het self ‘n Super Duke R en ‘n Ducati Streetfighter V4 S, maar die groot fietse is so vinnig; ‘n mens het beswaarlik tyd om van gedagte te verander op die goed terwyl die “kleiner” fietse ‘n mens laat ontspan en soos jy sê, rondkyk en rustig te wees. Ek self het darem ook vir 3 jaar die Boss Hoss Big Block 8.2L… Lees meer »