Video: Duinepret op Kaapstad se voorstoep

Foto: Brendon Staniforth

As ʼn mens vir ʼn Gautenger sê dat ons gaan 4×4, dink jy dadelik aan óf modder óf klippe – maar nie eintlik sand nie. Daarvoor wil ons die heel tyd Mosambiek of Namibië toe foeter. Dis nie nodig nie – daar is pragtige, beeldskone duine net buite Kaapstad, 29 km van Bloubergstrand.

Maroela Media was weer bevoorreg om deur Toyota Suid-Afrika genooi te word om aan dié gesinsdag deel te neem. Ek, vroulief en die kinders is almal Atlantis toe om te gaan sien wat die duine kan bied. Met die eerste oogopslag is dit duidelik dat die Four Wheel Drive Club of SA se Wes-Kaap-afdeling weet hoe om só ʼn pretdag aan te bied.

Die doeltreffendheid waarmee die mense in hul groepe opgedeel is en van hindernis na hindernis gelei word, is briljant uitgewerk. Daar is agt hindernisse wat elke deelnemer moet voltooi. Punte word toegeken of weggeneem afhangend van die hindernis en wat vereis word. As jy ʼn bietjie meer wil sien presies hoe dit werk – gaan kyk vanaand na Ignition om 19:00 op DSTV, kanaal 189.

Foto: Brendon Staniforth

Ons was ses spanne wat as Toyota se gaste deelgeneem het. Ons het almal Toyota Hilux 2.8GD-6 4×4-handratmodelle gehad. My bande is na 0,8 bar afgeblaas, laestrek geselekteer en met ʼn opgewonde gesin is ons die duine in. Wat vir my indrukwekkend was, is die feit dat ʼn doodgewone Hilux van die rak af die duine kan aandurf. Die manne met aangepaste 4×4’s met reusebande en vering het wel ʼn voordeel in van die hindernisse – maar my standaard Hilux is uit geen hindernis gesleep nie. Waar die Hilux enige tekortkomings gehad het, is die eerder van my gebrek aan vernuf as die voertuig se skuld.

Foto: Brendon Staniforth

Die Four Wheel Drive Club of SA het ʼn reusetaak elke jaar om ʼn permit te kry sodat dié dag op die duine gehou mag word, maar ek is regtig beïndruk om te sien dat al 100 deelnemers hulle perfek by die reëls gehou het. Geen vure, geen drank en net veilige pret het verseker dat daar nie een voertuig beskadig is nie, en dat almal die middag laat sonder ʼn enkele besering van die duine af is.

Die manne van die 4×4 ATV Klub het as Toyota se gaste dié dag bygewoon om te kyk of hulle idees kan gebruik in volgende jaar se Toyota Rust De Winter Jamboree. Ek sien uit om te kyk hoe hulle daai byeenkoms gaan verbeter. Toyota vat die eerste Toyota-span van al twee byeenkomste as gaste na die ander byeenkoms. Indien jy die eerste Toyota is by Rust De Winter, neem Toyota Suid-Afrika jou na die Atlantis 4×4 Family Fun Day. Indien jy die eerste Toyota is by Atlantis – word jy dan weer Rust De Winter toe geneem die volgende jaar.

Indien jy aan enige van dié twee byeenkomste wil deelneem – hou dié webwerwe dop vir meer inligting: https://4wd-wc.co.za/ en https://4x4atv.org/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

marco polo ·

Gaan doen dit in die somer wanneer die sand warm is, dan kyk jy of jou standaard Hilux gaan byhou by die gemodifiseerde 4×4’s. Of vra vir Hein Burnett om jou na die groot duine aan die agterkant van Atlantis te neem, waar dit te rof is vir speel-speel kompetisies.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.