ʼn Ambisieuse Jesse Adams, motorskrywer van The Star Motoring, het onlangs vir Toyota gevra of hulle hom sal help om die wêreldrekord vir die langste drift te oorskry.
Met Toyota SA se aandag geprikkel, is die wiele letterlik aan die rol gesit. Maroela Media het onlangs die Toyota 86 getoets en sal binnekort verder berig oor die vermoë van die 86. Kortliks is dit die perfekte voertuig om die rekordpoging mee aan te durf.
Die vorige rekord is opgestel deur Harald Muller, ʼn Duitser in Turkye in 2014 – ook met ʼn Toyota 86. Harald het altesaam 144,1 km gedrift. Ons eie Jesse Adams het daai rekord behoorlik oorskry met 168,5 km en altesaam 1 000 rondtes, waarvan 48 afgekeur is om ʼn amptelike totaal van 952 rondtes aan te teken.
Toyota en Adams het hul dank uitgespreek teenoor Stigworx, Hallspeed, ATS Motorsport Supplies, Hearing Protection and Communication, Gerotek en al die amptenare en tydhouers wat by die poging betrokke was.