Video en foto’s: Verreweg die beste 4×4

Die Ford Ranger Raptor. Foto: Verskaf

Die vorige Ford Ranger was nie my gunsteling-bakkie nie.

Die ratkas se verhoudings was vir my uit en het die hele ervaring vir my bederf. Onlangs het Ford hul nuwe Ranger gewys met ʼn enkel of tweelingturbo 2,0 viersilinderdiesel. Die nuwe Ranger het ook ʼn tienspoed ratkas en die resultate is puik. Die Ranger 2.0SiT 4×4 outo teen R574 000 is ʼn ware winskoop in my oë.

Toe hoor ons van die Raptor wat hier in Suid-Afrika gebou gaan word. Daar is R3 miljard belê om die Silverton-aanleg aan te pas sodat die Raptor in die lyn kan pas. Ek hoor nou al die argumente dat dit net ʼn Ranger is met bietjie vering en plastiek grimering … dit kan nie verder van die waarheid wees nie.

Die Ford Ranger Raptor. Foto: Verskaf

Die Ranger Raptor is ʼn perd van ʼn heel ander kleur. Die agterste vering is kronkelvere geleen by die Everest. Die kronkelveertorings waarin die vere pas is geskuif van binne die leerraam na buite – dit gee beter artikulasie. Die Raptor het 2,5” Fox-skokbrekers wat Ford duisende ure aan spandeer het om net reg te kalibreer – en die eindproduk is uiters puik. Om hantering en 4×4-vernuf nóg te verbeter het Ford ʼn Watts Link op die agterste dryfas geïnstalleer om horisontale beweging op die dryfas te elimineer. Daar is swaardiensremme ook; dubbelsuierremknypers om die hele kaboedel te stop. Daar is ʼn 2,3 mm stampplaat onder die enjin en swaardiens sleephakke voor en agter.

Ford het met BF Goodrich hande gevat en ʼn band pasgemaak vir die Raptor.

Die Ford Ranger Raptor. Foto: Verskaf

Daar het 12 Raptors vir drie dae drie verskillende take aangedurf. Eintlik vier op die eerste dag, maar dís gekanselleer om veiligheidsredes. Die eerste taak was om die Raptor in sy Baja-rymodus te drift om ʼn baan wat uitgemerk is op die soutpan. Reg – so die Raptor kan drift. Die tweede taak was om die duinroete te ry by Goerapan. Met die kwik by 35 grade en sagte duinsand kan ek sê kombinasie van die Raptor se bande en vering maak kinderspeletjies van duine. Ons het net een keer vasgesit heel bo by redelike tawwe duin. Met vastrapplate is ons in ʼn japtrap uit.

Die derde uitdaging was een wat so ʼn bietjie met my kop gesmokkel het. By die meeste bekendstellings word die media mooi gevra om versigtig te wees en enige skade te probeer vermy. Nie Ford dié keer nie. Ons het ʼn tydren tipe baan gery. Dit is Ford wat sê – ja, Brendon – vat ons splinternuwe R790 000 bakkie, en ry hom so vinnig as wat jy kan om ʼn baan. Oukei. Toe hulle ons die roete wys – kon my oë nie glo wat ek sien nie.

Die Ford Ranger Raptor. Foto: Verskaf

Hier is ʼn redelike sprong reg voor ons. Ons slaat hom seker teen so 120 km/h … soveel só dat my rygenoot se water skoon uit die bekerhouer spring. Nie 100 m verder nie is ʼn 120 grade links draai … ons doen nog 120 km/h. My kop sê – daar is geen manier nie. Nietemin – ons is ʼn paar keer om die baan, kloks- en antikloksgewys. Toe kom Gareth … Ford se “nie so mak” renjaer. Om 100 m van ʼn draai teen 140 km/h op die remme te klim en die draai te maak, sonder om vir ʼn week lank te rol is uiters indrukwekkend.

Daar is geen, maar geen ander standaard bakkie wat dié tipe straf kan hanteer sonder om óf te breek óf ʼn verskriklike ongeluk te veroorsaak nie. Die enigste skade was een pap wiel op dag een … dis dit. Ek is regtig jammer as ek bietjie oorgretig klink – maar dan en wan kom daar ʼn voertuig wat die hele segment op sy kop draai … die Ford Ranger Raptor is presies daai voertuig. As jy van 4×4 hou … en 4×4-reistogte deur Suider-Afrika, Namibië, Mosambiek en dies meer, kan ek aan geen ander voertuig dink wat so bekwaam dog gemaklik gaan wees nie soos die Raptor.

Die Ford Ranger Raptor. Foto: Verskaf

Die Raptor word deur Ford se nuwe 2.0BiT viersilindertweelingturbodieselenjin aangedryf deur die selfde tienspoed outokas as wat in die Ranger te vinde is. Die enjin bied 157 kW en 500 Nm. Daar is laestrek vir die stadiger 4×4-hindernisse en ses rymodusse. Gewoon, Sport, Gras/ Grond/ Sneeu, Modder/ Sand, Klip en Baja … die Baja-modus trek die stabiliteitsbeheer genoeg terug sodat ʼn mens met die Raptor kan mal gaan waar daar spasie is, sy stert mooi laat uitswaai sonder dat dinge te ver gaan. Die Raptor is elektronies beperk tot 178 km/h weens die bande se spoedbeperking. Nie dat 180 km/h enigsins ʼn beperking is in ʼn reusedubbelkajuit nie.

So … is daar enige probleme? Hier waar ek nou sit – nee. Die spesifikasievlak is hemelhoog. Ek verkies die Raptor se meters bó dié op die Ranger. Die navigasie het Tracks4Africa se kaarte reeds as standaard gelaai. Die trappies is soliede ystereenhede wat direk aan die leerraam gemonteer is – so dit sal as rotsglystawe kan dien. Die grondvryhoote is 50 mm hoër as op Ranger met 281 mm.

As ek nou heeltemal gek is en iets móét vind, wil ek in die volgende weergawe ʼn wilde enjin sien. Nou dat ek weet wat die onderstel kan hanteer soek ek ʼn Raptor RS met Amerika se V6 EcoBoost enjin…. Tot dán – dié een … in blou, asseblief.

Die Raptor lyk só:

Ford Ranger Raptor 2.0 BiT 10 spd outo157 kW/ 500 Nm8.3 ℓ/ 100 kmR786 400

Die Raptor word gedek deur Ford se 4 jaar/ 120 000 km waarborg en 6 jaar/ 90 000 km diensplan.

Ons sal weer tyd met die Raptor deurbring en hom dán teen sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Netso ·

Dis baie intesant om te lees. Dis seker nie lank voor ñ dubbel-kajuit ñ miljoen Rand kos nie. Ek het in 2004 my eerste een nuut gekoop @R240k 2014 was dit reeds dubbel die prys. Dit bly ñ steeds my gunsteling voertuie om te ry en moet sê ek ook oor die draad begin kyk na iets anders as Toyota omdat hulle politiek by ñ handelsnaam intrêk.

Frank ·

Jou lekka deng!! Weet egter nie hoe jy so voertuig kan bekostig as jy nie reeds in die mark is nie. Daarmee bedoel ek iets redelik duursaam hê om in te ruil of te verkoop nie.
Sal maar bly aankarring met my ou Golfie. Nie dat ek nie dankbaar is dat ek wel wiele het nie!!

marco polo ·

Die Amerikaners het ‘n gesegde wat lui: ‘There is only one thing better than cubic inches, …more cubic inches!’ Sela.
Brandon, ek verstaan jou entoesiasme, maar kom ons kyk hoe lyk hy na 100,000km, nuwe goed is nie veronderstel om te breek nie.

Marius Dobson ·

Wonder maar net wat sou ou Hendry Ford gesê het as hy die outjie vir n spin kon vat

Ben Niemand ·

My naam is op die waglys en ek kan nie wag nie! (Ja, dis vrek duur vir ‘n bakkie, maar teen ‘n Land Cruiser Prado is hy baie mededinged geprys…)

Gys ·

Dit sal interessant wees om te sien of die rebelle van Niger, Soedan en Tsjad hulle Cruisers vir die Raptor gaan verruil.
Indien nie, sou ek sê die Cruiser is nog steeds die taaiste bakkie, alhoewel nie die gemaklikste, ligste op brandstof of vinnigste nie.

Chris Ws ·

Nou moet Ford net ‘n tydren weergawe vir die Woolridge broers beskikbaar stel.Dit sal interessant wees!

ZJ ·

Jy koop net n Triton as jy nie geld het vir n kwaliteit bakkie nie. Hulle is maar die minderheid op die pad indien daar enige is.

Ra Amon Khan ·

.
.
Gaan hy kan 340 000 kilometer opsit in 22 jaar sonder dat iets meganies of elektries breek…(behalwe twee gloeilampe in 22 jaar,van al die grondpad)…net petrol en olie gebruik,alles verder soos central locking,aircon en elektriese ruite als nog werk?….en elke Desember 7 000 kilometer ry op toer ?…..kom ons praat later weer…
.
.

Ra Amon Khan ·

….en ek het hom (97’Pajero 3.5 LWB) 3de hands gekoop in 2004 waar die vorige eienaars hom gery het sonder om te diens.
.
.

Anoniem ·

Ek kan dit net nie regverdig om soveel vir ‘n 2 liter diesel ryding te betaal nie. Die petrolkoppe kan sekerlik iets uitwerk in 3 of 4 liter V6 konfigurasie?

anton ·

ZJ……Hoe lekker laat jy my nou lag!!!
Ford n kwaliteits bakkie??? Dink hulle is dalk net bokant die GWM.
Ook maar met min te vrede……

Kiewiet ·

Anton ek glo nie jy het al enige oordentlike ryding in jou lewe besit nie. Wat nog te se een te kan bekostig. As jou grootste wens is om net een keer in jou lewe in een te ry. Gaan vra vir Ford om jou vir in toets bestuur te vat in die RAPTOR,

Bosbok ·

Moet hom net nooit verkoop nie, jy gaan niks vir hom kry nie. Geniet die raptors manne. Hou net die fox shock mountings dop agter wat laer is as die agterwiel se middelpunt. Julle gaan hulle af ry in die bos en klippe. Weereens geniet hulle terwyl jy hom het!

Kiewiet ·

Bosbok. Jy het seker nie die Raptor se padtoets gelees nie. Daar is geen ander Bakkie wat die straf sal kan hanteer nie. Sonder om iets af te breek of in ongeluk te veroorsaak nie.

Bosbok ·

Ek ry baie op Goerapan rond en het allea daar al gery. Dis net sand en geen klippe nie. Lees die thread boet. Dis soos ‘n pad toets. Nie ‘n bos en berge klip toets nie!!

SjN ·

Baie bly daar kom goeie kompetisie vir die politieke handelsname, die voertuig het reeds al die fabrieks vervaardige komponente wat standaard is en hoef nie eens old man schocks by een of ander 4 x4 shop te laat installeer vir beter rygerief nie, geluk met die produk en alle voorspoed.

Wynand ·

Ek gaan verseker my Hilux inruil op die goekoper Ranger. Kan nie wag nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.