Video: ʼn Legendariese Toyota?

Die Toyota GR Supra. (Foto: Verskaf)

In die vroeë tagtigerjare was Toyota aan die brand. Hulle het lekker rygoed gehad soos die Conquest RSi en die Corolla Twincam. Die Celica Supra is in 1978 bekendgestel. Al het ons bitter min van die eerste en tweede generasie voertuie hier in Suid-Afrika gesien, was dit wel ʼn legende in wording.

In 1993 het die vierde generasie Toyota Supra internasionaal sy buiging gemaak. Ongelukkig was Suid-Afrika nie regtig deel van “internasionaal” dáái tyd nie. In 2001 het Vin Diesel en Paul Walker die Toyota Supra aan ʼn jong leek soos ek bekendgemaak. Skielik was die hele wêreld gaande oor die drie vinnige Japannese sportkoepees … Toyota se Supra, Mazda se RX-7 en Nissan se GT-R. As mens op YouTube gaan rondkrap, is daar talle video’s oor Supras wat oor die duisend perdekrag stoot! ʼn Duisend! Die 2JZ-enjin was toe ʼn 3,0- turboaangejaagde inlynsessilinderenjin. Dis nie die belangrike deel nie. Wat mense toe met daai goed aangevang het, is wat die Supra legendaries gemaak het.

Die Toyota GR Supra. (Foto: Verskaf)

In 2002 is die laaste van die vierde generasie Supra vervaardig. Toyota was toe op sy afwaartse kurwe in terme van sportmotors en alle hoop vir die herlewing van die Supra maar vaag. Te danke aan Akio Toyoda, Toyota se president, en die sukses van die Toyota 86 het die idee van ʼn Supra in samewerking met BMW posgevat. BMW sou die afslaandak-Z4 bou, en Toyota die koepee-Supra.

Glo my, BMW is nie slegte mense om in die bed mee te wees nie. Ek dink die ingenieurs het hulle puik van hul taak gekwyt. Ek het nog nie die Z4 gery nie … ons kry hom binnekort, maar die Supra is vir my 90% daar.

Die nuwe Supra het steeds ʼn 3,0- turboaangejaagde inlynsessilinderenjin. Die nuwe enjin bied op papier 250 kW en 500 Nm. Hy sal hol van 0–100 km/h in ʼn ratse 4,3 sekondes en is beperk tot 250 km/h. Ek sê op papier, want die voertuig voel baie sterker as 250 kW van agter die stuur.

Die Toyota GR Supra. (Foto: Verskaf)

Op die pad reis die Supra heerlik. Waar dinge vir my nog aandag kort, is as mens regtigwaar begin vinnig ry op ʼn ondeunde pad. My argument is – kopers wat ʼn miljoen bokke op die tafel neergesit het, gaan met hul Supra vinnig ry waar hulle plek kry. Die probleem is dat die stuur verskriklik sensitief is, soveel só dat dit die kar benoud laat voel. Verder word die stuur beïnvloed deur die agterste as op die een of ander manier.

Ek doen toe rondtes met Giniel de Villiers om die Aldo Scribante-renbaan in Port Elizabeth, en ek verduidelik vir hom wat ek voel. Hy sê toe ook – ja, hy voel dit en stem saam, in ʼn padvoertuig is dit nie altyd ʼn probleem nie, maar as dit sy renmotor was, sou hy dit wou reg hê. Nou sit ek met ʼn tweestryd. Die Supra is ʼn sportmotor. Hy is gemaak om vinnig te ry. Die enigste probleem is: as mens regtig begin jaag, dan voel hy nie heeltemal reg nie, en dit maak mens bang agter die stuur. Sodra jy bang is, ry jy bo jou vermoë, en dan kan daar baie groot probleme kom.

Die Toyota GR Supra. (Foto: Verskaf)

Die tweede dingetjie waaroor ek effe spyt is, en van die ander motorjoernaliste ook – is die hoeveelheid van die binneruim wat net só oorgedra is van die Z4. Nou het ek nóg ʼn tweestryd. Die inligtingstelsel, skerm en so meer is alles BMW. Maar dit is nie sleg nie. Die gemiddelde Supra-koper gaan nie eens weet dit is BMW-onderdele nie, so is dit werklik ʼn probleem? Ek glo nie.

Dit bring my by die beste deel van die Supra. Dit lyk glad nie soos ʼn BMW nie. Die Supra is uniek. Dit is asemrowend mooi en die hantering om ʼn renbaan is fantasties. Ons motormanne dink regtig ons kan goed ry – dán klim jy in saam met Giniel, en vinnig besef jy … jy moet eerder met jou Matchbox-karretjies gaan speel as die groot manne by is.

Die Toyota GR Supra. (Foto: Verskaf)

Die Supra gaan in beperkte getalle beskikbaar wees. Toyota Suid-Afrika het 200 vir die res van 2019 en getalle vir 2020 is nog nie vasgemaak nie. Indien jy nuuskierig is oor die Supra – gaan sit passasier vir ʼn paar rondtes van Kyalami saam met die manne wat kan by Festival of Motoring van 22 tot 25 Augustus.

Koop jou kaartjies hier: https://festivalofmotoring.howler.co.za/organisers/4998.

Kry meer inligting oor die Supra hier: https://www.toyota.co.za/ranges/supra.

Die Supra-reeks lyk só:

Toyota GR Supra TrackR953 000
Toyota GR Supra (Prominent Red)R1 072 300
Toyota GR Supra (Metaalverf)R1 082 300
Toyota GR Supra (Matte Grey)R1 092 300

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg en 5 dienste/100 000 km-diensplan. Die GR Supra Track-weergawe is slegs in Prominent Red beskikbaar.

Ons sal weer ʼn kort tydjie met die Supra deurbring. Ons sal hom dán teen sy mededingers vergelyk en sien hoe hy hom in die daaglikse roetine gedra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.