Video’s: Só vaar SA se gewildste motors in veiligheidstoetse

Volkswagen Polo Vivo (Foto: ‘n Skermskoot uit die video)

Botsingtoetse is op Suid-Afrika se vyf gewildste intreevlakmotors gedoen om hul algemene veiligheid te toets.

Die toetse is deur Global NCAP en die Automobiel Assosiasie (AA) van Suid-Afrika gedoen as deel van sy Safer Cars for Africa-veldtog wat ten doel het om van die gewildste passasiervoertuie onafhanklik te assesseer en aan veiligheidstoetse te onderwerp.

Dié veldtog toets die algehele veiligheid van die motors wat onder meer insluit tot watter mate passasiers in ʼn hoë-impak-botsing sou veilig wees en hoe dié voertuig in ʼn botsing sou vaar.

Die eerste toetse is gedoen op Suid-Afrika se gewildste luikrugvoertuie wat insluit die Volkswagen Polo Vivo, die Datsun Go+, Toyota Etios, die Renault Sandero en die Chery QQ3. Die intreevlakmodel van elke voertuig het die toets ondergaan.

Volgens AA tel dié motors vir sowat 65% van alle voertuie in die luikrug-afdeling wat in die vorige boekjaar in Suid-Afrika verkoop is. Collins Khumalo, AA se uitvoerende hoof, sê dié veldtog is daarop gemik om bewusmaking oor die belangrikheid van padveiligheid onder bestuurders se aandag te bring.

“Ons glo verbruikers het die reg om te weet hoe die motors wat hulle graag wil koop in veiligheidstoetse sal vaar. Hierdie uitslae is noodsaaklik om die publiek oor padveiligheid te leer en om gebruikers te bemagtig om ingeligte besluite te maak,” het hy gesê.

In dié toetse het Global NCAP ʼn aparte punt toegeken vir die veiligheid van babas in elke voertuig om sodoende die veiligheid van die motor se agterste sitplekke vas te stel. Die toets het onder meer ook gekyk tot watter mate babas in motorstoeltjies veilig sou wees ten tyde van ʼn botsing.

Die uitslag van die toetse het vasgestel dat sommige van die motors se veiligheidsgordels nie pas by die motorstoeltjies nie en dus ʼn risiko vir veiligheid veroorsaak. Volgens Global NCAP is dit heeltemal onveilig om ʼn kind op die agterste sitplekke van ʼn Chery QQ3 en ʼn Datsun Go+ te vervoer.

Só het die voertuie gevaar

Toyota Etios

Die Etios het vierster-gradering vir veiligheid gekry in die toets wat ʼn botsing reg van voor teen 64 km/h gemeet het. Die voertuig het driester-gradering gekry vir die veiligheid van ʼn kind in ʼn stoeltjie. Die uitslag het vasgestel dat die struktuur van die voertuig stabiel is en dat die voertuig goeie veiligheid aan passasiers bied.

Renault Sandero

Die Sandero het ʼn driester-gradering vir veiligheid gekry in die toets wat ʼn botsing reg van voor teen 64 km/h gemeet het. Die voertuig het vierster-gradering gekry vir die veiligheid van ʼn kind in ʼn stoeltjie. Die struktuur is as stabiel beskryf en die algehele veiligheid van die motor was aanvaarbaar.

Volkswagen Polo Vivo

Die Vivo het ʼn driester-gradering vir veiligheid gekry in die toets wat ʼn botsing reg van voor teen 64 km/h gemeet het. Die voertuig het ook ʼn driester-gradering gekry vir die veiligheid van ʼn kind in ʼn kinderstoeltjie. Die struktuur is as stabiel beskryf en die algehele veiligheid van die motor was aanvaarbaar.

Datsun GO+

Die GO+ het ʼn eenster-gradering gekry in die toets wat ʼn botsing reg van voor teen 64 km/h gemeet het. Die voertuig het ʼn tweester-gradering gekry vir die veiligheid van ʼn kind in ʼn stoeltjie. Hoewel die motor ʼn stuurwiellugsak gehad het, het die uitslag vasgestel dat die bestuurder in ʼn hoë-impak-botsing steeds beserings op sy bors sal opdoen. Die struktuur is as onstabiel beskryf. Die intreevlakvoertuig het nie ʼn lugsak vir die passasier nie.

Chery QQ3

Die QQ3 het nulster-gradering vir veiligheid gekry in die toets wat ʼn botsing reg van voor teen 64 km/h gemeet het. Beserings aan die bestuurder se kop en bors is kommerwekkend. Die voertuig het ook nulster-gradering gekry vir die veiligheid van ʼn kind in ʼn stoeltjie. Dié voertuig het ook nie ʼn lugsak vir  ʼn passasier nie.

Kyk hier na die video’s van hoe die voertuie gevaar het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Bekommerd ·

En dan dink party mense dit is veilig om jou kleintjie op die voorste sitplek te laat staan……

Dina Dadswell ·

Julle stories is deurmekaar Bo se julle die Vivo is onveilig…. Vir n baba stoel. En onder waar hy apart beskryf word is hy weer aanvaarbaar…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.