Voertuigverkope daal in Oktober

Argieffoto van 'n Volkswagen-advertensie

Argieffoto van ‘n Volkswagen-advertensie

Soos verwag, het die feitlik maandlange staking in die motorbedryf deur Suid-Afrika se militante vakbonde toe uiteindelik sy tol geëis met Oktober se verkope wat met 2.9% gedaal het teenoor Oktober verlede jaar. Terselfdertyd het uitvoere met 15.1% gedaal – juis op ‘n tyd dat die swak Rand Suid-Afrika in ‘n gunstige posisie sou geplaas het.

Wat nuwe motors betref, het verkope (40 102) met 1 860 eenhede gedaal. In ‘n mate is die situasie egter beredder deur die huurmark (rental) wat 17.4% van alle nuwe motors gekoop het.

Invoerders soos AMH (Associated Motor Holdings) en Porsche wat geen monteeraanlegte bedryf nie, het egter groot voordeel getrek uit hierdie gemors deur verkope dramaties uit te brei. Trouens, Porsche het 235 voertuie verkoop, teenoor 127 in September.

AMH verskaf steeds nie detail-inligting oor individuele verkope wat sy modelle betref nie.

Onder die Top Tien was daar ook enkele groot skuiwe met sommige vervaardigers wat plekke ruil met tradisionele mededingers.

Ondanks al hierdie woelinge is Toyota steeds Suid-Afrika se topverkoper met 10 698 eenhede (passasiersmotors en ligte handelsvoertuie), gevolg deur die Volkswagen-groep op 8 748.

Volkswagen-groep maak steeds staat op Polo Vivo (2 616), Golf 7 (577), Polo (1 920), terwyl die groep se Audi-komponent ook mooi presteer het met 437 eenhede van die A4 en 328 van die A3 wat van eienaar verwissel het.

Toyota se sterre was hoofsaaklik Hilux (2 894) wat weer eens bekroon is as die algehele topverkoper-voertuig, Etios (2 392), en Corolla/Auris (956). Die groep se nuwe RAV4 het self goed gevaar en 385 verkope aangeteken teenoor Ford Kuga se 240 eenhede.

In die derde plek is AMH wat 7 048 eenhede verkoop het.

Die vierde plek op die Top Tien-lys het ‘n nuwe wenner nadat General Motors plekke geruil het met aartsmededinger Ford. Die verskil van slegs 106 eenhede – 5 798 teenoor 5 692 – het GM in staat gestel om met ‘n kortkop te wen.

General Motors se wenners, weer eens, was Chev Spark (778), Captiva (253), Cruze (608) en Opel Astra GTC (110). Dit is ook noemenswaardig dat die Chev Trailblazer – wat gesien word as ‘n regstreekse mededinger vir Toyota se Fortuner – 383 eenhede geskuif het, terwyl die Fortuner 710 verkope gehad het. Terselfdertyd is dit verstommend dat Nissan se Pathfinder – wat in elke opsig die Fortuner se gelyke en in seker opsigte sy meerdere is – slegs 30 verkope kon behaal.

GM se verkope word sterk gesteun deur Isuzu KB (1 232) en Chev Ute (1 214).

Ford, wat nie gewoond is daaraan om in ons land ondergeskik aan GM te wees nie, sal waarskynlik met mag en krag terugveg om GM die komende maand verby te steek.

Ondanks sterk verkope van 1 516 deur sy gewilde Ford Ranger en ‘n beskeie 231 eenhede van die Mazda BT-50, het Ford grootliks gesteun op Figo (1 404), Fiesta (671) en Focus (485).

Nissan staan steeds stewig in die sesde plek met totale verkope van 4 307 eenhede teenoor 4 129 in September. Nissan se staatmakers bestaan hoofsaaklik uit Juke (349), Micra (272) en Almera (481 eenhede). Soos by talle ander Suid-Afrikaanse vervaardigers/invoerders is dit veral ligte handelsvoertuie (bakkies) wat letterlik en figuurlik die wa deur die drif moet sleep. Hier steun Nissan swaar op sy klein sub-eentonner NP200 (1 284), Hardbody (794) en Navara (157).

Die tradisionele gespook om die 7e en 8e plek tussen Mercedes-Benz en BMW het ook ‘n interessantheid opgelewer deurdat Mercedes sy mededinger “onttroon” het – en dit met ‘n gemaklike 2 960 eenhede teenoor BMW se 2 386.

Dit kan wees dat BMW se openlike weerstand teen die vakbonde se vernielsugtigheid daartoe gelei het dat die politically-connected (dis nou die ouens wat motors koop met belastingbetalers se geld) dalk besluit het om hulle lojaliteit te verskuif.

BMW het juis te kenne gegee dat hy geen verdere uitbreidings plaaslik beoog nie, en het intussen ‘n groot nuwe aanleg in Nigerië in bedryf gestel.

In die ‘stryd’ tussen BMW se 3-Reeks en Mercedes-Benz se C-Klas was BMW baas met 1 066 verkope teen Mercedes se 923.

Ander uitblinkers vir Mercedes-Benz was ook sy briljante nuwe CLA (416), E-klas (186) en M-klas (142).

Weer eens het BMW gesteun op sy 3-reeks, asook sy naasbeste topverkoper 1-reeks (496) en die gewilde nuwe 4-reeks (131).

Die laaste twee plekke onder die Top Tien het ook ‘n ligte verrassing opgelewer deurdat die enigste Franse vervaardiger op die lys, Renault, met 1 601 verkope gemaklik voor Honda (1 175) geëindig het.

Renault se goeie vertoning is hoofsaaklik te danke aan die nuwe Duster (442), Clio IV (377), wat ook ‘n Motor van die Jaar-finalis is, en die bekostigbare Sandero (651 eenhede).

Honda, wat in September 1 301 eenhede verkoop het, het ietwat teruggesak tot 1 175, maar word steeds in die prentjie gehou deur Brio (328), Ballade (315), Jazz (172) en CR-V (256 eenhede).

Noemenswaardig onder die ander rolspelers is Suzuki wat 451 eenhede verkoop het. Hiervan was 69 die oulike klein Jimny. Suzuki het egter hierdie voertuig heeltemal uit die mark geprys, met die gevolg dat slegs 69 eenhede verkoop is teenoor 111 in September. Vergelyk dit nou met Porsche se Cayenne, waarvan 124 eenhede van die hand gesit is en dit terwyl jy 5 Jimnys vir die prys van ‘n gemiddelde Cayenne kan koop.

Jaguar/Land Rover se verkope het ook skerp gedaal – vanaf 634 in September tot 476 eenhede in Oktober. Dit blyk ook dat die verbruikerswittebrood met die Freelander2 iets van die verlede is nadat September se syfers van 114 na 35 getuimel het.

Chrysler SA het goed gevaar met 804 verkope – veral danksy JEEP Compass (196) en Grand Cherokee (248). Selfs Chrysler se eienaars – die Fiat-groep – het heel skaflik gevaar met totale verkope van 444. Hier was die steunpilaar die Fiat 500 (364), terwyl 23 nuwe eienaars vir die groter 500L gestem het.

Ander invoerders wat die oog gevang het, is AMH se Mitsubishi-afdeling waar die uitstekende nuwe ASX al beter en beter verkoop. Getalle is nog nie groot nie, maar die ASX se 160 eenhede is beter as die syfers vir September (148). Die groep se Pajero Sport, wat dalkies net-net beter is as Toyota se Fortuner, het darem 115 nuwe base gekry.

Ander handelsmerke wat steeds sukkel is Nissan se luukse komponent (Infiniti) waarvan net 7 voertuie verkoop is. Of hierdie handelsmerk die mas gaan opkom teen Toyota se Lexus is te betwyfel. Lexus doen deesdae al hoe beter en het die afgelope maand 96 eenhede verkoop, net enkele eenhede minder as die 110 eenhede deur ‘n ander ikoniese Japanse handelsmerk, Subaru. Verblydend om te sien dat Subaru deesdae gereeld meer as 100 eenhede per maand doen.

Ek vermoed dat die Suid-Akrikaanse motorbedryf toenemend op invoere gaan staatmaak ten einde die militante vakbonde se mag te breek.

Geen internasionale vervaardigers, hetsy Duits, Amerikaans of Italiaans gaan onbepaald toelaat dat die stert die hond swaai nie. Alternatiewelik is outomatisering die bedryf se toekoms en sal ons toenemend sien dat voertuie deur robotte gehou gaan word.

Robotte doen hulle werk, brand nie ander (nie-stakende) robotte se motors uit nie en ly nie aan ‘n ons teen hulle-kompleks nie.

Die skrif is aan die muur vir die Suid-Afrikaanse motorbedryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.