Voertuigverkope daal skerp in Januarie

Foto: Pixabay

Vir die motorbedryf het die jaar 2018 met ʼn verkopebloedbad begin. Verkope van nuwe voertuie het met 4 498 eenhede gedaal tot 45 888, terwyl verkope van nuwe passasiersmotors ook nie te waffers was nie. In hierdie kategorie was die groottotaal van 32 642 ʼn hele 11,6% minder (4 266 eenhede) as in Januarie 2017.

Desondanks het markleiers soos Toyota (11 893) steeds goed gevaar danksy Hilux – weer eens die topverkoper met 2 695 eenhede – Corolla/Auris/Quest met 2 196 verkope en immergroen Fortuner op 1 318. RAV (871) het ook goed gevaar.

Steeds in die tweede plek onder die toptien, ná ʼn kortstondige onttroning deur Ford in Desember verlede jaar, het Volkswagen op 7 070 verkope goed teruggeveg met Polo Vivo op 2 862, Golf 7 op 805 verkope, en die puik Tiguan op 438 verkope en ʼn kortkop voor sy naaste teenstander, Hyundai se Tucson, waarvan 400 eenhede verkoop is.

Ford (4 869) bly oudergewoonte in die derde plek danksy Ranger op 2 489, EcoSport op 660 verkope en Figo op 619. Kuga is stadig maar seker besig om terug te kom in die mark met 81 eenhede wat nuwe tuistes gevind het, terwyl 56 kopers hulle beursies vir die Mustang uitgehaal het.

Nissan (4 400) bly in die vierde plek danksy sy algehele oorheersing van die sub-eentonnermark waar die NP200 op 1 585 verkope geskep het terwyl dit pap reën en niemand anders iets soortgelyks op die mark het nie. Ander Nissan-sterre was GO (489), X-Trail op 353 verkope en NP300 op 597. Navara, ondanks groot maar kortstondige mediageraas, het net 100 kopers se aandag getrek.

Hyundai staan sterk in die vyfde plek met ʼn totaal van 2 897 wat gebou is op die reeds vermelde Tucson (400), Grand i10 op 1 134  verkope, en Tucson se Creta-kleinboet het self puik gevaar met 380 verkope, terwyl die i20 altesaam 317 nuwe tuistes gevind het.

Renault, wat in Desember negende was, het dramaties verbeter met ʼn totaal van 1 929 – hoofsaaklik toe te skryf aan Sandero ll (325), Kwid met 664 verkope en Clio IV op 559.

In nommer sewe op die toptienlys is BMW wat met ʼn totaal van 1 856 verkope darem voor Mercedes-Benz (1 797) geplaas is. M-B gee nie individuele modelverkope deur nie, maar KIA, wat in die negende plek is (met 1 603) se toppresteerders is Rio (469), Sportage (168) en Motor van die Jaar-finalis Picanto op ʼn gawe 793 eenhede wat nuwe eienaars gekry het.

Die laaste plek behoort aan die opkomende Isuzu wat algehele verkope van 1 200 eenhede vir sy KB-reeks vermeld het. Die Opel-handelsmerk, wat voorheen deel van GM/Isuzu Trucks was, het 216 verkope vermeld.

En dan is daar die vervaardigers wat buite die toptienlys staan, maar steeds buite verhouding goed presteer. Hier word veral gedink aan Porsche se 99, Jaguar/Land Rover (506), en Peugeot (103) wat darem drie syfers gehaal het.

Mitsubishi behoort veel beter te vaar as sy 190-totaal, terwyl Suzuki (742) hard sal moet werk om op die Desembertotaal van 891 verkope te verbeter. Ironies ook dat Volvo se 130-totaal swaar steun op sy uitstekende (en peperduur) XC90 wat na 34 nuwe eienaars gegaan het. Na verwagting sal die nuwe XC40 Volvo se vertoning die syfers dramaties ten goede beïnvloed.

Ondanks die swak maand word verwag dat 2018 se verkope uiteindelik 2% beter sal wees as verlede jaar se syfers, terwyl uitvoer na verwagting op 366 050 eenhede te staan sal kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Koos1 ·

Is daar enige beinvloeding oor die getalle, omdat mense nuwe voertuie koop in Desember maand maar die voertuie eers in Januarie registreer? My logika sê vir my dat die getalle van vervaardigers kom en dat dit nie beinvloed kan word nie, maar in die motor bedryf sal mens nooit weet nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.