Voertuigverkope daal skerp; uitvoere verbeter

Die Toyota Hilux Dakar (Foto: Toyota)

Januarie 2019 is ʼn maand wat baie motorvervaardigers gou sal wil vergeet.

Dit na die nuus dat passasiersmotorverkope – teenoor Januarie 2018 – met 3 512 eenhede (10%) afgeneem het, terwyl ligte handelsvoertuie – bakkies en paneelwaens – steeds goed vertoon het. Laasgenoemde kategorie het altesaam 11 681 verkope aangeteken – twee meer as 12 maande gelede.

Totale verkope van 42 374 eenhede was ʼn afname van 3 398 eenhede (7,4%), terwyl dit ook bekend gemaak is dat die verhuringsmark vir bykans 20 persent van alle verkope verantwoordelik was.

Die tendens is dus duidelik: Toerisme-aanvraag styg steeds en daarmee saam die gebruikte motor-mark wat deel is hiervan, terwyl individuele eienaarskap besig is om te krimp.

Onder die tien top-vervaardigers was daar vir gebruiklike wenners soos Toyota en Volkswagen steeds goeie nuus, terwyl die oorblywende agt “musical chairs” gespeel het.

Die nuwe Toyota Fortuner (Foto: Toyota)

Oudergewoonte was Toyota weer eens heel bo met ʼn indrukwekkende totaal van 11 254 eenhede wat meer as 2 000 eenhede beter was as in Desember verlede jaar. Soos dit enige goeie, bemarkingsgerigte maatskappy betaam, ry Toyota op die rug van sy Dakar-triomf, en is sy Hilux (2 794) steeds die algehele top-verkoper, gevolg deur besondere prestasies deur Corolla Auris/Quest (2 202), Fortuner met 1 000 verkope en Quantum (1 281).

In die tweede plek het Volkswagen (7 318) ook goed gevaar met nagenoeg 700 eenhede meer as in Desember, en ook die onderskeiding as top-verkoper onder passasiersmotors. Hierdie prestasie behoort aan Polo (2 512), gevolg deur Polo Vivo (2 461). Die groep se Tiguan-sportnuts het ook goed gevaar met 448 verkope wat net effens swakker was as Toyota RAV se 476 verkope, maar aansienlik beter as Hyundai se Tucson op ʼn beskeie 225 verkope.

DIe nuwe Ford Ranger Raptor (Foto: Verskaf)

Vir Ford was Januarie ook ʼn goeie maand – behalwe vir die Kuga-storie wat maar net nie wil gaan lê nie. Met ʼn totaal van 4 473 verkope, ʼn verbetering van meer as ʼn duisend eenhede vir Desember, het Ford weer sy gebruiklike derde plek algeheel “herower” ten koste van Nissan wat hom in Desember van die podium afgehaal het. Soos gebruiklik, het Ford staatgemaak op Ranger (2 1 94), EcoSport (679) en Figo op 669 verkope om sy kolfbeurt aansien te gee.

Nissan (3 910) sal dalk teleurgesteld wees om terug te sak na sy gebruiklike vierde plek algeheel, maar dit was darem vier eenhede meer as in Desember – danksy NP200 (1 483), NP300 (529), en Datsun GO op 560 verkope. Rooi liggies begin egter flikker vir Qashqai (171) en X-Trail (144). Dalk is dit tyd vir, soos die Duitsers dit so mooi in Neudeutsch stel, “ein Facelift”!

Die nuwe Hyundai Grand i10 (Foto: Hyundai)

Ondanks ʼn geringe verkopedaling (2 797 teenoor 2 839 in Desember) oor sy vyfde plek (een beter as in Desember) ten koste van Renault, sal Hyundai heel tevrede wees met goeie vertonings deur Grand i10 (867), i20 op 715 verkope en die H100 bakkie (283). Hyundai se Motor van die Jaar-finalis (Kona) sukkel maar met ʼn  beskeie 102 eenhede wat verkoop is.

Vir Renault is Januarie 2019 ʼn maand wil hulle gou sal wil vergeet. Ná Desember 2018 se skitterende 2 934 verkope en die vyfde plek onder die top-tien, het verkope gedaal tot 1 443 eenhede en die sesde plek. Gelukkig het Kwid (519), Duster (220) en Sandero II (293) goeie verkopesyfers aangeteken.

Isuzu (sewende en 1 359 verkope) het darem een plek opgeskuif ondanks ʼn tien eenhede-daling teenoor Desember. Isuzu het ʼn beperkte modelreeks en steun dus sterk op D-Max (821), KB (271) en MU-X  met 38 verkope.

Die KIA Sportage 1.6 GDI Ignite. Foto: Verskaf

KIA bly in die negende plek algeheel met Desember se totaal van 1 159 wat tot 1 224 gegroei het danksy Picanto (612) en Rio (316). KIA se gewilde Sportage kon net 165 kopers oortuig.

Aanhangers van die Driepunt-ster sal verheug wees dat Mercedes-Benz darem weer die lys gehaal het met 1 203 verkope na ʼn sukkel-Desember toe hulle net 996 eenhede kon verhandel. Omdat Mercedes-Benz nie individuele modelverkope bekendmaak nie, sal ons nooit weet hoeveel, indien enige, van hulle X-klas dubbelkajuitbakkies hulle verkoop nie.

Hou gerus ook ʼn ogie op Suzuki Auto (1 011) wat, vermoed ek, binne ses maande by die uitgelese top tien-groep gaan aansluit – aangehelp deur die briljante nuwe Jimny se 116 verkope en ʼn ellelange waglys.

Die Jaguar E-Pace (Foto: Jaguar)

Afgesien van die sogenaamde top-tien, is daar ook altyd roeringe onder die ander vervaardigers/invoerders. So slaag Jaguar (121) steeds daarin om beter te vaar as Lexus (62), terwyl Jaguar/Land Rover (391) tot beter in staat is. Volvo (181) sal ook kennis neem van flikkerende rooi liggies, veral gedagtig daaraan dat sy Motor van die Jaar-finalis – die XC40 – maar ʼn skrale 11 kopers beïndruk het.

Intussen het selfs Subaru, wat dikwels sukkel om by drie syfers uit te kom, ʼn heel skaflike 131 verkope aangeteken, terwyl die superrykes lustig voortgekoop het onder hul gunsteling-handelsmerke soos Bentley (6), Lamborghini (5), Ferrari (5), Maserati (3), Porsche (97) en Audi R8 met vier verkope.

Intussen verwag ekonome dat die bedryf sal baat by ʼn meer stabiele politieke omgewing na die verkiesing en redelik stabiele nuwe voertuigpryse wat op 2,5% aansienlik minder as die huidige inflasiekoers is.

Die Volkswagen Polo GTi. Foto: Verskaf

Top-tien passasiersmotors

  1. Volkswagen Polo 2 512
  2. Volkswagen Polo Vivo 2 461
  3. Toyota Corolla Auris/Quest 2 202
  4. Toyota Fortuner 1 000
  5. Hyundai Grand i10 867
  6. Hyundai i20 715
  7. Toyota Etios 698
  8. Ford EcoSport 679
  9. Ford Figo 669
  10. KIA Picanto 612

Isuzu KB 250 X-Rider (Foto: Isuzu)

Top-tien ligte handelsvoertuie

  1. Toyota Hilux 2 794
  2. Ford Ranger 2 194
  3. Nissan NP200 1 483
  4. Toyota Quantum 1 281
  5. Isuzu 1 092
  6. Nissan NP300 529
  7. Hyundai H100
  8. Mahindra Scorpio 266
  9. Volkswagen Amarok 231
  10. Toyota Land Cruiser PU 228

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

anton ·

Ja Ford vaar ook maar net goed omrede hulle amper hulle Ranger/Danger reeks amper verniet weggee!!!
Al gee hulle my n Ford verniet, wil ek hom nie he. Ek het darm ook my trots.

Piet Pompies ·

Ford eienaars het nie Tracing devices nodig….. jy volg net die olie streep!

Nou Het jy dit ·

Piet Pompies—Jy spot nou met my Hilux as dit by olie lekke kom. Sies vir jou.

Willie ·

Andre ek stem 100% saam. Tog is daar baie sogenaamde Ford eienaar wat die rubbish koop. Ek is te bang nounou slaat die ding aan die brand of iets, nevermind die olielekke !

Piet Pompies ·

Dit is ook so dat die verkope van goedkoper modelle binne die reekse meer geword, met ander woorde, dit is nie net die eenhede wat jaar tot jaar verminder het, die totale inkomste het ook verminder.
Persoonlik dink ek ook dat ons in SA te veel betaal vir nuwe voertuie wat bydrae lewer tot die sterfte syfer op ons paaie omdat verbruikers net 2de handse voertuie kan bekostig.
In Europe word verwys na “under 5000 Euro”cars. Vervaardigers streef daarna om deur koste doeltreffendheid nuwe modelle bekend te stel aan verbruikers onder die bedrag. In SA word prys net verhoog…

Anoniem ·

Al die nuwe bakkies is te duur vir my. Ek en my ou 1999 Isuzu sal mekaar maar moet aan die gang hou.

Willie ·

Nuwe karre in SA is belaglik duur. Die probleem is die 30 middelmanne wat skep voordat die verbruiker dit te koop kry, Te veel belasting vir ons useless regering, en dan verseker hulle ook nog ‘n steady verlies van betrekkings.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.