Voertuigverkope daal steeds

karre verkoopOndanks bangmaakstories wat voortgespruit het uit die bykans vier weke lange staking in die staal- en ingenieursbedryf, het voertuigverkope in Julie slegs ‘n geringe daling van 891 eenhede (-1.5%) getoon, gemeet teenoor Julie 2013, vir ‘n totaal van 57 670 eenhede.

Met die hulp van stewige aankope deur verhuringsmaatskappye, het die passasiersmotorverkope met slegs 1% gedaal tot 39 945 eenhede. Dit is slegs 418 eenhede minder as in Julie 2013.

Ligte handelsvoertuie, bakkies en minibusse, daarenteen, het met 2% gedaal tot 15 081, maar uitvoergetalle het teleurstellend met 16.1% gedaal tot 4 364 eenhede wat nie verskeep kon word nie.

In die gebruiklike Top Tien-kategorie was dit ‘n ware geskommel vir ‘n plek. Weliswaar was Toyota weer eens Suid-Afrika se topverkoper met ‘n stewige 11 347 eenhede, gevolg deur Volkswagen op 9 798 en Associated Motor Holdings in die derde plek met 6 801 verkope.

AMH se verbetering was dan ook ten koste van Ford wat met 6 660 eenhede verkoop met nagenoeg 800 eenhede General Motors (5 821) om die vierde plek getroef het.

Nissan (3 824) bly steeds stewig in sy gebruiklike sesde plek, terwyl Mercedes-Benz (3 149) oudergewoonte BMW (2 196) uit die sewende plek onder die Top Tien hou.

Die enigste Franse presteerder, Renault, spog met 1 610 verkope en ‘n negende plek, en skuif daarmee ook sommer nog ‘n Japanner, Honda, terug tot in die tiende plek. Laasgenoemde het self nie te sleg gevaar nie en net duskant ‘n duisend eenhede (955) gedraai.

Onder die individuele uitblinkers het Toyota steeds staatgemaak op Hilux (3 117), Corolla/Auris/Quest (2 134) en Etios (1 618) om getalle op te maak. Maar selfs hierdie stewige vertoning kon nie verhinder nie dat Julie se topverkoper weer eens ‘n passasiersmotor, die Volkswagen Polo (3 330) was.

Ander uitblinkers vir Volkswagen was Polo Vivo (2 887), Golf 7 (563), Audi A3 (524) en Audi A4 (352).

AMH het oudergewoonte nie aangedui watter modelle in hulle stal goed presteer het nie.

Vir Ford het die Ranger (2 564), EcoSport (1 005), Figo (1 188) en Fiesta (614) die wa deur die drif gesleep. Die tweestryd tussen Ford Kuga (419) en Toyota se RAV4 (463) was nou wel in Toyota se guns, maar die stryd tussen hierdie twee gesogte modelle is nog lank nie verby nie.

General Motors se vyfde plek is hoofsaaklik te danke aan Isuzu KB (1 379), Chev Ute (1 297), en Spark (958). Hierbenewens begin die Opel-handelsnaam ook mooi terugkom met 311 verkope vir Meriva, Astra en Corsa.

Nissan het klaarblyklik die sesde plek sy eie gemaak, en sy redelike verkopesyfers is hoofsaaklik te danke aan NP200 (1 442), NP300 Hardbody (639), Qashqai (483) en Almera (342). Teleurstellend egter vir Nissan is dat sy luukse handelsnaam, Infiniti, na verkope van 66 eenhede in Junie tot 38 verlede maand teruggesak het. Hierteenoor het Toyota se Lexus in beide Junie en Julie 101 eenhede elke maand verkoop.

In die ‘Duitse tweestryd’ het Mercedes-Benz sy sewende plek hoofsaaklik te danke aan C-klas (1 377), M-klas se 190, A-klas (196), B-klas se 162, E-klas (129) en GLA met 160 verkope.

Benewens BMW se 3-reeks (981), het die 1-reeks ook nie te sleg gevaar nie (237), 4-reeks (201) en X3 (167). Die groep se MINI handelsmerk het egter wisselvallig vertoon met 106 verkope vir die Hatch, terwyl die Coupé (3), Clubman (1) en Roadster (2) maar pateties gevaar het.

Julie se negende plek behoort oudergewoonte aan Franse vervaardiger Renault, danksy Clio IV (437), Duster (317) en Sandero II (572). Met hierdie syfers het Renault dus weer eens Honda na die tiende plek afgedruk. Laasgenoemde het staatgemaak op Brio (408), Ballade (223) en CR-V (148) om die verkope bietjie aansien te gee.

Onder die vervaardigers/invoerders wat buite die Top Tien-groepering beweeg, het veral Chrysler (757) en Suzuki (650) goed gevaar. Hierdie Japanse handelsmerk sal egter kennis daarvan moet begin neem dat die daling in sy Jimny-verkope – 45 teenoor 101 in Junie – aandui dat voornemende kopers hierdie oulike klein 4X4 as te duur begin beskou.

Intussen sukkel Jaguar/Land Rover voort met dalende syfers van 482 totale verkope teenoor 540 in Junie. Net twee name het uitgeblink – Evoque (132) en Range Rover Sport (100) – ʼn duidelike aanduiding dat veral Limpopo politici weer lustig aan die koop is met belastingbetalers se geld.

Goeie nuus vir Porsche is dat sy Junie-verkope van 74 eenhede intussen aansienlik verbeter het tot 138 – danksy veral Cayenne (47) en die nuwe kompakte Macan (39).

Ander vervaardigers wat die oog gevang het sluit in Mitsubishi met 117 verkope op sy puik ASX en 96 nuwe kopers vir die kompakte intreevlak Mirage. Volvo sukkel egter en kon in Julie net 234 voertuie verkoop – 10 minder as in Junie.

Dit blyk dat plaaslike marktoestande steeds ‘n demper gaan plaas op verkope in die komende maande, hoofsaaklik te danke aan stygende rentekoerse en prysstygings bo die inflasiekoers. Daar word selfs geglo dat vanjaar se verkope 5% laer as 2013 se resultate sal wees .

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Philip ·

Ek wonder waar staan Mazda se verkope deesdae – hulle het regtig goeie voertuie, maar ek dink bemarking word glad nie, of baie swak, gedoen.

Johan ·

Baie goeie punt Philip. Bemarking is die problem – in Australie veg die Mazda 3 en Corolla kop-aan-kop vir die topverkoper titel. Tot einde Julie is Corolla net 21 eenhede voor Mazda 3. Australie is blykbaar die mark in die wereld waar Mazda se bemarking en diens die beste in die wereld is – hulle stuur mense van oraloor na Australie vir opleiding.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.