Voertuigverkope: Die top-10 vir Mei

Die nuwe Toyota Corolla (Foto: Toyota)

Die Suid-Afrikaanse voertuigbedryf bly lewenskragtig ondanks politieke onsekerheid en ʼn onstabiele internasionale olieprys wat negatief op plaaslike brandstofpryse inwerk.

Voertuigverkope (nuwe voertuie) in Mei vanjaar, volgens die Nasionale Motorvervaardigersvereniging (Naamsa), het ʼn geringe verbetering van 2,4% (1 022 eenhede) vir ʼn totaal van 42 984 voertuie aangeteken met ligte handelsvoertuie wat beter as die passasiersmotorafdeling gevaar het.

Onder die gebruiklike top-tien was Toyota weer eens baas met ʼn indrukwekkende totaal van 10 688 wat meer as 2 400 beter is as die vorige maand. Toyota se gebruiklike staatmakers was weer eens Hilux (3 338), gevolg deur Corolla/Auris/Quest (1 228) en die immer gewilde Fortuner met 1 102 verkope. Toyota se ander presteerders het bestaan uit Etios (908) en RAV met 705 verkope – aansienlik beter as Volkswagen se Tiguan wat op 532 verkope weer heelwat beter gevaar het as Hyundai Tucson se uiters teleurstellende 137 verkope.

Volkswagen (6 524) beklee steeds die tweede plek, maar wanneer uitvoere bygetel word, spog VW met meer as 16 000 voertuie wat in Uitenhage vervaardig is teenoor Toyota se nagenoeg 14 000.

Volkswagen maak, soos gewoonlik, staat op sy passasiersmotors, veral Polo (1 979) en Polo Vivo (verlede jaar se Polo) wat ook met uitstekende verkope (1 904) spog. Benewens die reeds vermelde Tiguan het Golf 7 ook mooi presteer met 347 voertuie wat nuwe huise gevind het. Aan die ligte handelskant sukkel Amarok (324) steeds, maar het darem beter gevaar as die Mahindra Scorpio Pik Up (188) wat in die jongste verlede die Amarok-verkope getroef het.

Steeds in die derde plek onder die top-tien, het Ford (4 063) mooi gevorder teenoor sy 3 570 verkope in April. Hierbenewens het die maatskappy ook 6 019 voertuie vir die uitvoermark gelewer. Ford se presteerders, benewens Ranger met 2 819 verkope, was Everest (406), Fiesta (333) en Mustang (56) wat waglysstatus geniet.

Met 4 100 verkope bly Nissan steeds in die vierde plek. Dit is ʼn verbetering van nagenoeg 600 eenhede op sy April-syfers en word toegeskryf aan NP200 (1 825), NP300 op 686 verkope, en Datsun GO waarvan 364 eenhede verkoop is.

Die eerste Koreaan onder die top tien, Hyundai (3 190), moet dankbaar wees vir sy Grand i10 (1 081) en ʼn blink prestasie van 700 verkope deur Creta. Selfs die H100-bakkie (263) vorder al hoe beter.

Mercedes-Benz (1 921) bly skugter oor individuele modelverkope maar het darem van agste tot die sese plek gevorder om by Renault oor te neem.

Renault is sewende met 1 781 verkope en skuif die sukkelende BMW uit hierdie gleuf. Vir die Franse invoerder is Kwid (712) en Sandero II (489) die uitblinkers, terwyl Duster (185) tot beter in staat behoort te wees.

Isuzu (1 665) vorder stadig maar seker met ʼn enkele model (KB) in sy arsenaal en skuif een plek op (agste) om beter te vaar as BMW wat met sy lang lys modelle (20, MINI ingesluit) aansukkel met 1 475 totale verkope.

Volkswagen (Foto: Facebook)

Dit beteken dat KIA, tans tiende met 1 276 verkope, die manne van München in sy visier het. KIA maak, soos altyd, staat op Picanto se gewildheid wat op 719 verkope neergekom het.

Onder die vervaardigers buite die top-tien-gradering het verskeie vervaardigers/invoerders rede tot kommer. Onder hulle is Subaru (85) en Peugeot op 125, terwyl Porsche (129) weer eens uitgeblink het, en Mazda (1 206) binne trefafstand van KIA se tiende plek is. Mazda se uitblinker is die CX-5 met 407 verkope.

Jaguar/Land Rover behoort ook beter te vaar as die 393 verkope wat toegeskryf word aan Range Rover Sport (109), en Discovery en Velar wat elk 56 verkope opgelewer het.

Ondanks al die onsekerhede wat die politieke toneel oorheers, verwag Naamsa dat die binnelandse mark redelik stabiel sal bly en dat veral uitvoere sterk sal toeneem – soos totale uitvoere van bykans 18 000 eenhede in Mei reeds begin aandui.

Top tien passasiervoertuie
Volkswagen Polo   1 979
Volkswagen Polo Vivo  1 904
Toyota Corolla/Auris/Quest   1 228
Toyota Fortuner   1 102
Hyundai Grand i10   1 081
Toyota Etios   908
KIA Picanto   719
Renault Kwid   712
Toyota RAV   705
Hyundai Creta   700

Top tien ligte handelsvoertuie 
Toyota Hilux   3 338
Ford Ranger  2 819
Nissan NP200  1 825
Toyota Quantum  1 482
Isuzu KB  1 298
Nissan NP300  686
Volkswagen Amarok  324
Hyundai H100  263
Mahindra Scorpio Pik Up  188
GWM Steed  173

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eish ·

Baie dankie vir n interressante aanbieding soos altyd met gepaste kommentaar.
Wat is fout met BMW se verkope? Volg dalk MB te duur?
Dan is die Amarok ook n totale disaster. Die manne word nou van die seuns geskei.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.