Voertuigverkope: Die top-10 vir September

Foto: Verskaf

Ondanks ʼn geringe afname in totale voertuigverkope – 957 eenhede (1,9%) vir ʼn totaal van 49 670 – het uitvoere weer eens tot die redding gekom met altesaam 36 341 voertuie wat in September vanjaar uitgevoer is.

Maar wat veral die oog gevang het, was dat die geringe afname in passasiersmotorverkope – 892 eenhede vir ʼn totaal van 32 786 – in ʼn groot mate teengewerk is deur die motorhuurbedryf wat vir 23,4% van hierdie totaal verantwoordelik was.

Hierteenoor het verkope van ligte handelsvoertuie (14 342) ietwat beter vertoon en was die verkope-daling net 168 eenhede (1,2%) laer as in September ʼn jaar gelede. Die totaal van 14 342 rus figuurlik grootliks op die skouers van Toyota se Hilux en Ford Ranger.

Van Hilux gepraat, Toyota is weer eens bo-aan die top-tien-lys met ʼn verstommende 12 351 in totaal wat 1 500 verkope beter is as Augustus se verkope. Hierbenewens is Toyota op die punt om sy ideaal van ʼn 25%-markaandeel te verwesenlik. Tans staan hierdie markleier op ʼn indrukwekkende 24,9% van alle voertuie wat in Suid-Afrika verkoop word.

Benewens die algehele top-verkoper met Hilux op 3 943, het Corolla/Auris/Quest ook presteer met 1 680 verkope, gevolg deur ʼn skitterende syfer van 1 345 vir Fortuner. Yaris het ook goed bygedra met 1 111 verkope, terwyl RAV se 291 maar sleg afsteek teen onder meer Volkswagen Tiguan se 565 verkope.

Die nuwe Volkswagen Polo Vivo (Foto: Volkswagen)

Oudergewoonte staan Volkswagen sterk in die tweede plek met 8 553 verkope wat 600 voertuie meer is as sy Augustus-verkope. Ondanks ʼn dramatiese prysverskil tussen Polo en die ou Polo wat as Vivo bemark word, verkies kopers steeds die hoër spesifikasie Polo met ʼn skitterende 3 866 totaal teenoor Vivo se 1 976 verkope. Selfs die Groep se duur Amarok het ietwat gevorder met 291 verkope teenoor Augustus se patetiese 181. Dit is darem dié keer net-net beter as Hyundai se H100 bakkie (290) en Mahindra Scorpio Pik Up (216).

Die derde plek behoort steeds aan Ford wie se 5 509 totaal ook nagenoeg 500 eenhede beter was as in Augustus. Ford se top-presteerder, soos altyd, was Ranger (3 016), ondersteun deur Fiesta met 837 verkope, Everest op 426, en Figo op 520 verkope. Hierdie totaal plaas Ford gemaklik voor Nissan (5 042) wat steeds in die vierde plek is danksy NP200 op 1 888 verkope, NP300 (622), en Datsun GO op 485 eenhede wat nuwe tuistes gevind het. Die immergroen X-Trail kon darem 364 verkope aanteken.

Hyundai, (2 949) het ietwat swakker gevaar as in Augustus, maar is steeds gemaklik in die vyfde plek danksy Grand i10 (1 049), i20 op 592 verkope en Creta wat na 370 nuwe eienaars gegaan het.

Renault se nuwe Duster. Foto: Verskaf

Die sesde plek in die top-tien behoort steeds aan Renault wat met 2 594 verkope ietwat stoom verloor het (gemeet aan Augustus), maar wat steeds gemaklik voor Mercedes-Benz in die getalle-wedloop is. Renault se sterre is oudergewoonte Kwid op 808 verkope, Clio IV op 677, en Duster met 373 verkope.

Mercedes-Benz bly in die sewende plek met ʼn totaal van 1 910 verkope, maar is steeds te skugter om individuele modelverkope bekend te maak.

Die laaste drie plekke in die top-tien-ranglys behoort onderskeidelik aan Isuzu (1 493) wat op sy KB-bakkies staatmaak. Laasgenoemde het 1 193 verkope aangeteken, terwyl die MU-X sportnuts darem 55 verkope bygedra het.

BMW (1 463) gee ook nie modelverkope deur nie, maar het darem een plek opgeskuif tot negende – ten koste van KIA (1 350) wie se verkope met 400 eenhede teenoor die Augustus-syfers gedaal het. KIA se presteerders was Picanto (750) – redelik tragies as dit vergelyk word met Augustus se 1 071 verkope. Net twee ander KIA-modelle het noemenswaardig presteer – Rio (271) en Sportage op 208 verkope. Nie een van die maatskappy se ander modelle kon dubbelsyfers behaal nie, en dit maak hierdie Koreaan kwesbaar vir invoerders soos Suzuki (1 140) wat reeds by Mazda (1 111) verby is en wie se nuwe Jimny die mark in November soos ʼn warrelwind gaan tref.

Die nuwe Volvo XC40 (Foto: Volvo)

Ander vervaardigers buite die top-tien sluit in Volvo (325) wie se XC60 (115), XC90 (49) en XC40 op 78 verkope die maatskappy se presteerders is.

In die superluukse segment het Bentley (11) goed gevaar, Porsche het oudergewoonte geskitter op 102 verkope, terwyl Ferrari se 6 en Maserati se 5 verkope darem beter klink as die enkeling wat sy geldjies gewaag het op ʼn Audi R8.

Intussen is dit sokkiesoptrektyd vir Peugeot/Citroën (90) en Subaru (86).

Daar word verwag dat voertuigverkope nie noodwendig deur die waansinnige brandstofprysverhogings beïnvloed sal word nie, maar dat kooppatrone na kleiner, meer ekonomiese, modelle sal afwentel. Hierteenoor sal die uitvoermark robuus bly – wat natuurlik goeie nuus vir ons ekonomie sal wees.

Top-tien passasiersmotors

Die nuwe Toyota Fortuner (Foto: Toyota)

Volkswagen Polo 3 866

Volkswagen Polo Vivo 1 976

Toyota Corolla/Auris/Quest 1 680

Toyota Fortuner 1 345

Toyota Yaris 1 111

Hyundai Grand i10 1 049

Ford Fiesta 837

Renault Kwid 808

KIA Picanto 750

Renault Clio IV 677

 

Top-tien ligte handelsvoertuie

DIe nuwe Ford Ranger Raptor (Foto: Verskaf)

Toyota Hilux 3 943

Ford Ranger 3 016

Nissan NP200 1 888

Toyota Quantum 1 287

Isuzu KB 1 193

Nissan NP300 622

Volkswagen Amarok 291

Hyundai H100 290

Mahindra Scorpio Pik Up 216

Toyota Land Cruiser PU 178

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Piet Pompies ·

Ons het sowat twee maande terug vir ons ‘n nuwe Polo Vivo Maxx gekoop. Die nuwe Polo was ook op die koop lys maar na verskeie oorwegings het die laer onderhouds koste oor die langer termyn ons op die Maxx laat besluit. Die voertuig het die bekende 1.6 petrol enjin, met Maxx afwerking wat 17 duim wiele insluit is hy nogal ‘n aandag trekker. Met die 17 duim wiele sit hy op die pad en lekker lig op brandstof.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.