Voertuigverkope in Mei 2014

karre verkoopVolgens inligting verskaf deur Naamsa (die National Association of Automobile Manufacturers of SA) is daar goeie en slegte nuus in verband met die voertuigverkope vir Mei-maand.

Die goeie nuus is dat verkope in Mei vanjaar aansienlik beter was as die voorafgaande April,  maar die slegte nuus is dat Mei 2014 se syfers dramaties swakker was as die verkope in Mei verlede jaar.

Verkope van 49 465 eenhede was 9.2% (5 025 eenhede) swakker as in Mei 2013. Hiervan was verkope van nuwe passasiersvoertuie (32 984), 11.3% oftewel 4 207 eenhede swakker as ‘n jaar gelede.

Die enigste ligstraal in hierdie treurmare was in die afdeling vir swaarvragmotors en busse waar verkope met 4.3% (74 eenhede) gestyg het.

Ligte handelsvoertuie – dis nou bakkies en minibusse – het op 13 866 te staan gekom. Dit is ‘n daling van 5.1% oftewel 752 eenhede.

Onder die individuele vervaardigers/invoerders, beklee Toyota steeds die eerste plek met totale verkope van 9 378 eenhede, gevolg deur Volkswagen op 8 358.

Associated Motor Holdings (AMH) is steeds in die derde plek (5 441), gevolg deur Ford op 5 217 eenhede verkoop.

General Motors (5 008) is  in die vyfde plek, terwyl Nissan (4 017) oudergewoonte die sesde plek inneem. Hierna volg Mercedes-Benz (2 734), BMW (2 003), Renault (1 562) en Chrysler in die 10e plek. Onder die Top Tien is Chrysler (652) die enigste invoerder wat nie die 1 000 eenhede-grens kon oorsteek nie.

Toyota se skitterprestasie is hoofsaaklik te danke aan sy steeds gewilde Hilux-bakkie wat met 2 637 verkope steeds Suid-Afrika se algehele gunsteling voertuig bly – selfs beter as Volkswagen se Polo Vivo (2 476). Ander uitblinkers vir Toyota was die Corolla/Auris/Quest op 1 922 eenhede verkoop en Etios (1 033). Hierteenoor sukkel die Yaris (235) met die persepsie dat hy te duur is vir sy grootte en wat hy bied.

Die Fortuner (698) presteer steeds goed, veral gemeet teen die Chevrolet Trailblazer (130) en Nissan se Pathfinder (35). Laasgenoemde bly ‘n raaisel, want die Pathfinder is ‘n uitstekende maar totaal onderskatte voertuig in hierdie segment. Die RAV (493) vaar steeds goed en bly altyd net so ‘n kortkop voor Ford se ewe netjiese Kuga (407).

Wat die Volkswagen-groep betref – en hier word Audi ingesluit – is die Polo Vivo (2 476) die topverkoper, gevolg deur die Polo (2 326) en die Golf 7 (627). Onder die Audi-vaandel is dit veral die A4 (520) wat die oog vang en die A3 wat na 382 nuwe eienaars gegaan het.

Oudergewoonte kan niks berig word oor AMH se prestasies nie, want hulle verskaf net inligting oor bepaalde marksegmente soos klein motors, middelslagmotors, ens.

Ford se vierde plek bestaan uit goeie syfers deur Figo (867),  EcoSport (561), en Fiesta (585). Maar dis veral die 2 018 Rangers wat verkoop is, wat die oog gevang het. Met hierdie syfers kruip Ford elke maand nader en nader aan Toyota Hilux se syfers. Interessant ook dat die Ranger se uitvoersyfers (4 089) selfs beter is as Toyota Hilux se uitvoersyfers van 3 053 eenhede.

General Motors se gebruiklike vyfde plek is hoofsaaklik te danke aan sy puik Isuzu-bakkies (1 482) en sy sub-eentonner Chev Utility (1 353). Aan die passasiersvoertuig-kant het die Spark (558) en Aveo (288) aandag getrek, terwyl die Opel-naam stadig maar seker weer sy regmatige plek begin inneem met goeie syfers deur Astra (172) en Corsa (118). Hierteenoor het net agt kopers in die nuwe Meriva belê.

Nissan begin klaarblyklik gewoond raak aan sy sesde plek – danksy veral goeie vertonings deur NP300 Hardbody (650), NP200 (1 604), Qashqai (454) en Juke (275). Micra se 233 verkope en Almera se 119 het ook mooi bygedra. Nissan se luukse handelsnaam – Infiniti – het darem 23 verkope behaal – ‘n heel indrukwekkende 10 meer as in April.  Hierteenoor het Toyota se Lexus 90 verkope behaal – 23 minder as in April vanjaar.

Die twee luukse Duitse handelsmerke, Mercedes-Benz en BMW, is steeds gewikkel in ‘n voortdurende stryd. Mercedes-Benz se syfers word ‘n hupstoot gegee deur die C-klas (772) wat weer eens BMW se 3-reeks (760 verkope) gemaklik troef. Daar moet egter vermeld word dat BMW SA die top-uitvoerder was met 6 150 3-Reeks modelle wat verskeep is.

Ander Mercedes-Benz-treffers was die A-klas (371), B-klas (192) en die immergewilde M-klas (112).

Behalwe BMW se topverkoper 3-reeks, word die maatskappy se syfers ook aangehelp deur die 1-reeks (335), X5 (182) en MINI Hatch (147). Klaarblyklik is daar onder Suid-Afrikaanse kopers konsensus dat die MINI Convertible vreklelik is, want net een individu het daarvoor kans gesien om een aan te skaf.

Intussen is die enigste Fransman onder die Top Tien – Renault (1 562) – stil-stil besig om te konsolideer en ‘n stewige markaandeel op te bou. Hier is dit veral die Clio IV (501), Duster (377) en Sandero II (362) wat die oog gevang het.

Soos in April, word die laaste plek ingeneem deur Chrysler. As die enigste Amerikaner (weliswaar in Italiaanse – Fiat – besit) steun Chrysler sterk op hoofsaaklik drie modelle. Die Grand Cherokee (177), Compass (157) en Wrangler (132) is deurgaans Chrysler se steunpilare.

Onder die kleiner invoerders het Honda (641) bietjie veld gewen, maar daar lê nog ‘n lang pad voor voordat die 1 000 verkope-merk bereik gaan word. Moontlik sal die nuwe Ballade vir Honda heelwat nuwe eienaars lok.

Jaguar/Land Rover (527) het ook mooi verbeter – danksy veral Range Rover Evoque (165) en Discovery 4 (168). Die Range Rover Sport (97) – wat deur grapjasse as die Limpopo Tazz bestempel word vanweë sy gewildheid onder bepaalde politici – het ook mooi bygedra, maar die enigste Jaguar wat noemenswaardig verkoop het,  die XF, het slegs 22 nuwe eienaars gekry.

Vir Porsche was daar ietwat van ‘n ligstraal op die horison. Mei se verkope van 64 eenhede (Porsche Cayenne 46) was meer as dubbel beter as April se uiters beskeie 31.

Ander invoerders van wie kennis geneem moet word, sluit in Suzuki (454) wat feitlik 100 eenhede minder is as die syfers vir April. Hier was dit weer eens die Swift (215) wat die ding gedoen het.

Mitsubishi Motors (deel van die AMH-groep) se 297 verkope het hoofsaaklik bestaan uit ASX (79) en Pajero Sport (63). Laasgenoemde is ‘n effektiewe opponent vir Toyota se Fortuner en behoort heelwat beter te kan doen.

Die mark wag ook in spanning om te sien in welke mate Volvo se puik nuwe 2-liter enjins die verbeelding gaan aangryp. Verkope van 250 is nou nie juis verstommend nie, maar hierdie Sweedse maatskappy bereik darem elke maand hierdie teiken. Die Volvo V40 (93) en die S60  (57) is die maatskappy se sterre.

Die enigste ander Franse name – Peugeot/Citroën – het gesamentlik 282 voertuie verkoop. Hier was veral die Peugeot 208 (78), die 107 (53) en die Peugeot 2008 (55) die pasaangeërs. Citroën se topverkoper was die DS3 (13).

Die ikoniese Japanse Subaru kuier maar altyd in die 100-omgewing rond wat sy verkope betref, en Mei was weer eens in die kol met 105 eenhede verkoop. Daar word egter uitgesien na die impak van die nuwe WRX wat onlangs bekend gestel is.

Laaste gedagte. Dit is duidelik dat moeilike tye vir die motorbedryf voor die deur is. Die ekonomie is besig om stoom te verloor, die Rand verswak byna weekliks, en daar word gefluister dat vanjaar se verkope met tussen 3.5% en 5.0% gaan daal teenoor die 2013 verkopetotaal.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.