Voertuigverkope onder druk

Foto: Verskaf

Die verkope van nuwe voertuie in Augustus vanjaar (passasiersmotors en ligte handelsvoertuie) het ʼn geringe maar tog onverwagte daling van 1 234 eenhede vir ʼn totaal van 47 924 eenhede getoon. Dié daling word bereken as 2,5%.

In die geval van passasiersvoertuie was die totaal 31 447, terwyl ligte handelsvoertuie ietwat beter gevaar het met ‘n totaal van 13 956 wat 5,8% minder was as in Augustus ʼn jaar gelede.

Weer eens was Toyota (10 869) die suksesvolste vervaardiger, maar gevaarligte flikker aangesien dit maar sleg afsteek teen Julie se 12 840. Oudergewoonte was die immergewilde Hilux die top-verkoper bakkie met ʼn totaal van 3 366 – teenoor Ford Ranger se 2 535.

Ander top-verkopers in die Toyota-stal sluit in Corolla/Auris/Quest (1 151), Etios met 900 verkope en Fortuner op 888. Die nuwe Rush (eintlik ʼn Daihatsu) het gesorg vir 300 verkope, terwyl Toyota se luukse afdeling – Lexus – voortsukkel met ʼn beskeie totaal van 58 verkope. Merkwaardig ook dat Volkswagen se Tiguan in Augustus met 417 verkope Toyota RAV se 268 behoorlik getroef het.

Die nuwe Volkswagen Polo Vivo (Foto: Volkswagen)

Van Volkswagen (7 932) gepraat: Vir die eerste keer in maande was Polo (3 414) die algehele top-verkoper, terwyl verlede jaar se Polo, wat die Vivo-etiket en verouderde tegnologie dra, darem 1 900 verkope kon aanteken. Hoeveel hiervan vervanging van gesteelde motors is, kan ʼn mens net raai.

Gevaarligte flikker vir die groep se Amarok met beskeie verkope van net 181 eenhede. Selfs Hyundai se plaaslik gemonteerde H100 het beter gevaar met 337 verkope, terwyl die ruwe Mahindra Scorpio Pik-Up (248) ook beter as die Amarok gevaar het. Jammer dat Mercedes-Benz skugter is ten opsigte van hulle X-klas, want ek vermoed dat die koms van hierdie nuweling ook druk op die V6 Amarok uitgeoefen het.

Ná ʼn skrikmaker deur Nissan twee maande gelede, is Ford (4 979) net-net met ʼn meerderheid van 43 eenhede voor Nissan. Ford word, soos altyd, gered deur Ranger, terwyl 118 nuwe eienaars met hulle Mustangs gaan spog. Die pas opgekikkerde EcoSport het 537 nuwe eienaars se harte gesteel, terwyl Fiesta se 393 verkope heel redelik is.

Argieffoto ter illustrasie

In die vierde plek onder die top tien word Nissan (4 936) ʼn groot bedreiging vir Ford, danksy sy handelsvoertuie soos NP200 (1 634), en NP300 met 905 verkope. Onder sy passasiersmotors is dit net Datsun GO (631) en Almera met 405 verkope wat beïndruk het.

Die vyfde plek behoort steeds aan Hyundai (3 169) wie se Grand i10 (1 020), i20 met 673 verkope die pot aan die kook hou. Die aantreklike Tucson het ook goed presteer met 354 verkope wat beter was as Toyota RAV se beskeie 268 eenhede wat nuwe eienaars gevind het.

Na etlike jare aan die onderpunt van die lys het Renault intussen stil-stil goed gevorder met ʼn Augustus-totaal van 2 161 – meer as 300 eenhede beter as in die vorige maand. Renault se wenners het bestaan uit Kwid (767), Sandero ll (683) en Clio IV met 408 verkope.

In die sewende plek en meer as 200 verkope agter Renault, is Mercedes-Benz se 1 949 totaal nie juis indrukwekkend nie, en verseg hierdie invoerder steeds om individuele modelverkope bekend te maak.

Die Isuzu KB 300D-Teg-dubbelkajuit 4×4 LX outo (Foto: Isuzu)

In die verlede was Mercedes-Benz en BMW dikwels kop-aan-kop, maar intussen het Isuzu in die agtste plek ingeskuif met ʼn heel redelike 1 919 totaal – amper 300 verkope beter as in Julie. Hiervan het die KB-bakkiereeks 1 542 verkope bygedra, terwyl MU-X vir 83 verkope gesorg het.

KIA (1 750) klou stewig aan sy negende plek danksy Picanto met 1 071 verkope, Rio (340), en Sportage met ʼn stewige 208 verkope. Nie een van sy ander modelle was in staat om dubbelsyfers te behaal nie.

En dan kom ons by die sukkelende laaste skapie in die kraal – BMW met 1 537 verkope – en nog ʼn vervaardiger wat glo dat die koperspubliek nie hoef te weet hoe sy individuele modelle vaar nie.

Onder die vervaardigers/invoerders wat tans buite die top tien-afdeling val kan ons gerus ʼn ogie hou op Suzuki wat vanaf ʼn beskeie maandelikse gemiddeld van 400 verkope tans gereeld deur die vier syfer-kerf bars. Suzuki se 1 040 verkope kan buitendien binnekort aansienlik verbeter sodra die nuwe Jimny 1.5 in November bekend gestel word.

Die Porsche 911 Carrera (Foto: Porsche)

Onder die luukse en/of nismark voertuie buite die top tien-lys, staan Porsche oudergewoonte stewig met 109 verkope – amper binne bereik van Fiat/Alfa Romeo/Jeep se uiters nederige 147 totaal.

Eienaardig ook dat die über-luukse drieling, Bentley (3), Maserati (5) en Ferrari (3), feitlik elk maand dieselfde telling aanteken.

Ander vervaardigers wat vermelding verdien sluit in Volvo (287) met die XC60 (92), XC40 op 73 en XC90 met 62 verkope wat die telbord aan die rol gehou het.

Jaguar/Land Rover sal ook wonder wat hulle nog moet doen om hulle 392 verkope tot by die 500-kerf op te skuif waar hulle hoort.

Intussen verswak die rand daagliks, kopers-onsekerheid neem toe, en het Naamsa sy 2018-voorspelling (totale verkope) afwaarts aangepas van 366 000 tot 340 000.

Die nuwe Toyota Fortuner (Foto: Toyota)

Top-tien passasiersvoertuie

  1. Volkswagen Polo – 3 414
  2. Volkswagen Polo Vivo – 1 900
  3. Toyota Corolla/Auris/Quest – 1 155
  4. KIA Picanto – 1 071
  5. Hyundai Grand i10 – 1 020
  6. Toyota Etios – 900
  7. Toyota Fortuner – 888
  8. Renault Kwid – 767
  9. Ford Figo – 732
  10. Renault Sandero II – 683

DIe nuwe Ford Ranger Raptor (Foto: Verskaf)

Top-tien ligte handelsvoertuie

  1. Toyota Hilux – 3 366
  2. Ford Ranger – 2 535
  3. Nissan NP200 – 1 634
  4. Isuzu KB – 1 542
  5. Toyota Quantum – 1 477
  6. Nissan NP300 – 905
  7. Hyundai H100 – 337
  8. Mahindra Scorpio Pik Up – 248
  9. Land Cruiser Pick Up – 181
  10. Volkswagen Amarok – 181

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vraagteken ·

Ek kan nie verstaan hoekom Duitse voertuie goed verkoop nie. Almal kla permament dat hulle nie geld het nie, so hoekom koop jy dan ‘n voertuig wat na 5 jaar geen waarde het nie (ek praat nou spesifiek van die Tiguan, Amarok, 3 reeks BMW, A4, ens.)? Daardie tiepe voertuie kos ook baie geld om te onderhou na 5 jaar? Dis dalk juis hoekom die mense nie geld het nie – hulle is vasgekeer in ‘n ‘trap’. Ek het slegte nuus vir daardie mense – met ‘n ekonomiese groeikoers vir ons land van 1,9% ‘n jaar, gaan jy nie ryker word nie.

Dis hoekom jy net Japanees koop in hierdie land (net jammer Toyota weet van hulle goeie reputasie). Want daardie voertuie hoú en onderhoudkoste is realisties.

Piet Pompies ·

Korreksie ivm die berig, die VW Polo was gedurende Julie 2018 ook die beste verkoper bokant die Polo Vivo. So dit is die tweede maand in ‘n ry wat die Polo meet verkoop het as die Polo Vivo.
Voertuig verkope verteenwoordig gewoonlik die stand van die land se ekonomie. As verkope daal is daar minder vertroue in die ekonomie, as verkope styg dan is daar vertroue in die ekonomie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.