Voertuigverkope: Rooi ligte flikker steeds

Toyota se nuwe Rav4 (Foto: Verskaf)

Behalwe vir enkele ligstraaltjies verskaf deur die segment vir ligte handelsvoertuie was die voertuigverkopesyfers vir Maart – gemeet teenoor Maart verlede jaar – 3,1% oftewel 1 512 eenhede swakker met ʼn totaal van 47 718 eenhede.

Passasiersvoertuie (30 348) het met 1 805 verkope gedaal – die derde maand agtereenvolgend wat dit gebeur – terwyl bakkies en paneelwaens (14 994) ʼn geringe verbetering van 275 verkope aangeteken het.

Onder die tien top-vervaardigers is die status quo min of meer gehandhaaf met Toyota weer eens op die boonste trappie danksy ʼn indrukkende totaal van 11 795 wat beteken dat bykans een uit elke vier nuwe voertuie die Toyota/Lexus-embleem vertoon.

Oudergewoonte is Toyota se sterre sy no. 1-topverkoper Hilux met ʼn verstommende  4 252 verkope, gevolg deur Corolla op 1 081, Fortuner op 954, en RAV met ʼn stewige 715 verkope.

Ondanks die taai marktoestande het Toyota nagenoeg 1 300 eenhede meer verkoop as in Februarie vanjaar, terwyl Volkswagen – in die tweede plek – met sy totaal van 6 627 sowat 800 voertuie minder binnelands verkoop het.

Die nuwe Volkswagen Tiguan (Foto: Volkswagen)

Een troos is darem dat die mense van Uitenhage die top-verkoper passasiersvoertuig opgelewer het met die Polo Vivo se 2 498 verkope, gevolg deur Polo op 1 383 en Tiguan op ʼn heel billike 447 eenhede wat nuwe tuistes gevind het.

Nissan het intussen van krag tot krag gegaan en met sy totaal van 5 417 verkope nie net 700 eenhede meer as in Februarie verkoop nie, maar ook die tweede agtereenvolgende maand Ford (4 961) vir die derde plek uitgestof.

Nissan se sterre was NP200 (2 144), NP300 op 839 verkope, terwyl Qashqai (252) en X-Trail (294) sukkel om die 300-grens oor te steek.

Ford (vierde) sal harder moet spook om sy gebruiklike derde plek by Nissan terug te neem, en sal benewens Ranger se stewige 2 376 verkope ook van sy ander modelle moet begin inspan. Ander uitblinkers onder die Ford-vaandel was EcoSport op 868, Figo met 722 verkope en Everest met ʼn totaal van 447.

Merkwaardig dat die Kuga steeds 91 nuwe eienaars gevind het, terwyl Mustang (22) steeds goed vaar.

Die Hyundai Grand i10 (Foto: Hyundai)

Die eerste Koreaan onder die top-tien, Hyundai (2 885), het hom goed ingegrawe in die vyfde plek, en maak steeds staat op Grand i10 (1 030), i20 op 476 verkope, en Creta op 308 verkope om die Ford-wolf van die deur af weg te hou. En moenie vergeet van die plaaslik gemonteerde H100-eentonner se 235 verkope nie.

Renault (2 289) bly gemaklik in die sesde plek danksy goeie vertonings deur Kwid (1 081), Sandero II op 627 verkope, en Duster wat beter behoort te vaar as sy aangeduide 186 verkope.

Isuzu, met sy beperkte modelaanbiedings, het heel skaflik gevaar met ʼn 1 949 totaal en sewende algeheel – danksy D-MAX met 1 445 verkope en die vorige generasie se KB (162).

Die agtste plek is ʼn soete genot vir BMW (1 385) want hierdie Beierse vervaardiger het een plek opgeskuif en terselfdertyd sy aartsmededinger Mercedes Benz tot in die laaste plek afgedruk.

BMW maak steeds staat op sy gewilde 3-reeks (373) en die plaaslik gemonteerde X3 (218), terwyl die X5 se 95 verkope ook mooi tot die totaal bygedra het. Mercedes Benz weier steeds om individuele modelverkope bekend te maak.

Die Kia Rio. Foto: Verskaf

ʼn Koreaan wat ʼn maand gelede buite die top-tien was – KIA – het intussen mooi herstel en met sy totaal van 1 318 die negende plek syne gemaak. KIA se sterre was Picanto (630), Rio op 322 verkope en Sportage met ʼn heel skaflike 181 eenhede.

En dan is daar die invoerders wat buite die top-tien-groepering val en hier is die kollig dadelik op Porsche met ʼn buitengewoon stewige 144 verkope, terwyl die ander ikoniese invoerders soos Bentley (4), Maserati (5) en Ferrari (6) almal uitgestof word deur die Audi R8 se tien verkope.

Invoerders wat moet sokkies optrek, sluit in Peugeot/Citroën (97) en Subaru op 96 verkope.

Hoewel die bedryf 110 000 Suid-Afrikaners in diens het en na 149 lande uitvoer, bly die bedryf onder druk van politieke onsekerheid, duur brandstof en ʼn voortdurend verswakkende wisselkoers.

Daar word egter verwag dat die komende kwartaal vir ʼn ligte opflikkering kan sorg, terwyl uitvoere steeds presteer met 37 296 eenhede in Maart.

Die nuwe Volkswagen Polo Vivo (Foto: Volkswagen)

Top-tien passasiersmotors

  1. Volkswagen Polo Vivo – 2 498
  2. Volkswagen Polo – 1 383
  3. Renault Kwid – 1 081
  4. Toyota Corolla – 1 081
  5. Hyundai Grand i10 – 1 030
  6. Toyota Fortuner – 954
  7. Ford EcoSport – 868
  8. Ford Figo – 722
  9. KIA Picanto – 630
  10. Datsun GO – 605

Die Toyota Hilux. Foto: Verskaf

Top-tien ligte handelsvoertuie

  1. Toyota Hilux – 4 252
  2. Ford Ranger – 2 376
  3. Nissan NP200 – 2 144
  4. Isuzu D-MAX – 1 445
  5. Toyota Quantum – 1 310
  6. Nissan NP300 – 839
  7. Toyota Land Cruiser Pick Up – 288
  8. Mahindra Pik Up – 253
  9. Hyundai H100 – 235
  10. Nissan Hardbody – 209

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Judge Dredd ·

Sal interresant wees om te sien of Toyota se Hilux verkope afneem in toekoms.

willem Botha ·

Geld is skaars en die wat het hou dit vas,almal trek swaar ,rippel effekte van die swak bestuur van SA se ekonomie ,vriende en kollegas koop tweede hand se karre en die ander ry nou 7 jaar plus voor hulle dit vervang.

Lou ·

Kommerwekkend dat Nissan 839 NP300 bakkies verkoop nadat bots toetse oorsee bewys het dat die SA NP300 bakkie nie aan die standaarde voldoen nie.
Met SA se uiters hoë ongeluksyfer en swak toestand van paaie sou ek dink almal behoort die veiligste moontlike voertuig te koop wat jy kan bekostig.

Judge Dredd ·

Wel ten minste hoef die NP300 eienaars dan nie verder te worry om die skuld af te betaal.

Babsie ·

Hoekom wys Audi Q3 , 5 of 7 nêrens nie. Is dit die prys of nie ñ goeie motor nie. Ek sou graag opinies wil hoot

Andre C ·

BMW het agste plek en KIA die negende plek.Wie is dan nommer 10 wat die top 10 uitmaak of lees ek nie reg nie ?Die berig gaan na die negende plek na die die wat buite die top 10 val

Hans ·

Wonder waarom Mahindra nie gelys word nie. Dis groot onbekende verkoper.

Siener ·

Ek wil ook weet want hulle verkope was beter as die cruisers sin.

Chris Ws ·

Dis nogal insiggewend dat Ford Ranger se verkope amper die helfte is van Toyota se Hilux!Laat mens wonder hoekom . . . .

anton ·

Hoe het Suzuki gedoen? Vorige maande was Suzuki baie naby aan die top tien.

Andre C ·

Anton ,dis hoekom ek hierbo gevra het hoekom word no 10 van die top 10 nie genoem nie

Chrisjan ·

Arme Amarok verkoop swak teen die res gemeet.Selfs die Landcruiser doen beter.Die NP200 Nissan Renault doen verbasend goed en blaas nou hard in die Ford Ranger se Nek!Maar die NP200 kan nie doen wat die Ranger kan op n plaas nie dis verseker.Dis n stads voertuig.Geluk aan Toyota met sy Hilux se goeie verkope.

Jaco Burger ·

As voertuie goekoper is, sal meer verkoop word, maar almal staan bak hand om geld uit ‘n voertuig te maak. Dink die regering maak die meenste. Dit is pateties wat nuwe voertuie deesdae kos.

Chris Ws ·

Vir interressantheid Jaco,die blasting op nuwe voertuie beloop 45% van die totale verkoop prys.Maw as n voertuig se prys R200,000 is is R90,000 net belasting.So daai voertuig moes eintlik vir net R110,000 verkoop gewees het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.