Voertuigverkope stabiliseer

Argieffoto Foto: Royalty-Free/Corbis

Argieffoto Foto: Royalty-Free/Corbis

Gemeet teenoor verkopesyfers vir Maart 2013 het passasiersmotors redelike sukses behaal en het algehele verkope met 0.2% (87 eenhede) gedaal. Hierteenoor het ligte handelsvoertuie (bakkies) se verkope met 3.7% gestyg, terwyl die verkope van mediumgrootte handelsvoertuie (7.6%) en swaar handelsvoertuie met 20.8% persent gestyg het.

Uitvoere, daarenteen, het met 11.2% gedaal tot 24 660 eenhede.

Uit die totale verkope van 55 343 eenhede in Maart is 85.8% deur handelaars opgeneem, die staat het 5% gekoop, 4.7% het na die verhuringsmark gegaan, terwyl die bedryf se korporatiewe vlote (personeel en media|) 4.5% beloop het.

In die Top Tien-lys was daar slegs een verrassing toe Ford (vierde in Februarie) en Associated Motor Holdings (derde) plekke geruil het.

Toyota beklee weer eens die eerste plek met 11 263 eenhede, gevolg deur Volkswagen met 8 713 en Ford met 6 289. AMH staan steeds sterk met 5 971 verkope, terwyl General Motors (GM) 4 914 voertuie verkoop het.

Nissan is teen dié tyd gewoond aan sy sesde plek onder die Top Tien met 4 361 verkope in Maart.

Hierna volg die sogenaamde ‘luukse’ Duitsers – BMW en Mercedes-Benz. Albei handhaaf hulle onderskeie sewende en agtste plekke met verkope van 2 404 deur BMW en Mercedes-Benz se 1 925.

Die enigste Franssprekende onder die Top Tien, Renault, verras weer eens met sy negende plek danksy 1 627 verkope, gevolg deur ‘n ewe skitterende vertoning deur Jaguar/Land Rover wat met 924 eenhede verkoop so raak-raak aan die duisend eenhede-kerf. In Februarie, trouens, het Jaguar/Land Rover 714 eenhede verkoop om die Top Tien die eerste keer te haal.

Toyota se sukses kan weer eens, soos so dikwels in die verlede, toegeskryf word aan sy Hilux-reeks wat in Maart die topverkoper-voertuig in ons land was met ‘n briljante 3 415 eenhede verkoop – en 5 889 eenhede wat uitgevoer is. Ander Toyota-uitblinkers was Etios (2 364), Corolla/Auris (1 437) en Fortuner (872). Die RAV4 het ook sy tweestryd met Ford se puik Kuga (341) gewen deur 342 verkope aan te teken!

Volkswagen steun steeds sterk op sy Polo (2 125) en Polo Vivo (2 553) om in Toyota se nek te blaas, terwyl die Golf 7 (812) en die Groep se Audi A3 (433) en Audi A4 (541) ook goeie bydraes lewer.

Ford het sy derde plek hoofsaaklik te danke aan sy indrukwekkende Ranger (2 615) waarvan ‘n verdere 2 851 eenhede uitgevoer is, asook Ford Figo (1 203) en Fiesta (695).

AMH maak nie verkopesyfers vir individuele modelle bekend nie, en ‘n mens kan bloot raai dat sy puik prestasies te danke is aan modelle soos die ix35, Kia Sportage, Kia Rio en Hyundai Elantra wat oral te sien is.

Die immer betroubare General Motors met sy groot reeks klein Koreaanse motors met hulle groot geel Chevrolet-kentekens, steun swaar op Spark (545), Cruze (329) en Aveo (411). GM het ook onlangs die Trailblazer ligweg opgeknap, maar die 138 verkope is maar beskeie gemeet aan Toyota Fortuner se 872 eenhede verkoop.

Nissan handhaaf steeds gemaklik sy sesde plek, danksy veral Micra (322), Juke (305), Qashqai (207) en Almera (419).

Soos in Februarie het BMW weer daarin geslaag om aartsmededinger Mercedes-Benz uit te stof. BMW se 2 404 eenhede verkoop was aansienlik beter as Mercedes-Benz se 1 925 totaal. Voeg hierby die Beierse vervaardiger se uitvoertotaal van 5 584 en Stuttgart se agterstand word nog groter. In die voortdurende tweestryd tussen BMW se 3-reeks en Mercedes se C-klas, het BMW ook uitgetroon met 1 084 eenhede verkoop teenoor Mercedes se 891

Soos in Februarie behoort die laaste twee plekke weer aan onderskeidelik Renault en Jaguar/Land Rover. Renault se 1 627 verkope was weer eens beter as Februarie se 1 448, terwyl JLR dramaties verbeter het van 714 tot 924 eenhede verkoop.

Renault se ‘sterre’ was onder meer Duster (495) en Sandero (365). Die onlangs opgekikkerde Sandero met sy verstommende 900 cc 3-silinder enjin gaan waarskynlik hierdie invoerder nog verder laat uitstyg.

JLR se prestasie is hoofsaaklik te danke aan die Discovery 4 (314), Evoque (165) en Range Rover Sport (154) wat so graag deur politici gekoop word – in so ‘n mate dat dit dikwels as die Limpopo Tazz beskryf word.

Onder die kleiner vervaardigers/invoerders vorder Suzuki goed op 539 – gemeet aan sy tradisionele maandelikse gemiddeld van 400 eenhede.

Porsche het ‘n swak Maart beleef en sy 45 verkope was minder as die helfte van Februarie se 96. Desondanks het die Cayenne (25) steeds as topverkoper uitgeblink.

Volvo het ook besonder goed gevorder met verkope van 247 – aansienlik beter as Februarie se 150 eenhede wat nuwe base gekry het. Daar word ook verwag dat die briljante nuwe enjinreekse – petrol en diesel – kopers in groot getalle na hierdie puik handelsmerk sal lok.

Ander invoerders wat redelik gevorder het sluit in Peugeot/Citroën (246), Mitsubishi (264) en Chrysler (730). Laasgenoemde blaas ook nou in Honda (753 eenhede) se nek.

April, met sy langnaweke en vakansiedae, sal waarskynlik ook ‘n impak op voertuigverkope hê en dit, tesame met die huidige onstabiele Rand (wat veral topinvoerders soos Porsche se kaarte deurmekaar krap), kan dalk ‘n swakker maand tot gevolg hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.