Voertuigverkope steeds stewig

Porsche Macan 2014/2015 Foto: vroomgirls.com

Porsche Macan 2014/2015 Foto: vroomgirls.com

Ondanks voorspellings deur doemprofete dat niemand voertuie in Desember koop nie, het voertuigverkope – aldus Naamsa (Nasionale Voertuigvervaardigersvereniging) – 2014 goed afgesluit met totale verkope van 439 179 passasiersmotors en 173 790 ligte handelsvoertuie vir ʼn algehele groottotaal van 644 523 voertuie. Dit is slegs 0.7% minder as die totale verkope in 2013 (649 216).

In die gebruiklike Top Tien-ranglys was Toyota weer eens bobaas met 10 372 verkope, gevolg deur Volkswagen met 9 179 en Ford in die derde plek met 6 654 eenhede verkoop.

Die vierde plek behoort steeds aan Associated Motor Holdings (AMH) op 4 969, terwyl General Motors/Isuzu een plek opskuif danksy 4 412 verkope.

Mercedes-Benz (3 359) skuif ook vanaf sewende in die sesde plek in, terwyl Nissan, wat in November vyfde was, met 2 611 eenhede verkoop in die sewende plek beland.

ʼn Verdere verrassing is dat Renault met 1 838 verkope na die agtste plek opskuif, en plekke ruil met BMW (1 165). Dit is sekerlik laasgenoemde se swakste vertoning die afgelope jaar.

Soos gewoonlik, is Honda (933) steeds stewig in die tiende plek en hap-hap hierdie puik vervaardiger altyd sterk aan die 1 000-eenhede merk.

Toyota se blink vertoning – nadat sy Hilux in November tydelik sy topverkoper-kroon aan die Ford Ranger moes afstaan – is hoofsaaklik te danke aan goeie verkope deur Hilux (3 343) wat hierdie staatmaker die naasbeste verkoper maak en terselfdertyd met die Ranger (3 003) afreken. Vir laasgenoemde is dit steeds ʼn skitterende prestasie en slegs die tweede keer dat Ranger die 3 000-verkope kerf oorsteek.

Ander staatmakers vir Toyota is Corolla/Auris/Quest (1 920), Etios (1 205), Fortuner (795) en RAV (424). In laasgenoemde geval is dit aansienlik beter as Ford se Kuga (216).

Volkswagen se gebruiklike tweede plek word weer eens toegeskryf aan sterk vertonings deur Polo Vivo (3 547) wat dit dan ook die Desember topverkoper maak, Polo (2 411) en Golf 7 (603). Volkswagen se Audi A3 (311) en A4 (371) het ook goed vertoon, terwyl die Amarok-bakkie (366) self redelike verkopesyfers behaal het.

Die derde plek op die podium behoort aan Ford danksy sy Ranger se puik vertoning, en goeie verkope deur Figo (1 411), en EcoSport (747).

AMH (4 969) doen steeds nie verslag ten opsigte van individuele modelverkope nie.

GM/Isuzu se vyfde plek is gebou op Chev Utility (1 173), Isuzu (983), Chev Spark (481) en 258 verkope onder die Opel-handelsnaam.

Intussen het Mercedes-Benz (3 359) ook met sy streke begin en word geen prestasies deur individuele modelle aangegee nie.

Nissan se sewende plek word toegeskryf aan NP300 Hardbody (531), NP200 (643), en, verstommend, Datsun GO (478). Die nuwe Qashqai (258) vaar ook heel skaflik.

Renault se mooi vordering is te danke aan goeie verkope deur Clio IV (581), Duster (516) en Sandero II (583).

ʼn Mens kan maar net wonder wat met BMW gebeur het, want net die 3-reeks (426), 1-reeks (233) en MINI Hatch (116) het uitgestyg. Trouens, na verkope van 2 187 eenhede in November, het die Desember-syfer (1 165) sekerlik ʼn paar wenkbroue laat lig.

Japan se staatmaker Honda het darem drie modelle wat almal 3-syferverkope behaal het. Ballade (263), CR-V (220) en Brio (252) was die staatmakers.

Onder die vervaardigers/invoerders wat nie die Top Tien gehaal het nie, het Jaguar/Land Rover (547) goed gevaar danksy Discovery 4 (173), Range Rover Sport (100), en Evoque (128). Aan die sport- en passasiersmotorkant sukkel Jaguar maar voort met totale verkope van net 68 eenhede.

Suzuki vaar steeds redelik met 500 verkope – Swift (213) en Ertiga (60).

Dit lyk of die ‘egskeiding’ tussen Ford en Mazda goed was vir Mazda, want die Japanse vervaardiger se 473 verkope is hoofsaaklik toe te skryf aan Mazda3 (172) en CX-5 (172).

Hierbenewens het Mitsubishi (in die AMH-stal) ook 407 verkope aangeteken, en is dit veral die uitstekende ASX wat met 134 verkope die oog gevang het. Grootboet Pajero het 69 verkope ervaar, terwyl die Mirage (87) ietwat teruggesak het.

Volvo passasiersmotors (238), maak veral staat op V40 (88) en XC60 (59).

Ikoniese Duitse vervaardiger Porsche gaan van krag tot krag. November se indrukkende 128 eenhede verkoop is intussen tot ʼn nog indrukkender 188 eenhede vir Desember opgestoot – danksy veral Macan (62) en Cayenne (64). Die immer gewilde Boxster het self 31 nuwe eienaars se harte verbly.

Met inagneming van die verwagte verbetering in uitvoersyfers is dit selfs moontlik dat 2014 se nagenoeg 542 000 passasiers- en ligte handelsvoertuie) tot by die 600 000-vlak opgestoot kan word – ʼn verbetering van nagenoeg 10.7%. Die regime het egter veranderinge aan die byvoordelebelasting op motors in die oog – met die gevolg dat maatskappye hul interne vlote voor 1 Maart 2015 sal aankoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.