Voertuigverkope styg skerp

Argieffoto

Argieffoto

Goeie nuus vir die motorbedryf is dat voertuigverkope in September vanjaar met 11.5% gestyg het (gemeet teenoor September 2013). Die totaal van 60 854 eenhede was dus 6 283 eenhede beter as ʼn jaar gelede. Nog goeie nuus is dat verlede maand se uitvoere met ʼn verstommende 256% toegeneem het toe 30 778 eenhede uitgevoer is teenoor 2013 se beskeie 8 598.

In die gebruiklike Top Tien-kategorie was Toyota weer eens baas met totale verkope van 12 363 eenhede. Hierdie skittersyfers is behaal danksy goeie vertonings deur Hilux (3 907), Corolla/Auris/Quest (2 320) en Fortuner (1 234). Die intreevlak Etios het ook mooi presteer met 1 705 verkope, terwyl RAV (486) gemaklik afgereken het met sy vernaamste teenstander – Ford se Kuga (312).

Steeds in die tweede plek met ʼn totaal van 9 967 eenhede verkoop en net ʼn kortkop agter Toyota was Volkswagen eweneens ook in die gelukkige posisie om September se topverkoper op te lewer toe sy Polo Vivo alle rekords geslaan het met 4 263 verkope – goed bygestaan deur Polo (2 152), Golf 7 (529) en Audi A3 (542). Ander presteerders in die VW-stal was Audi A4 (450) en Tiguan (341).

In die derde plek met 7 649 eenhede verkoop het Ford hoofsaaklik staatgemaak op sy uitnemende Ranger-bakkies (2 629), goed ondersteun aan die passasiersvoertuigkant deur Fiesta (1 238), Figo (1 511) en EcoSport (788). Dit sal egter die laaste keer wees dat Mazda (471 eenhede) se syfers by dié van Ford gevoeg sal word aangesien hierdie Japanse vervaardiger voortaan onafhanklik sal optree.

Soos die vorige maand, was Associated Motor Holdings (Hyundai, Kia) weer in die vierde plek met ʼn totaal van 6 524 verkope – sonder om individuele modelle se verkope aan te dui.

General Motors (GM) staan ook redelik sterk met 5 513 verkope vir ʼn vyfde plek onder die Top Tien. Hier was dit veral Aveo (557), Spark (848) en Opel wat ʼn welkome terugkeer na Suid-Afrika maak met ʼn indrukwekkende 500 eenhede verkoop. Die ligte handelsafdeling het ook goeie waarde toegevoeg danksy Isuzu KB (1 221) en Chev Utility (1 334). Laasgenoemde moes egter tweede viool speel teen Nissan se NP200 wat 1 595 verkope aangemeld het.

Dit blyk dat Nissan die sesde plek op die ranglys sal aanhou beklee met deurgaans goeie verkope. Verlede maand se 4 155 verkope was dan ook in die orde van 13 eenhede beter as in Augustus vanjaar. Vir Nissan was sy gebruiklike uitblinkers Qashqai (350), Almera (217), Micra (256), en X-Trail (350). Nissan se staatmakers bly egter steeds sy NP300 bakkie (504), NP200 (1 595) en Navara (109).

Die sewende plek behoort oudergewoonte aan Mercedes-Benz wat in September vanjaar 3 874 nuwe voertuie verkoop het. Dit sluit passasiersmotors, ligte handelsvoertuie, asook medium- en swaar handelsvoertuie in. Vir Mercedes het die C-klas (1 535) mooi presteer, terwyl die M-Klas (182) en die A-Klas (436) beïndruk het.

BMW, daarenteen, is in die agtste plek, maar vervaardig en verkoop net passasiersmotors. BMW se totaal van 2 487 eenhede is weliswaar 43 eenhede beter as die Augustus-verkope, maar sy 3-reeks (1 066) moes die aftog blaas teen Mercedes-Benz se 3-Reeks.

Die enigste Franse vervaardiger, Renault, is weer eens in die negende plek met 1 627 verkope – ietwat beter as sy Augustus-syfers. Hier is dit veral Clio IV (489), Duster (267) en Sandero II (629) wat die oog gevang het.

Na ʼn wankelrige begin in 2014, het Honda dramaties herstel wat sy verkope betref en is sy verkopesyfers van 1 216 nagenoeg 200 eenhede beter as Augustus se verkopesyfers.

Onder die kleiner en nismark-invoerders het veral Suzuki die oog gevang met verkopesyfers van 676, Porsche se 90 eenhede en Jaguar/Land Rover se 545. Chrysler SA (720) is altyd bestendig, terwyl Subaru (137) ook redelik gevaar het.

Ten slotte:
Ekonome verwag dat die afplatting in ekonomiese groei, die moontlikheid van nog ʼn rentekoersverhoging en duurder voertuie vanweë die Rand se verswakking waarskynlik gaan meebring dat finale syfers aan die einde van hierdie jaar tussen 4 en 5% laer gaan wees as die 2013-syfers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.