Volkswagen se reusepaneelwa…

Die nuwe Volkswagen Crafter (Foto: Volkswagen)

Ons was ʼn ruk gelede by die bekendstelling van die Volkswagen Crafter. Ek was onseker hoekom ʼn kommersiële voertuig aan die algemene media bekendgestel is – maar dis eintlik heel eenvoudig. Gewone mense besit klein onderneming. Daai klein onderneming moet goedere kan karwy.

Volkswagen se Caddy is ʼn goeie paneelwa as jy nie groot loonvrag benodig nie, maar waar kyk ʼn mens dán. Volkswagen het vier nuwe Crafter-modelle. Daar is ʼn Crafter 35 MCV medium commercial vehicle met ʼn middelmatige asafstand … dan die 50 LWB en 50 LWB met oorhang.

Die model wat ons beproef het is die Crafter 35 Panel Van MWB. Dié Crafter word aangedryf deur VW se 2.0 TDI viersilinderturbodieselenjin. Die enjin bied 103 kW en 340 Nm deur ʼn 6-spoed handrat. Dié Crafter kan 7,3 ℓ/ 100 km handhaaf op die gekombineerde siklus – puik verbruik vir ʼn kleinsaak van nie al sy wins in brandstof wil verloor nie.

Die nuwe Volkswagen Crafter (Foto: Volkswagen)

Die Crafter kan 10,7 m3 laai en het ʼn maksimum gewig van 3,5 ton. Die wydte van die laaibak tussen die wielboë is 1,38 m en die laaibak is 3,2 m lank. Dit is die beste dimensies in dié klas. Die vloer is 570 mm van die grond af.

Volkswagen het ʼn reusespesifikasielys beskikbaar gemaak vir die nuwe Crafter. Die denkwyse daaragter is dat party van dié Crafters deur die eienaars self bestuur sal word. ʼn Mens kan ʼn hoë dak bestel, deure wat agter 270 grade kan oopmaak, twee skuifdeure aan die kante, LED-ligte, parkeerhulp en sensors, sleepwahulp wat help om ʼn sleepwa terug te stoot, truratkamera, baanbeheer, sleepstang, lugreëling, spoedbeheer, botsingswaarskuwing, swaardiens vering en ʼn tweede battery. ʼn Mens kan ook van VW se lekkerder klankstelsels kies.

VW se kommersiële voertuie is beperk tot 100 km/h. Dié Crafter benodig slegs ʼn Kode B-lisensie én ʼn mens kan by aankoop van die voertuig die spoedbeperking afskakel. Behalwe vir die yslike grootte ry die Crafter amper soos ʼn kar. Ek het hom gebruik om in Gauteng na vergaderings toe rond te ry en ditjies en datjies op te laai. Indien ek self met só ʼn bus moes ry – is die Crafter lekker gemaklik.

Die reeks lyk só:

VW Crafter 35 (MCV) PaneelwaR523 000
VW Crafter 35 (LCV) PaneelwaR603 500
VW Crafter 50 LWB PaneelwaR642 200
VW Crafter 50 LWB met oorhang PaneelwaR652 200

Dié pryse sluit BTW en uitlaatgasbelasting in. Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/ onbeperkte km waarborg asook ʼn 5 jaar/ 120 000km diensplan en 12 jaar korrosiewaarborg. Diensintervalle is 20 000km.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

marco polo ·

Lyk na n oulike bus. Gooi n bed en yskas in en daar gaan jy.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.