Volvo se XC90 sportnutsvoertuig wat waarskynlik eersdaags hier aanland, sal toegerus wees met dié vervaardiger se jongste tegnologie enjins. Hetsy petrol of diesel, sal die enjingrootte beperk word tot twee liters, maar kraguitsette sal tot 290 kW kan bereik – en dit met ‘n lae CO2-uitlaatgastelling van slegs 60 gm/km. Hierdie syfers kan tereg as revolusionêr beskryf word, aangesien dit onder die Zuma-regime se belastingvlak van 120 gm/km lê.
Benewens die gevorderde reeks enjins bied die XC90 ook vierwiel-aandrywing en sitplek vir sewe mense.
Hierdie reeks Drive-E enjins sal uiteindelik die basis van alle Volvo-enjins vorm en daartoe lei dat die huidige reeks 4-, 5- en selfs 6-silinderenjins na slegs 4-silinder kragbronne oorgeskakel word. Die basis van hierdie nuwe kragbronne is die gebruik van ‘n kompressor (supercharger) en die meer konvensionele turbo. Toekomsplanne maak ook voorsiening vir ‘n elektriese motor wat die agterwiele aandryf en volle wringkrag dadelik beskikbaar stel. Hierdie elektriese motor sal op sy eie ‘n reikafstand van 40 kilometers hê, terwyl die bekende T5 turbodiesel met sy 165 kW en 470 Nm wringkrag voorlopig steeds sal diens doen.
Kopers sal waarskynlik hulle beursies nadersleep vir die D4 turbodiesel wat 140 kW ontwikkel en liggies met brandstof omgaan in die orde van 5 liter/100 km.
Na verwagting sal die nuwe Volvo’s ons vroeg in die nuwe jaar bereik.