Volvo nóg veiliger

Volvo S60R Foto: Volvo

Foto’s volg onderaan die berig. Terwyl die meeste motors, selfs intreevlakwiele, deesdae redelik veilig is wat spesifikasies aanbetref, stu Volvo steeds voort om as die wêreld se veiligste motor gereken te word.

By Volvo is die insittendes se veiligheid nie net leë woorde nie, maar val die klem voortdurend en onophoudelik op statiese en dinamiese veiligheid.

Kyk gerus na die lang lys veiligheidskenmerke soos voetganger- en fietsryerbeskerming (Pedestrian & Cyclist Detection – PCD) wat van radar gebruik maak om skerp en dadelik te rem wanneer een van bogenoemde twee skielik voor ‘n Volvo inswaai. Die stelsel is so ontwerp dat die motor self rem.

Vaak en moeg – en die N1 lê in die nag soos ‘n bleek, dun stukkie tandeflos voor jou uitgestrek? Dis dan hier waar DAC (Driver Alert Control) jou lewe kan red. Hiervoor gebruik Volvo ‘n aantal sensors en ‘n beheereenheid wat voortdurend die afstand tussen die motor en die padstrepe meet. Die sensor stel dan vas wanneer die bestuurder op nalatige wyse begin swenk.

Wanneer die risikovlak hoog is, word die bestuurder deur ‘n luide sein gewaarsku – gevolg deur ‘n teksboodskap op die voertuig se inligtingskerm. Hierna verskyn ‘n stomende koppie koffie-simbool wat die bestuurder aanraai om af te trek en bene te rek.

Selfs die jongste aktiewe koplig-beheerstelsel (Active High Beam) vergemaklik die bestuurder se taak. Los die hoofligte op hul hoogste verstelling en ‘n sensor doen die afdompwerk wanneer ‘n voertuig snags van voor af kom. Dit geld ook vir voertuie wat snags van agter ingehaal word.

Toegegee, soos baie ander motors deesdae, het die jongste geslag Volvo’s ook doeltreffend LED-dagryligte, terwyl kantligte daarvoor sorg dat beligting sywaarts skyn wanneer gedraai word.

Vir baie van ons bly dit ‘n nagmerrie om uit ‘n parkeerplek te tru, maar die Cross Traffic Alert haal die angs uit hierdie prosedure. Dit voel amper asof die Volvo hierdie aankomende voertuie tot op ‘n afstand van 30 meter kan ruik. Wanneer ‘n ander voertuig of selfs ‘n fietsryer bespeur word, word die bestuurder se aandag deur ‘n waarskugeluid en ‘n boodskap op die info-skerm getrek.

Maar genoeg oor hierdie eienskappe wat van die jongste geslag 60-reeks Volvo’s sekerlik die veiligste voertuie op ons paaie maak.

‘n Mens kan ook opgewonde raak oor hierdie Sweedse wa se ultra-moderne ontwerp. Dit is aggressief-stylvol met vloeiende lyne en, in die geval van die XC, ‘n hoër grondvryhoogte wat hom ietwat bo sy stalmaats, die sedan en die sportwa, laat uitstaan. Selfs die ontwerp is meer gefokus op die gedagte van ‘n koepee eerder as die ou stasiewa wat lankal hier in ons land in onguns verval het.

Kortom, die drie modelle in die 60-reeks is almal uitsonderlik stylvol met selfs 19″-vellings wat getuig van die moeite wat die ontwerpers met hierdie opgeknapte modelle gedoen het.

Binne getuig die ontwerp van Skandinawiese uitnemendheid. Alle panele pas perfek, kontroles is ergonomies goed geplaas en maklik om te verstaan, en die sitplekke is van die bes gevormdes wat ek nog ervaar het. Enige van die drie modelle in die 60-reeks is die tipe motor waarmee ‘n mens in een dag van Pretoria Kaap toe kan ry – sonder om daardie afrug-gevoel te ervaar.

Soos gebruiklik by Volvo, het die koper ‘n uitgebreide keuse wanneer dit by enjins kom. Daar’s ‘n D5 vyfsilinder turbodiesel wat 158 kW en 440 Nm wringkrag optower, terwyl kleinboet D4 self 120 kW uitskop – en dit teen ‘n verbruik van net 5.3 liter/100 kilometers (vervaardigersaanspraak).

Volvo se gewilde 3-liter petrolenjin ontwikkel 224 kW en stuur sy krag via ‘n tweede geslag 6-gang Geartronic-ratkas na die opsionele 19″-wiele.

Maar hoe vaar Volvo tans in ons land? In Julie – volgens die Naamsa-verkopesyfers – het Volvo 209 eenhede verkoop. Hiervan was die topverkopers die gewilde S60 en die toenemend gewilde V40.

Na die onlangse bekendstelling in die Kaap – in nat en gevaarlike toestande wat die Volvo soos ‘n handskoen gepas het – het ek tog die indruk gekry dat Volvo sy man sal kan staan teen die Duitse Groot Drie (BMW, Audi, Mercedes-Benz).

Volvo’s het ‘n eksklusiewe gevoel wat die indruk laat dat dit spesifiek ontwerp en gebou is vir sy eienaar – ‘n begeerlikheidsaspek wat ander vervaardigers dikwels sukkel om te bereik.

Pryse begin by R329 500 vir die S60 T3-handratmodel tot by R622 600 vir die XC60 R Design T6 Geartronic met vierwielaandrywing.

As gehaltemotor vir die kieskeurige koper wat nie saam met die res van die trop wil draf nie, maar verkies om ietwat uit te staan, is enige van die opgekikkerde 60-reeks Volvo’s ‘n goeie kopie.

Volvo V60 Foto: Volvo

Volvo XC60 Foto: Volvo

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.