Vroue laat wiel met Motul

Motul en Honda het saamgespan om ‘n paar vroue die fyner kunsies van motorfiets ry te leer. (Foto: Sage Lee Voges.)

Daar is ’n ou Afrikaanse spreekwoord wat lui: “Klein begin, aanhou win.” Dit som vir my die hele #IconicWomen veldtog op. Dit het alles begin met die bemarkingsbestuurder van Shelby SA, Paige Lindenberg. Augustus is vrouemaand, en Lindenberg het ’n veldtog van stapel gestuur waar jy jou eie vroulike rolmodel kon nomineer wat ’n groot invloed op jou lewe gehad het. Dit het gou gegroei tot ’n veldtog waar vrouens hul passies met ander kon deel.

Lindenberg se nominasie het gegaan aan Mercia Jansen, areabestuurder vir Motul in Suidelike- en Oos-Afrika. Enige een wat haar al teëgekom het, sal saamstem dat haar glimlag en entoesiasme jou heeltemal oorrompel. Motul is baie nou betrokke by motorsport en Mercia staan haar plek vol in ’n bedryf wat tradisioneel deur mans oorheers word. Sy is aktief besig om jong vroue aan te moedig om ’n loopbaan te oorweeg in die motorbedryf se olie- en smeermiddelindustrieë.

Mercia het dadelik die geleentheid aangegryp om vroue te laat deel in haar passie vir motorfietsry. Om ook Motul se ondersteuning aan die #IconicWomen-veldtog te verleen, het Mercia besluit om ’n paar vrouens die kans te gee om te kom leer motorfiets ry.

Mercia Jansen kan nie wag om self weer die langpad met die motorfiets na die inperking aan te durf nie. (Foto: ZCMC 3)

Ek het haar gevra hoekom sy dink dat meer vrouens nie motorfiets ry nie. Ons was dit eens: die groot rede is dat motorfietse vir meeste vrouens intimiderend is. Sy vertel van soveel mans wat vir hul vrouens motorfietse koop, en dan is die fiets hopeloos te groot en te kragtig. Hulle bedoel goed, maar sit die pot dan heeltemal mis. Vir hierdie mans wil ek ook sê: “Klein begin, aanhou win.” Die stereotipering van vrouens op motorfietse is ook ’n groot struikelblok. Jy hoef nie rof en onbeskof te wees voor jy mag motorfiets ry nie. Mercia is ’n sprekende bewys dat jy net jouself kan wees en tog die vryheid van motorfietsry kan ervaar. En sy het eers begin ry toe sy 40 geword het.

Vyf wenners is aangewys en die opleiding het geskied by ADA se opleidingsfasiliteite. Honda Suid-Afrika het ook die dag ondersteun en het ’n groot reeks fietse saamgebring waaruit die ryers kon kies. Die groepie is verdeel in vrouens wat nog nooit gery het nie en dié wat al oor die basiese vaardighede beskik. ADA se opleiding is uitstekend. Sommer gou-gou het ’n paar vroue op die groot grasperk op en af gery. Hier en daar was daar ’n benoude gesiggie, maar bokant die maskers en deur die valhelm kon jy sien die oë lag. Die gevorderde groepie het meer vaardighede bygeleer, soos om veilig te kan stop op ’n grondpad. Een van die deelnemers, Adilia Joubert, het beaam dat sy motorfietse intimiderend gevind het. Sy het egter haar vrese oorkom en voel nou baie meer gerus om self verder te leer en op naweke saam met haar man te ry – op haar eie motorfiets.

’n Paar van die lesse wat geleer is op di dag kan jy net so maklik op jou eie lewe van toepassing maak: Wees altyd in beheer. Kyk altyd in die rigting waarheen jy op pad is. Beplan vroegtydig vir die draaie en geniet die reis.

In Vrouemaand was dit vir my heel bemoedigend om te beleef hoe vrouens kan saamspan en as rolmodel vir ander te kan optree. Iemand het vir Mercia gevra wat sy wil doen as hierdie grendeltyd verby is. Haar eenvoudige antwoord was: “Motorfiets ry en reis na plekke met ’n uitsig.”

Mercia, jy is nou sommer my rolmodel ook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.