VW gerat vir die toekoms

Foto: Verskaf

Die volgende twee dekades gaan reusagtig wees vir die motorbedryf.

Vir die afgelope drie dekades was die klem op veiligheid en toe brandstofverbruik. Reusevordering is met dié aspekte gemaak – nou kan die slim ingenieurs hulle aandag elders fokus.

Die volgende revolusie gaan oor elektrifikasie. Het ʼn vervaardiger elektriese voertuie? Is BEV (battery electric vehicles) die pad vorentoe of is dit eerder HEV’s (hybrid electric vehicles)?

Volkswagen is al ʼn tydjie besig om in dié segment voelers uit te steek, maar dinge moet nou begin spoed optel. Die Golf 8 wat aan die einde van 2020 in Suid-Afrika bekendgestel sal word, gaan waarskynlik die laaste binnebrand-aangedrewe Golf wees.

Foto: Verskaf

Volkswagen het ʼn paar produkte wat kom. Die ID3 is reeds ʼn elektriese voertuig wat rondry. Ek het selfs nou die dag een gesien naby Hartbeespoort. Ek neem aan hulle is hier om toetse in die warmer weer af te lê. Wat die ID3 uniek maak, is dat dit ʼn voertuig is wat van die begin af as ʼn elektriese motor ontwerp is; nie ʼn binnebrandvoertuig wat omskep word nie. Ongelukkig is die ID3 nie vir Suid-Afrika bevestig nie, maar die ID4 – ʼn sportnutsvoertuig – is reeds wel bevestig vir Suid-Afrika.

Nog ʼn ding waar Volkswagen probeer om ʼn baanbreker te wees, is met gedeelde voertuie in Afrika. Die resep sal nog getimmer word in Suid-Afrika en die res van die kontinent, maar daar is reeds sulke dienste in Europa. Jy teken in vir ʼn diens en betaal ʼn maandelikse bydrae. Indien jy ʼn voertuig nodig het, maak jy ʼn app op jou foon oop, kyk waar die naaste een is, bespreek hom, stap na hom toe en die app sluit die kar vir jou oop. Jy ry met hom en as jy hom parkeer, vat iemand anders hom weer.

Foto: Verskaf

My kop sukkel nog met die konsep, maar ons Suid-Afrikaners is uitermatig gewoond aan ten minste een voertuig van ons eie en ʼn gebrek aan openbare vervoer. In Europa het mense lankal die kopskuif gemaak dat dit nie nodig is om jou eie motor te besit nie.

Volkswagen is besig om hul app We Connect Go bekend te stel. Elke VW sal nou met ʼn dataprop toegerus wees wat met die voertuig se blikbrein kommunikeer en allerhande funksies oopmaak vir eienaars soos diensaanmanings, logboekdata wat ʼn mens kan gebruik vir belastingdoeleindes en bestuursvernufgraderings wat ʼn mens kan gebruik om jou bestuurstyl aan te pas sodat jy brandstof kan bespaar. ʼn Fantastiese funksie vir Suid-Afrika is die feit dat ʼn mens padbystand met die app kan versoek. ʼn Mens kan ook jou motor in die parkeerterrein opspoor met dié app.

Foto: Verskaf

Volkswagen het in 2019 ʼn markaandeel van 20,4% opgeraap. Dit is baie sterk. Hulle gaan aanhou om uit te haal en te wys in 2020 met die bekendstelling van twee nuwe T-Cross-modelle, die 1.0 Trendline en 1.5 Highline. Ons sal ook die fantastiese T-Roc en GTI TCR sien. Twee bekendstellings waarna ek verskriklik uitsien, is die T6.1 Caravelle met ʼn opgegradeerde dieselenjin en die 190 kW Amarok. Laat in die jaar sal ons nog ʼn beperkte weergawe Vivo sien wat hier in Suid-Afrika ontwikkel is, so wel as die Golf 8 en Tiguan se opknapping.

ʼn Opwindende jaar vir Volkswagen wat die weg sal baan vir die volgende paar dekades in Suid-Afrika. Volkswagen het ʼn vloot e-Golfs wat hier in Suid-Afrika is. Ons sal ʼn beurt met hulle kry en dan verslag doen daaroor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wielspore ·

Ons het onlangs eienaarskap geneem van ‘n nuwe TCross en die voertuig is toegerus met die App (We connect go). Het dit nog nie op my selfoon afgelaai, het dalk so bietjie hulp van die kinders nodig, ag ok, ek het die kinders se hulp nodig om dit af te laai. Sal graag wil sien watse tipe bestuurder ek is. Terloops, die TCross is ‘n puik voertuig met een die beste spoed beheer stelsels wat ek nog ooit teen gekom het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.