Waaghalse maak binnekort weer ʼn draai in Pretoria

Red-Bull-XFighter-Josh-Sheehan

Josh Sheehan het die 2014 Red Bull X-Fighter wêreldtoer in Pretoria gewen. Foto: Joerg Mitter/Red Bull inhoud.

Motorfietsentoesiaste en aanhangers van waaghalstoertjies sal verheug wees om te weet dat die Red Bull X-Fighters se motorfietswaaghalse beplan om weer in September vanjaar ʼn draai in die hoofstad te maak.

Dit is die vyftiende keer dat hierdie wêreldtoer aangebied word en vanjaar sal vier voormalige wenners dit uitspook om te bepaal of hulle vir ʼn tweede keer die titel as kampioen-motorfietswaaghals van dié gewilde toer agter hulle name kan skryf. Josh Sheehan, wat in Augustus die 2014-kampioenskap ten aanskoue van 22 000 aanhangers voor die Uniegebou in Pretoria verower het, sal sy titel teen drie voormalige kampioene moet verdedig, wat ewe vasberade is om die Australiër se plek aan die toppunt van een van die wêreld se motorfietswaaghals-reekse weg te raap. Ander voormalige kampioene wat vanjaar aan die reeks deelneem is Tom Pagès van Frankryk, Levi Sherwood van Nieu-Seeland en Dany Torres van Spanje.

Daar is vanjaar ook twee nuwe stede by die wêreldtoer gevoeg, wat beteken die waaghalse sal hulle toertjies teen die horison van stede soos Athene in Griekeland, asook die Verenigde Arabiese Emirate uitvoer.

2015 kalender vir die Red Bull X-Fighters wêreldtoer:

  • 6 Maart: Mexikostad, Mexiko
  • 12 Junie: Athene, Griekeland
  • 10 Julie: Madrid, Spanje
  • 12 September: Pretoria, Suid-Afrika
  • 30 Oktober: Verenigde Arabiese Emirate

Kaartjies vir die plaaslike ronde van die wêreldtoer kan direk by Red Bull X-fighters se webwerf bespreek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.