We Buy Cars: ʼn Skoolseun se droom word ʼn suksesvolle onderneming

We Buy Cars is vandag ʼn indrukwekkende onderneming weens sy kreatiewe gebruik van tegnologie en sy unieke metodologie – en dit het alles dekades gelede begin as een man se droom.

Faan van der Walt het al gebruikte motors gekoop en verkoop toe sy skoolmaats nog gewonder het wat hulle eendag wil word. As die stigterslid en uitvoerende direkteur van We Buy Cars staan hy nou aan die hoof van die aankope en verkope van ongeveer 3 000 motors per maand.

As daar ooit iets soos ʼn “reekskoper” bestaan, dan is Faan van der Walt definitief ʼn goeie voorbeeld.

Dié Bronkhorstspruit-skoolseun het, toe hy nog op hoërskool was, ʼn motorfiets gekoop, dit herstel en vinnig weer verkoop – vir ʼn klein wins. Hy het besef hy het ʼn idee beet en gou sy volgende herstelprojek aangeskaf. En só het die proses voortgeduur: koop, maak reg, verkoop. Koop, poets, verkoop.

Ná skool het sy stokperdjie voortgeduur terwyl hy homself as ʼn onderwyser gekwalifiseer het.

“Ek was elke Donderdagoggend om 05:00 by Junkmail se hoofkantoor, gereed om die nuwe uitgawe te koop. Ek het minder as ʼn uur gehad vandat ek die papierweergawe in my hande gehad het totdat ek in die personeelkamer by die skool moes aanmeld. Ek moes winskopies uitsnuffel, bel en dan vir die verkoper vra om dit vir my te hou totdat ek dit ná skool kon gaan sien,” onthou Van der Walt.

In daardie stadium het hy reeds ʼn duidelike modus operandi gehad wanneer hy motors gekoop het om weer te herverkoop.

“Ek het op motors gefokus wat maklik sou verkoop, soos ʼn Toyota Corolla, Volkswagen Citi Golf of Honda Ballade. ʼn Goeie koopprys, met ʼn groot genoeg buffer om ʼn wins te maak, was natuurlik belangrik. Maar in daardie stadium was my ‘onderneming’ tot drie motors beperk.”

Van der Walt en sy vrou het in 1998 besluit om as onderwysers in die Verenigde Koninkryk te gaan werk.

“My broer Dirk, wat besig was met sy graad in bemarking by Tuks, het die beskermheer van die onderneming in Suid-Afrika geword, nadat ek hom alles geleer het wat ek weet,” verduidelik hy. “Nie dat ek in Engeland opgehou het om motors te koop en te verkoop nie. Ek het ʼn Nissan Micra gebruik om daagliks mee rond te ry. Ek was baie beïndruk met dié karretjie. Toe ek na Suid-Afrika terugkeer met ongeveer R300 000 wat ek gespaar het, het ons amptelik ʼn gebruiktemotor-onderneming begin en dit Micra Motors gedoop.”

Hierdie kontantinspuiting het ʼn groot impak op die onderneming gehad. In plaas van drie motors, kon die Van der Walt-broers nou bekostig om meer voorraad aan te skaf. Teen 2001 het die onderneming uitgebrei met hul nuwe webuycars.co.za-webwerf.

Die broers het voortdurend hul benadering aangepas by ʼn dinamiese omgewing, insluitend die ekonomiese krisisse van 2003 en 2008, deur van nuwe benaderings, filosofieë en strategieë gebruik te maak.

Hulle was oortuig hulle moet die motors bekom voor die eienaar nog daaraan dink om dit publiek te verkoop. Hulle het aggressief hul eie dienste begin bemark.

Kort daarna het Micra Motors se naam verander na We Buy Cars Pty Ltd. Tydens die volgende dekade het dit sommer baie goed gegaan met die onderneming, maar Van der Walt sê hy het ook besef hy het te veel hooi op sy vurk.

“Ek moes van die verantwoordelikheid oorgee om ons groei, doeltreffendheid en diensvlakke te ondersteun. Ons het in 2012 ons eerste koper aangestel. Dit was die beste besluit wat ons ooit gemaak het. Van daar af het ons onderneming net hoër vlakke bereik.”

Vandag verhandel die maatskappy tot 3 200 motors per maand, en het meer as 80 kopers landswyd. We Buy Cars het ook meer as 120 bestuurders wat motors oplaai en oral oor aflewer. Die maatskappy se hoofkantoor is in Midrand gebaseer met meer as 1 000 motors. Daar is ook groot verkoopsfasiliteite in Kaapstad, Durban en Pretoria. Byna 500 persone werk by die maatskappy.

“Ons dryf handel met groot hoeveelhede motors en alhoewel ons winsmarge nie hoog is per voertuig nie, kan ons vinnig voorraad uit die vertoonlokaal skuif. Ons het ook goeie verhoudings met groot gebruiktemotorhandelaars,” voeg Van der Walt by.

Klante kan ook motors by We Sell Cars aankoop, die verkoopsarm van We Buy Cars. Die maatskappy bied ook finansiering en verlengde waarborge.

Voornemende verkopers kan besonderhede en foto’s van hul voertuie aanlyn publiseer op die webuycars.co.za-webwerf. ʼn Span van We Buy Cars hersien dan elke plasing en die prys wat die verkoper wil hê. Die span reageer dan, op meriete, met ʼn moontlike aanbod en neem die boekwaarde, handelswaarde, jaar van vervaardiging, toestand, kilometerlesing en verskeie ander faktore in ag.

Wanneer ʼn verkoper belangstel in die voorgestelde aanbod, word ʼn koper van die maatskappy gestuur om die voertuig in persoon te ondersoek en inspeksie te hou. Indien ʼn ooreenkoms aangegaan word, neem die administrasiedepartement van We Buy Cars oor. Alle aspekte van die koop- en verkoopproses word deur die maatskappy se geïntegreerde digitale platforms hanteer en hierdie, gewoonlik moeisame, proses, word baie vergemaklik deur We Buy Cars.

Hul groot databasis en uitstekende tegnologiestelsel speel dus ʼn groot rol by We Buy Cars. “Sonder ʼn yslike belegging in tegnologie en stelsels oor talle jare, sou ons maklike koop- en verkoopproses byna onmoontlik gewees het,” verduidelik Van der Walt.

Hy het gesê die onderneming brei ook uit omdat meer klante hulself wend tot die gebruiktemotormark.

“Ons het onlangs ʼn aandeel in die maatskappy verkoop aan Fledge Capital, ʼn groot beleggingsmaatskappy. Fledge se kennis word bygevoeg tot ons ervaring in dié bedryf. Die maatskappy verstaan ook die tegnologie-landskap. ʼn Groot deel van die belegging word gebruik om ons tegnologie selfs nog verder te verbeter.

“Ons glo die Fledge-belegging verteenwoordig ʼn nuwe vennootskap wat We Buy Cars in staat sal stel om sy voetspoor en onderneming uit te brei. Hulle help ons byvoorbeeld om ook ons aanbod uit te brei na gebruiktemotor-veilings. Ons voeg ook bykomende pakhuisspasie by.”

We Buy Cars in getalle:

  • Tot dusver is meer as 45 000 motors aangekoop
  • Altesaam 52% van transaksies is verwysings of klante wat terugkeer
  • We Buy Cars het kopers in alle groot stede reg oor al die provinsies
  • 2,9 miljoen – die getal kilometers wat die afgelope 12 maande afgelê is deur We Buy Cars om klante te besoek
  • 1 – die getal motors wat sedert 2001 van We Buy Cars gesteel is
  • 4 – die getal voormalige onderwysers in die maatskappy se topbestuur
  • 12 – die getal jare wat Faan en Dirk van der Walt die enigste kopers was vir We Buy Cars
  • 1938 – die oudste voertuig wat ooit deur We Buy Cars aangeskaf is
  • 1 145 – die getal motors wat deur wesellcars.co.za te koop aangebied word

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.