Welkome groei in voertuigverkope in Oktober

Die Volkswagen Polo Vivo (Foto: Volkswagen)

Die totale voertuigverkope vir Oktober vanjaar was die hoogste maandelikse totaal van enige maand sedert Oktober 2015. Altesaam 51 866 nuwe voertuie is verhandel – ’n verbetering van 844 eenhede teenoor Oktober verlede jaar.

Nuwe passasiersmotors het na 35 050 nuwe eienaars gegaan, terwyl verkope van ligte handelsvoertuie tot 14 168 eenhede opgeskiet het.

Onder die Top Tien-vervaardigers het Toyota uiteindelik sy 25%‑doelwit van die totale Suid-Afrikaanse mark behaal met ’n skitterende 13 342 verkope. Dis ’n indrukwekkende 1 000 eenhede meer as in September vanjaar.

Vir Toyota was die algehele topverkopers die Hilux (3 352), Corolla/Auris/Quest op 2 161 en Quantum op 1 483 eenhede wat verkoop is. Selfs Fortuner op 1 178 verkope het tot dié vervaardiger se goeie verkoopsyfers bygedra, terwyl Etios se redelik beskeie 885 verkope ook ’n rol gespeel het. Dié maatskappy se Lexus-afdeling spook egter om by te bly by onder meer Jaguar (122) deur net 70 kopers te oorreed om beursie uit te haal.

Volkswagen (8 983) bly gemaklik in die tweede plek algeheel met nagenoeg 400 eenhede meer, met die topverkoperpassasiersmotor, Polo Vivo (3 009) en Polo op 2 824 verkope wat die pas aangegee het. Die Tiguan (684) en Golf 7 op 304 verkope het ook mooi bygedra, maar die Amarok se 247 totaal is selfs swakker as Hyundai se betreklik nuwe H100‑bakkie wat na 384 nuwe eienaars gegaan het.

Die Ford Ranger (Foto: Ford)

Ondanks ’n geringe daling van 88 eenhede vir ’n totaal van 5 421 bly Ford steeds in die derde plek algeheel met Ranger (2 575) wat goed vaar. Figo (840) en Fiesta op 888 verkope tel onder Ford se sterre, terwyl kopers klaarblyklik bereid is om hul name op ’n waglys te plaas vir Mustang (72).

Na etlike jare in die sesde plek het Nissan nou die vierde plek blykbaar sy eie gemaak met ’n totaal van 4 902 verkope – 140 eenhede minder as in September. Nissan se presteerders is NP200 (1 888) en NP300 op 704 verkope. Die toekoms lyk egter duister vir die Hardbody (117) wat in onlangse veiligheidstoetse as lewensgevaarlik uitgewys is in botstoetse teen 65 km/h. Nissan se passasiersmotors vaar ook redelik met Almera (542), Datsun GO (310) en X-Trail se 197 verkope wat die ligstraaltjies verskaf.

Met ’n verbetering van meer as 200 eenhede vir ’n totaal van 3 160 verkope, bly Hyundai stewig in die vyfde plek danksy Grand i10 op 900 verkope, Creta op 324, en die reeds vermelde H100‑bakkie se 384 verkope. Dié maatskappy se sportnutsvoertuie sukkel maar met Santa Fé se beskeie drie eenhede, en Tucson op ’n ietwat teleurstellende 264 verkope.

Die verrassing van die maand is egter Isuzu wat met sy 2 426 totaal bykans 1 000 eenhede meer verkoop het as in September en terselfdertyd opgeskuif het van agtste algeheel tot ’n indrukwekkende sesde plek. Isuzu se sukses is hoofsaaklik te danke aan KB (1 638) en D-Max met 123 verkope. Alle Isuzu-bakkies sal voortaan D-Max heet.

Renault, wat nou sewende is en met 2 364 verkope altesaam 230 eenhede minder as in September verkoop het, het een plek afgeskuif, maar maak steeds staat op Kwid (733), Clio IV (476) en Sandero II op 750 verkope om sy totaal op te kikker.

Die Kia Picanto 1.2 Smart. Foto: Verskaf

Goeie nuus vir KIA is dat sy totaal van 1 400 nie net 50 eenhede beter was as September se verkope nie, maar ook gesorg het vir ’n verbetering van tiende tot agtste algeheel. KIA se presteerders was oudergewoonte Picanto (781) en Rio met 301 verkope, terwyl sy sportnutsvoertuie soos die Sorento (33) en Sportage (125) veel beter behoort te doen.

Die onderste twee plekke op die rangleer behoort aan die twee Duitse topverkopers van weleer. BMW (1 382) bly in die negende plek, terwyl Mercedes-Benz (1 347) diep sal moet nadink oor die sewende plek wat dit in September beklee het.

Daar is egter roeringe onder die vervaardigers wat tans buite die Top Tien val. Mazda (1180) is ’n kortkop voor Suzuki se 1 103 verkope, en daar word wyd verwag dat die nuwe Jimny 1.5 die bordjies gaan verhang. Weens die wêreldwye aanvraag sal Suzuki egter gelukkig wees om 200 eenhede van hierdie nuweling in die hande te kry om aan die vraag in November te voldoen. Ek verwag dat Suzuki Mazda in November gaan verbysteek en reeds Mercedes-Benz in sy visier het.

Jaguar/Land Rover se totaal was 401 waarvan die Jaguar-handelsmerk se 122 verkope bykans twee keer meer as Lexus was.

Die Volkswagen Amarok (Foto: Volkswagen)

Volvo spook steeds om ’n noemenswaardige totaal te behaal en sy 212 totale verkope behoort minstens 300 per maand te wees.

Onder die invoerders van überluukse voertuie het Bentley goed gevaar met ’n indrukkende 10 verkope, Porsche op ’n uitsonderlike 178, wat waarskynlik ’n nuwe rekord is, en vyf verkope elk vir Maserati en Ferrari. Niemand het egter daarin belanggestel om die puik Audi A8 aan te skaf nie.

Intussen het wêreldwye ekonomiese opswaai ’n positiewe impak op die Suid-Afrikaanse voertuiguitvoere en word verwag dat ons 385 000 eenhede sal uitvoer teenoor ’n aanvanklike skatting van 340 000 eenhede. Hou egter in gedagte dat ’n land soos Australië – met ’n bevolking van 21 miljoen – elke jaar ’n miljoen voertuie binnelands verkoop. En dit met ’n bevolking die helfte so groot soos ons s’n.

Top 10‑passasiersmotors:

Volkswagen Polo Vivo 3 009
Volkswagen Polo 2 824
Toyota Corolla/Auris/Quest 1 879
Toyota Yaris 1 729
Toyota Fortuner 1 178
Hyundai Grand i 10 900
Ford Fiesta 888
Toyota Etios 885
Ford Figo 840
KIA Picanto 781

Top 10 ligte handelsvoertuie:

Toyota Hilux 3 352
Ford Ranger 2 575
Nissan NP200 1 879
Isuzu KB 1 636
Toyota Quantum 1 483
Nissan NP300 704
Hyundai H100 384
Volkswagen Amarok 247
Volkswagen Caddy 245
Mahindra Scorpio Pik Up 200

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Netso ·

En wie glimlag die breedste? Jan Tax en die gravy-tryn bende! Tussen invoerbelasting, Btw, co2 tax en die lisensie departimente gan maak maar die som?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.