Zontes ZT310-X ʼn stylvolle pendelfiets

Die Zontes ZT310-X. Foto: Brian Cheyne

Nie baie lank terug nie het ons maar erg neergesien op produkte uit Japan. Selfs ’n naam soos Toyota is baie skepties benader.

Deesdae geld daardie opvatting vir Sjinese produkte, maar selfs húlle is besig om hand oor hand te verbeter. Zontes is ’n Sjinese vervaardiger wat my die afgelope tyd beïndruk het en nou nog ’n nuwe model bekend gestel het.

Ek het laas jaar die ZT310-R gery, en hierdie model het loshande die mooiste ontwerp van al die fietsies in hierdie segment gehad. Dit was nogal braaf van Zontes om sy 310 terselfdertyd as BMW se G 310 R bekend te stel. Nadat ek die Zontes gery het, het ek besef hierdie fiets hoef nie terug te staan vir die mededingers nie.

By die 2018 Bike Festival het Zontes ons ’n voorsmakie van die nuwe ZT310-X gegee en ek kon uiteindelik ’n been oor die nuwe buksie gooi. Met elke nuwe model kan jy sien waar die nuweling verbeter het.

Die Zontes ZT310-X. Foto: Brian Cheyne

Die 310-X lyk nou selfs mooier as die ZT310-R, iets wat ek nie gedink het moontlik kan wees nie. Die voorkant kry aggressiewe stilering met dagry-LED-liggies. Die ontwerp herinner nogal aan die Kawasaki H2. Die windskermpie kan elektries verstel, maar het net twee posisies. Daar is heelwat meer kantpanele op die X as op die R, en die flikkers is netjies geïntegreer in die sypanele. Ek wens net Zontes wil 3c meer bestee en ’n ordentlike naamplaatjie op die tenk aanbring.

Die saal is laag en baie goed gevorm. Ek het egter ervaar dat daar nie veel greep in die materiaal is nie. Jy skuif hopeloos te maklik rond op die saal, en onder harde remming eindig jy teen die tenk, of jy nou wil of nie. Vir sy sportiewe streek het die 310-X twee kort uitlaatpypies en die stert wip op soos dit ’n sportfiets betaam.

Die remme op die Zontes is toegerus met sluitwering voor en agter, maar jy vat so ’n rukkie om gewoond te raak aan hulle. Daar is geen aanvanklike byt nie, en jy moet maar die handvatsel met mening trek om die fiets tot stilstand te bring. Ek het dieselfde ervaring op die R gehad, maar as jy dit gewoond is, is die remme tog heel aanvaarbaar.

Die Zontes ZT310-X. Foto: Brian Cheyne

Die verrigtingsyfers op die Zontes het my verbaas: 26 kw teen 9 500 rpm uit ’n 312 cc-enjin is nie te versmaai nie. Met onderstebo voorvurke en verstelbare vering agter was die hantering soortgelyk aan sy mededingers. Vir so ’n klein fietsie beweer Zontes dat hy 160 km/h kan haal. Die fietsie was nog nuut, so ek wou hom nie te hard druk nie, maar te oordeel na hoe maklik hy by die spoedgrens kon hou, sou ek dink dit is haalbaar.

Die brandstoftenk hou ’n volle 15 L en as ’n mens kan glo wat die brosjure sê, behoort hierdie fiets oor die 400 km te kan aflê voordat hy weer voggies sal benodig.

Die Zontes ZT310-X. Foto: Brian Cheyne

Die grootste verandering op die X is in die instrumentasie. Dit bevat nou ’n groot vloeikristaleenheid, hoewel die meeste spasie daar opgeneem word deur die toereteller. Die eenheid is duidelik leesbaar en bevat ook nou die fiets se gemiddelde brandstofverbruik. Die kontroles op die handvatsels is verlig wat dié fiets nogal luuks maak. Die fiets het ook nie ’n sleutelgat nie. Die sleutels bly in jou sak.

’n Mens moet objektief kyk na die ZT310-X en nie met sekere vooraf opgestelde menings met hom ry nie. Dit is ’n uiters bekwame pendelfietsie. Hy hou maklik by verkeer by en selfs teen hoër spoed het die enjin glad nie gevoel asof hy sukkel nie.

Later vanjaar bring Zontes sy eie avontuurfiets, die 310-T, uit en die prys behoort uiters mededingend te wees. Ek hoop regtig dat hierdie vervaardiger vastrapplek kry hier in Suid-Afrika. Sy handelaarsnetwerk behoort op 15 te staan teen die einde van 2019.

Die ZT310-X verkoop teen R68 900.

Produkblad: https://www.zontes.co.za/zt310-x-blue/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Koos ·

Ek hoop hierdie Sjinese produkte kan in SA herstel word indien nodig en dat parte maklik bekombaar is.

Vraagteken ·

Hi Brian, ek weet nie of ek met van jou stellings mooi saamstem nie. Die Honda CB750 is in 1969 bekendgestel. Dit will sê dat die’ spesifieke motorfiets al 50 jaar op die mark is (die gebruik van die woorde “Nie baie lank terug het ons maar erg neergesien op produkte uit Japan” is baie onvanpas). Die Hayabusa is nou al 20 jaar oud. My punt: Ons is al lank verslaaf aan Japan se produkte.

Verder, al Japan se produkte is uiters betroubaar – en hulle was betroubaar vandat hulle in SA verkoop was in die 60’s. Ek weet hoe sukkel werktuigkundiges om onderdele vir Sjinese produkte te kry, en hoe die’ motorfietse sukkel om noemenswaardige kilo’s te doen.

Laaste punt, ‘n Kawasaki Versys-X 300 kos ongeveer R75 500.00. Hoekom sal ek net 10% van die koste probeer spaar op ‘n produk wat 1) geen reputasie het nie, 2) baie min agente het, en 3) ‘n produk, gebasseer op ervaring van ander Sjinese vervaardigers, nie gaan hou nie, teenoor ‘n produk van Japan?

Ja, hy mag dalk goed op papier wees en baie mooi lyk, maar daar is baie vrae wat nog geantwoord moet word.

Brian Cheyne ·

Ja, jy is reg. As ek die stelling weer lees, dan besef ek, ek begin klink soos my pa. Hy het altyd die term “nou die dag” gebruik. Nou dit kon enige iets van eergister tot 10 jaar terug gewees het. Miskien is dit baie lank terug, maar ek onthou die term “Jap-scrap” maar al te goed. BMW en KTM se klein fietsies word in Indie aanmekaargesit en BMW se nuwe X400 bromponie kom van Sjina af, so ek dink die punt wat ek wou maak is dat ons ‘n persepsie het dat enige iets wat nie uit Japan of Duisland kom nie, gemors is, en na 100km uitmekaar gaan val. Ek het geen rede om te twyfel oor hierdie fiets nie, en ja, prysgewys gaan jy seker ‘n Japanese fiets vat, of dalk die Duister wat van Indie af kom.

Dalk oor nog ‘n paar jaar, as die produk homself bewys het ( of nie ), praat ons weer. En dan gaan een van ons moet bieg die ander een het ‘n punt beet gehad.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.