ʼn Boer maak ʼn plan!

Foto verskaf deur Sakeliga KragDag

Tydens die elfde KragDag-ekspo wat vanjaar van 8 tot 10 Augustus in Pretoria plaasvind, kan besoekers na nóg ʼn eerste uitsien: ʼn Landbou-sub-ekspo is vanjaar deel van Sakeliga KragDag 2019.

Alhoewel die idee, om landbou meer prominent deel te maak van die ekspo, al vir ʼn geruime tyd in die gedagtes van die organiseerders van KragDag leef, was die realisering daarvan die gevolg van die ywer van die Bronkhorstspruit Veestudiegroep en dit het uitgebrei tot ʼn gesamentlike projek van KragDag en TLU SA.

Daarom is die tema van die Sakeliga KragDag 2019 ekspo dan ook ʼn Boer maak ʼn plan!

In ag geneem KragDag se ligging, aan die ooste van Pretoria, was ʼn landbou-uitstalling ʼn logiese byvoeging tot die bestaande ekspo. Met die fokus op presisie- en intensiewe boerderypraktyke bied die Landbou-sub-ekspo aan kommersiële boere sowel as kleiner-area boere toegang tot sprekers en tema-uitstallers en die geleentheid om ekstra waarde tot hulle landboubedrywe toe te voeg.

Afgesien van die 350 bestaande KragDag-uitstallers, word voorsiening gemaak vir ’n addisionele 125 landbou-uitstallings en ’n propvol program met sprekers soos dr. Faffa Malan van RUVASA, dr. Chris van Dijk van die MPO (Melkprodusente-organisasie), Felix Reinders van die LNR (Landbounavorsingsraad), dr. Karin en Manie Wessels van MAMRE en Dormer Stoet en Danie Bruwer, die Zoëtis Intensiewe Skaapboer van 2018, om maar ʼn paar te noem. Besoekers word verseker van ʼn omvangryke lys lesings oor verskeie onderwerpe binne die landboubedryf en die aanbiedinge beloof om besoekers met kundigheid en hernieude entoesiasme te bemagtig.

Afgesien van die programme in die twee lesingsale, sal daar ook verskeie demonstrasies en vermaak in die arena aangebied word. Berede boogskiet en Middeleeuse gevegsaanval, hommeltuigdemonstrasies asook boeresport is van die aktiwiteite om te verwag.

Die Landbou-sub-ekspo bied ook verskeie kompetisies aan. Vir die vleisskaapboere: Weet jy wat die verbruikersmark van jou vleisgehalte verwag? Weet jy of jou lam op die hoef die verbruiker op die rak tevrede stel? Kom neem deel aan die opwindende Diamond L Abattoir Slaglam-kompetisie met beoordeling deur SAMIC (South African Meat Industry Company)! Die slaglamkompetisie word geborg deur Barnlab Veevoere en inskrywings sluit 31 Julie 2019. Of jy nou ʼn kommersiële- of kleinboer is, skryf in en leer saam!

Enige navrae kan gerig word aan Sinette Pretorius by 087 231 1644 of [email protected]. KragDag-besoekers gaan ook deur die bespreking van die wenkarkasse tydens die ekspo saam leer oor goeie vleissnitte.

Die Landbou-sub-ekspo by KragDag bied ook ʼn unieke geleentheid vir kinders om hulle entrepreneursvaardighede vanaf ʼn jong ouderdom binne landbou te slyp. Dit is daarom vir KragDag ʼn groot voorreg om as gasheer op te tree vir die Toyota Junior Afslaerskampioenskappe vir Gauteng asook Toyota Jong Afslaerskampioenskappe vir Gauteng aangebied deur Veeplaas. Hierdie kompetisie is vir die eerste keer in 2013 aangebied in samewerking met Veeplaas en Stockfarm. Deelnemers word beoordeel volgens hulle vertoning op die rostrum, kennis van die vee en bedryfskennis. Die wenner dring deur na die finale rondte wat by die Alfa Expo in Parys aangebied word. As jy dink jy kan die kroon dra as die beste jong afslaer in die land, is hierdie kompetisie perfek vir jou! Kontak Michelle by [email protected].

Die KragDag Landbou Sub-Ekspo beloof om die nostalgie van ʼn vervloë landbouskou met die moderne, innoverende, tegnologies gevorderde hedendaagse ekspo moeiteloos te verweef!

Met ʼn gemeenskap se harte wat warm klop vir landbou, die borge se ondersteuning, vermaak vir die kleingoed en heerlike eet- en drinkgoed, is 8 – 10 Augustus ʼn datum om aan te teken!

Moet die ekspo nie misloop nie!

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.