’n Dag in die ruimte: wat doen ruimtevaarders op die IRS?

(Foto: NASA)

Net soos vir almal hier op aarde het ruimtevaarders aan boord van die Internasionale Ruimtestasie (IRS) ʼn daaglikse roetine. Ruimtevaarders se roetine word deur ʼn vlugbeplanner op aarde uitgewerk sodat hulle elke dag genoeg tyd het om te werk, eet, slaap en ook te rus.

Net soos met mense op aarde is dit belangrik om ʼn balans te handhaaf sodat ruimtevaarders hulself nie oorwerk nie. Die tyd op die IRS moet volgens ʼn rooster beheer word omdat die konsep van dag en nag nie bestaan nie. Die IRS wentel omtrent elke 90 minute om die aarde, wat beteken dat die son elke 45 minute opkom en dan weer 45 minute later sak.

Maar hoe lyk ʼn tipiese dag in die lewe van ʼn ruimtevaarder aan boord van die IRS?

(Foto: NASA)

Oggendroetine:

Vir ruimtevaarders is ʼn higiëniese roetine net so belangrik soos vir mense op aarde. Elke oggend was hulle hul lyf en hare, borsel tande en skeer – net soos hulle hier op die aarde sou doen. Die enigste verkil is dat hulle dit ʼn bietjie anders moet aanpak.

Om byvoorbeeld hare te was, gebruik ruimtevaarders ʼn spesiale sjampoe wat nie afgewas hoef te word nie. In die foto kan ons sien hoe Karen Nyberg haar hare was. Eers maak sy haar hare nat met ʼn bietjie water, vryf dan die sjampoe in en vryf dit dan weer uit met ʼn handdoek. Sy kam haar hare met ʼn kam uit en laat dit natuurlik droog word. Kyk die video.

(Foto: NASA)

Ruimte-etes:

Ruimtevaarders eet drie keer per dag, naamlik ontbyt, middagete en aandete. Maar nie alle kos is dieselfde as hier op aarde nie. In die ruimte word kos verpak sodat dit makliker geëet kan word en ook sodat dit nie ʼn groot gemors in die gravitasielose omgewing maak nie. ʼn Goeie voorbeeld hiervan is byvoorbeeld die gebruik van sout en peper. Sout en peper word wel beskikbaar gestel aan die ruimtevaarders, maar dit is so bietjie anders as hier op aarde. Omdat daar nie gravitasie is nie, kan ʼn korreltjie peper of sout groot probleme in ʼn ruimtetuig veroorsaak, soos sout- en peperkorrels wat rondvlieg kan maklik ingeasem word, in iemand se oog beland of selfs ʼn blokkasie in die lugfiltreringstelsel veroorsaak. Dus word sout en peper in ʼn vloeibare vorm beskikbaar gestel.

Etes aan boord van die IRS sluit, onder meer, vrugte, neute, hoender, biefstuk, seekos, lekkernye, brownies en selfs pizza in. Alhoewel daar ʼn oondjie is waarin kos warm gemaak kan word, is daar geen yskas nie en alle kosse word vakuumverpak om te verseker dat dit vars bly. Kyk hier na ’n pizza-aand in die ruimte.

(Foto: NASA)

Werk in die ruimte:

Die hooffokus van ruimtevaarders is wetenskaplike navorsing wat slegs in ʼn gravitasielose omgewing uitgevoer kan word. Die bemanning van die ruimtestasie spandeer hul dae aan projekte wat sowel hul insette verg as die monitering van projekte wat vanaf die aarde uitgevoer word. Hulle neem ook deel aan mediese eksperimente wat insluit die uitwerking van geen gravitasie op die menslike liggaam oor ʼn verlengde tydperk. Die langste wat een mens al buite die aarde se gravitasie spandeer het, is, 438 dae.

Om op die ruimtestasie te werk, behels ook die instandhouding en gesondheid van die IRS. Die bemanning van die IRS, wat tans slegs ses ruimtevaarders is, is verantwoordelik vir die bywerk van rekenaartoerusting, monitering van noodsaaklike oorlewingstoerusting en die skoonmaak van verskeie water- en lugfiltreringstelsels. Ruimtevaarders kry daagliks nuwe instruksies en planne vanaf die vlugbeplanners op aarde wat hul daaglikse roetines uiteensit.

(Foto: NASA)

Ruimtefiksheid:

Oefening en fiksheid is ʼn baie belangrike deel van elke ruimtevaarder se daaglikse roetine om te verseker dat hulle gesond bly en ook om te verseker dat hulle so min as moontlik been- en spiermassa verloor. Spesiale toerusting word gebruik vir oefening in ʼn gravitasielose omgewing en sluit, onder meer, ʼn elektroniese hardloopbaan en oefenfiets in.

(Foto: NASA)

Vryetyd in ʼn ruimtetuig:

Net soos hier op aarde is vryetyd ʼn baie belangrike deel van ruimtevaarders se daaglikse roetine. Ruimtevaarders kry genoeg tyd om te slaap (agt uur) en ook om ʼn bietjie te rus. Ruimtevaarders kry ook afnaweke en moet dus een of ander stokperdjie hê om hulself mee besig te hou deur, onder meer, te kyk na films, boeke te lees, musiek te maak of, as hulle nie met hul families praat nie, speel hulle saam kaart of geniet net die besonderse uitsig.

Hier onder is ʼn lekker fotoalbum wat ʼn bietjie beter insig gee oor lewe op die Internasionale Ruimtestasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.