Nasa se nuwe tuig is op Mars

Nasa se InSight-robottuig het dié foto van homself en die Marslandskap geneem met die kamera wat op sy arm gemonteer is. Insight is Nasa se soveelste tuig op dié planeet en die volgende een is Mars2020 wat aktief na bewyse van lewe sal soek. Foto: Nasa/JPL

Die jongste robottuig, InSight, het dié week op Mars geland en sy sonpanele is suksesvol ontplooi, maar daar is amper vergeet van nóg ʼn sukses van die sending.

Twee nanosatelliete, so groot soos aktetasse, is saam met die tuig die ruimte ingestuur, om te sien of dit moontlik is dat hulle vir so lank diep in die ruimte kan oorleef. Die twee is “Eve” en “Wall-E” gedoop, na die robotte in die film Wall-E.

Binne agt minute nadat InSight op Mars geland het, het die twee nanosatelliete inligting teruggestuur. Dit is ook die tyd wat radioseine neem om tussen die aarde en Mars te reis, het Nasa in ʼn verklaring gesê.

Dit was baie vinniger as om vir die ander tuie wat om Mars wentel, te wag, omdat hulle nie in die regte posisie was om die hele landing waar te neem en dadelik boodskappe terug te stuur nie.

Nasa se Odyssey-wenteltuig het die eerste boodskappe van InSight na die aarde gestuur. Dit was om te bevestig dat sy sonpanele – wat elk 2,2 meter wyd is – ontplooi is, sodat hy elke dag sy batterye kan laai. Die son is flouer daar omdat dit verder van die son af is.

ʼn Kunstenaarsvoorstelling van hoe InSight – so groot soos ʼn groot motor – met sy sonpanele en instrumente ontplooi, op Mars lyk. Voorstelling: Nasa/JLP

InSight het nie baie krag nodig nie – net 600 tot 700 watts per dag – om sy eksperimente te doen. Binne die komende dae sal foto’s geneem word van die omgewing sodat kenners kan besluit waar die beste plek is om die wetenskaplike instrumente neer te sit. Dit sal twee tot drie maande neem voordat die instrumente ten volle ontplooi is en data terugstuur, volgens Nasa se mediapakket.

Intussen sal sensors op die tuig lesings van die magneetveld en die weer neem. Die doel van dié sending is om die hart van die planeet te ondersoek – sy binnekant. Wat is sy polsslag (seismologie) en temperatuur. Die instrumente sal onder die oppervlak boor om die vingerafdrukke van hoe die planeet gevorm het, te ontdek.

Dit sal dus nie soos van die ander tuie rondry nie, maar vir twee jaar of langer op een plek, die Elysium Planitia, bly.

In Julie of Augustus 2020 sal Nasa nog ʼn tuig, Mars2020, die mees gesofistikeerde tuig nog, stuur. Sy eerste doelwit is om te soek na tekens van oerlewe op die planeet, en of daar dalk steeds mikrobiese lewe is. Die tweede is om die klimaat te karteer en die derde om die geologie van die planeet te bepaal.

  • Elsabé Brits is ʼn vryskut-wetenskapjoernalis.

Dit is die eerste foto wat Nasa se InSight-robottuig geneem het kort nadat dit geland het. Die kamera se deursigtige lensbedekking om dit teen stof van die landing te beskerm, was nog op toe foto geneem is. Dit is die enigste twee foto’s wat nog na die aarde teruggestuur is. Foto: Nasa/JPL

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

24 Kommentare

jongste oudste gewildste
DeVill

“State of the art” tegnologie wat die mens instaat stel om ‘n ruimtetuig oor ‘n afstand van 54 miljoen Km suksesvol op Mars te laat land.

Maar dit is die beste fotos wat hulle kon neem? Verbysterend!

Robert

Wonderlike tegnologie!

Anoniem

Nasa ! Geluk, gee Julleself ‘n klop op die skouer ?? Moderne tegnologie is baie GOED ? Sterkte vir 2020

benaYaHU

Selah Met vele en diepe navorsing sal hierdie leuen nie so maklik geglo word! Waarom? “sterre” en “planete” is verseker nie dit wat aan die publiek voorgehou word, en die realiteit is ver verwyderd en strek VEEL weier as die aanvaarde norm. (en nou sal ek seker moet lees van al die teleskope, asook professionele en amateur sterrekundiges) Die meerderheid wetenskaplike beginsels (en reputasies) is geskoei op .. teorieë! Hierdie teorieë word byna daagliks aangepas om weer oor ‘n tyd ‘aangepas’ te word, en eintlik verstaan die ‘wyse’ manne nie naastenby soveel as wat voorgehou word. Wat elkeen glo is… Lees meer »

Magaretha van heerden

Ek wil nie almal se bubble bars nie maar deesdae kan jy niks glo wat jy sien nie. Die kan dalk net n “gestage-de ” prent wees. Alles is deesdae fake insluitende die nuus. So netjies, geen skade, geen merkie, geen vuilgoed op nie. Mooi blink gevryf vir die foto. Skadu en al.