Nataniël hou tuiskonsert, beantwoord kykers se vrae

Op 19 April kan kykers inskakel vir nog ʼn aanlynkonsert – dié keer saam met Nataniël.

“Diegene wat Nataniël ken weet dat hy nooit sit nie, nie tydens ’n gesprek, repetisie, vergadering of foonoproep nie,” vertel Delmari van Zyl, mediabeampte van Optog!. “Hy onderneem egter om eerskomende Sondag stil te sit,” vertel sy laggend.

Tuis- en e-konserte het vinnig momentum gekry ná die staat se aankondiging van ʼn nasionale afsonderingstydperk. Dié konserte word al hoe meer deur kunstenaars aangebied – meestal in die gerief van hul eie huise.

Nataniël beoog om met kykers in sy sitkamer te gesels oor tuisbly, kosmaak, sosiale dilemmas, en die belangrikste van alles, etiket in die tyd van inperking. Hy meen dit is beslis nodig wanneer mense saam in afsondering is.

“’n Gebrek aan etiket onder sulke omstandighede kan erge skade aan families of paartjies veroorsaak,” sê hy. “Ek praat Sondag daaroor en natuurlik sien ek uit om kykers se vrae te beantwoord.”

Kan jy enigiets vir Nataniël vra?

“Absoluut,” sê hy. “As dit onnodig of aaklig of onvanpas is, gooi ek dit net uit.”

Nataniël se sololoopbaan het ongeveer drie dekades gelede begin toe hy sy eerste enkelsnit uitgereik het. Sedertdien het hy 19 albums uitgereik, meer as 80 oorspronklike teaterproduksies op die planke gehad en 21 boeke gepubliseer.

Sy filosofie, uitkyk, insig en manier van praat is eiesoortig, eerlik en direk. Dit is ook vol deernis, humor en verrassings.

“Ek dink wat vir my die heel lekkerste is, is die feit dat Nataniël kykers na sy huis nooi. Om na Nataniël se huis genooi te word, is werklik ʼn uitsonderlike geleentheid,” sê Van Zyl.

Aanhangers se vrae kan per selfoon of ander videotoerusting opgeneem word en per WhatsApp na 071 686 7733 gestuur word. Die video’s mag nie langer as 30 sekondes wees nie en kykers moet onthou om hul naam te noem en te sê vanwaar hul gesels. Video’s kan tot Vrydag om 18:00 gestuur word.

Kaartjies kos R50 en die konsert sal Sondag van 08:00 af op Optog! se webwerf beskikbaar wees. Dit is nie ʼn regstreekse uitsending nie. Besoek Optog! vir meer inligting oor kaartjieverkope en die konsert.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.