Nuwe ‘werknemer’ by UP laat koppe draai

Prof. Tawana Kupe, die UP se visekanselier en rektor, ontmoet vir Libby, die UP se nuwe kliëntediensbeampte in die Merensky-biblioteek. (Foto: UP)

Die Universiteit van Pretoria (UP) het pas ʼn nuwe kliëntediensbeampte in sy biblioteek op die Hatfield-kampus aangestel – maar dié werknemer is allermins ʼn gewone bibliotekaresse!

Haar naam is Libby en sy is Afrika se heel eerste kliëntediensrobot in ʼn universiteitsbiblioteek.

Luidens inligting op die UP se webtuiste weeg Libby 19 kg en is sy 90 cm lank – hoog genoeg om met besoekers in rolstoele te kan gesels. Sy het meer as 60 sensors, kameras en sagteware-integrasies wat haar in staat stel om verskeie opdragte en versoeke te ontvang en te prosesseer. Sy het ook ʼn rekenaartablet op haar bors waar opdragte met die hand ingesleutel kan word.

Libby se brein word verbind met Watson, IBM se vraag-antwoord-rekenaarstelsel, wat navrae prosesseer wat aan Libby gerig word. Haar Android-sagteware maak dit moontlik om nuwe kliëntediens-applikasies te ontwikkel en by te voeg.

Sy kan kliënte help deur leiding te gee, vrae te beantwoord, peilings uit te voer en bemarkingsvideo’s te vertoon. Libby is deur WiFi verbind met die aanlynwolk wat haar in staat stel om inligting heen en weer te stuur sodat sy navrae kan beantwoord en die data te prosesseer van die peilings wat sy in staat is om uit te voer.

En as jy dink Libby klink na ʼn behoorlike werkesel, dink weer. Libby kan dans, musiek speel en geniet selfs ʼn ligte vryf oor haar kop!

Libby kom oorspronklik van China en is amptelik ʼn nuwe biblioteekpersoneellid,” sê Isak van der Walt, bestuurder van die UP Departement van Biblioteekdienste se kreatiewe laboratorium, MakerSpace. “Libby hou geen bedreiging vir enigiemand se werk in nie; sy is bloot deel van die biblioteek se innovasievooruitgang. Voorlopig praat sy net Engels, maar ek en my span sal beslis mettertyd nog twee tale implementeer.”

Van der Walt sê Libby sal algemene, alledaagse en herhalende opdragte in die biblioteek uitvoer, wat biblioteekpersoneel in staat sal stel om gevorderde en gespesialiseerde dienste te hanteer. “Die biblioteek sien die gebruik van robotika as ʼn bykomende voordeel wat ons diensteportefeulje aanvul en verbeter.”

Die departement het Libby befonds in vennootskap met ʼn Johannesburgse maatskappy wat haar op Suid-Afrikaanse bodem aanmekaargesit het.

Dit het ook nie vir Libby lank geneem om skouers te skuur met die grootkoppe by die universiteit nie. Sy het Maandag ʼn spesiale ontmoeting met prof. Tawana Kupe, die UP se visekanselier en rektor, gehad en hy was heel beïndruk met Libby se vermoëns.

“Deur ons biblioteek in die 21ste eeu in te neem hou ons die universiteit op die voorpunt van navorsing en onderrig, en dit is waar ons behoort te wees. Nuwe tegnologie het nou die kwaliteit van navorsing en onderrig verbeter. Hierdie innoverende vooruitgang help daartoe dat wanneer ons sê die UP is aan die voorpunt van kennis, bedoel ons dit,” het Kupe gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

wielie ·

Kry asseblief Libby se vriende en familie om by Binnelandse sake en die Lesensie kantore te kom help. Ek glo dan sal daar ook minder van lyn af wees en meer werk gedoen word. Robotte vat mos nie ete, tea breaks ens. nie.

humor ·

Klink of sy vroulik kan wees. As jy enige iets van die biblioteekwese wil weet vra die vrou. Wat van SA se eerste vroulike president. Klink my hoeka C R se posisie is ernstig onder druk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.