Oorweeg gerus dié apps

Apps

Foto: Pixabay.com

Daar is soveel apps wat die lewe sommer baie makliker kan maak. Hier is ʼn paar wat jy gerus kan oorweeg:

SnapSeed
Laai af: Apple en Android.

As jy daarvan hou om jou foto’s self te redigeer, is SnapSeed ʼn moet. Dis maklik om te gebruik en bied jou die moontlikheid om verskeie filters te gebruik. Jy kan ook ʼn verskeidenheid van verstellings soos kontras en kleur inspan.

Instagram
Laai af: Apple en Android.

As jy klaar al jou foto’s met SnapSeed geredigeer het, wil jy dit mos graag vir mense wys. Instagram is ook ʼn nuttige app as jy met jou foto’s wil spog.

Shazam
Laai af: Apple en Android.

Dit altyd frustrerend as jy ʼn mooi liedjie hoor, maar jy’t geen idee wie dit sing of wat die liedjie se titel is nie. Die Shazam-app kan binne ʼn paar sekondes vir jou sê wie die kunstenaar is en op watter album die liedjie beskikbaar is.

CamMe
Laai af: Apple en Android.

As jy skrikkerig is vir ʼn selfie-stok, maar steeds “handvrye” foto’s wil neem, is CamMe reg in jou kraal. Dié app is veral geskik vir groepfoto’s. Plaas jou foon ver genoeg sodat jy en al jou vriende in die skoot kom. Lig jou hand op en maak ʼn vuis. Jou foon se kamera sal dan die foto neem.

Timehop
Laai af: Apple en Android.

Dis altyd lekker om te sien wat jy ʼn paar jaar gelede op Facebook of Twitter geplaas het. Timehop benut ʼn groot verskeidenheid van jou sosialemediarekeninge en stuur vir jou wat jy byvoorbeeld ʼn jaar of twee terug op sosiale media geplaas het.

VivA – Virtuele Instituut vir Afrikaans
Laai af: Apple en Android.

As goeie spelling vir jou belangrik is (en ons hoop dit is), gaan jy baie van dié app hou. VivA is soos ʼn HAT in jou sak. Dit gee jou nie net die regte spelling van woorde nie, maar bied meteen ook ʼn sinoniem en hoe om dit in Engels en Tswana te spel.

PDF Converter
Laai af: Apple en Android.

Nie almal het skandeerders tuis nie, maar met PDF Converter het jy nie een nodig nie. Jy neem met jou foon ʼn foto van ʼn betrokke dokument en dié app verander dit na PDF-formaat. Dis ideaal as jy ʼn kontrak moet teken of ʼn dokument moet aanstuur wat in PDF-formaat moet wees.

Pinterest
Laai af: Apple en Android.

Hierdie app is soos ʼn plakboek – noem dit sommer ʼn aanlyn-aanspeldbord. Bruide is veral mal oor Pinterest want dit is die ideale manier om alles wat vir jou mooi is, bymekaar te hou. Die skoene wat jy verlede week op Facebook gesien het? Gaan plak dit op Pinterest!

Duolingo
Laai af: Apple en Android.

Wil jy graag ʼn nuwe taal aanleer, maar jy het nie tyd of geld nie? Hierdie app maak dit vir jou baie maklik – en dis gratis! Jy kan uit 50 tale kies en lesse word ook in 23 tale aangebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Annika ·

Kan Maroela Media dalk sê presies waar ons die CamMe app kan kry? Ek kry dit nieop my playstore onder daai naam nie :(

M A ·

Die enigste taal wat ek miskien in SA sal kan gebruik op Duolingo is Portugees. Die res is ook almal Europese tale. Wat van Zulu of Sepedi?

Joggie ·

Kan julle sê of VivA op die Apple Appstore beskikbaar is asb?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.