PlatformZA bied allerlei kykgenot vir plaaslike gehore

(Foto: Glenn Carstens-Peters/Unsplash.)

PlaformZA het op 25 September plaaslike inhoud van meer as 2 000 minute beskikbaar gestel. Dit sluit musiek, leefstyl, dokumentêre, kookprogramme en selfs sepies in.

Suid-Afrikaners gaan werklik kan kies en keur, meen Pieter-Jan Kapp en Christiaan Ballot, mede-eienaars van PlatformZA.

“Daar is ’n ongelooflike verskeidenheid produksies beskikbaar en die inhoud gaan tot ’n baie diverse gehoor spreek.”

Kapp en Ballot verklap ook dat kykers kan uitsien na nuwe inhoud wat einde Oktober én November vrygestel word.

“Ons sien daarna uit om Suid-Afrikaners te vermaak en te verras met dié revolusionêre aanlyn platform.”

Hannes Brümmer (Foto: Verskaf)

Hier is ’n lys met programme waarna kykers kan uitsien:

  • 100×100 is ’n leefstylprogram waar 100 vrae aan 100 suksesvolle en invloedryke Suid-Afrikaners soos Elma Smit en Bouwer Bosch gevra word.
  • In Chat ’n bietjie ball gesels Rikus de Beer met ’n wye verskeidenheid gaste, wat bekendes soos Dewald Wasserfall, Ivan Botha, Francois van Coke en Vanes-Marie du Toit insluit. Elke episode bestaan uit ’n informele gesprek, gevolg deur ’n impromptu-optrede, ’n aweregse toeristebestemming en ’n tong-in-die-kies lewensles.
  • Hannes Brümmer gesels in sy program Maaskaas met van sy bedryfsvriende wat Chris Forrest, Cindy Swanepoel en Tobie Cronjé insluit.
  • Rooitamatie Seisoen 1 word deur die koskenner Renette Vosloo aangebied. In dié program deel Vosloo haar wêreldgehalte-resepte met kykers.
  • Feeskantoor is ’n mini-sitkom-klug wat deur Chris Voster geskryf is. Dit vertel die verhaal van ’n feeskantoor wat tydens die eerste kunstefees op ’n fiktiewe dorpie in chaos gedompel word. Kim Cloete, Hannes Brümmer en Karen Wessels is deel van die rolverdeling.
  • In Magnanimous Curiosity gesels Joey Rasdien met ’n paar interessante Suid-Afrikaners. Van sy gaste sluit in dr. Reza Mia, een van die land se voorste plastiese chirurge, Garnett Kruger, Wits Cricket Club se hoofafrigter, en voormalige politikus Magdalene Moonsamy.
  • Stroom Sessions is ’n musiekproduksie wat kykers die geleentheid bied om na van Suid-Afrika se beste musiekgroepe in die gemak van hul eie huis te kyk. Dit sluit in Georgetown, Black Cat Bones, Wolfgang Marrow en Jacques Moolman (van Shadowclub-faam).

Die bogenoemde lys bied slegs ’n voorsmakie van dit waarna kykers kan uitsien.

Besoek PlatformZA se webwerf of volg hom op Facebook en Instagram vir meer inligting oor die inhoud en hoe om toegang daartoe te verkry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.