Prototipe in Londen getoets: Kyk ma, geen hande

(Foto: Facebook/Oxbotica)

ʼn Bussie wat sonder ʼn bestuurder sy weg kan vind word gedurende die volgende drie weke in Engeland op die proef gestel.

Meer as 100 mense gaan aan dié proeflopie deelneem. Die prototipe-bussie gaan ʼn roete van 3 km in die Greenwich-omgewing in Londen ry, ʼn spoed van 16 km/h handhaaf en deur ʼn rekenaar beheer word. Die bussie wat tot 100 m voor hom kan “sien” het vyf kameras en drie lasertoestelle wat dit op koers hou.

Daar is geen stuurwiel of rempedaal in die bussie nie. Die bussie kom egter self tot stilstand as daar ʼn hindernis in die pad is. Vir die duur van die toetslopie sal daar egter ʼn beampte saamry om die bussie tot stilstand te bring indien dit nodig sou wees. Daar is vier sitplekke in die voertuig.

“Engeland het ʼn geskiedenis van innovering in die motorbedryf en hierdie soort tegnologie het die potensiaal om lewens te red sowel as om vryheid aan bejaardes of mense met gestremdhede te gee,” het Nick Hurd, Britse minister van klimaatsverandering en nywerheid, gesê.

“Die bus is ontwerp om veilig te wees spesifiek vir ʼn omgewing met voetgangers,” het Graeme Smith, uitvoerende bestuurder van Oxbotica, die onderneming wat die bus ontwerp het, gesê.

“Weinig mense het al só ʼn voertuig teëgekom. Dié proeflopie bied mense die geleentheid om dit eerstehands te ervaar. Ons hoop om aanvaarding te kry van die publiek. Ons wil ook bepaal hoe mense reageer terwyl hulle van A na B vervoer word.”

Die oogmerk is dat dié bussie al teen 2019 kommersieel bedryf kan word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Henk Brand ·

‘n Soortgelyke bussie is al vir ‘n hele paar weke in Darwin (die gatkant van Australia) bedrywig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.