Rovos Rail: Van laagte- tot hoogtepunte

rohan-vos-klipkouers

Rohan Vos. Foto: Verskaf.

In hierdie artikel fokus Jacques Basson van Klipkouers op Rohan Vos, stigter van Rovos Rail, wie se treine van die luuksste ter wêreld is, se besigheid.

Vertel ons bietjie meer van jouself.

Wel, ek is nou 70 jaar oud, en het in die besigheid begin toe ek so 21 jaar oud was. Dit was nog op Witbank. Ná omtrent 20 jaar daar het ek die treinbesigheid begin en van daardie dag af is ek in Pretoria en dis waar ons steeds ons besigheid het. Ná skool in die Kaap en op Delareyville in die ou Wes-Transvaal, is ek Johannesburg toe waar ek vir ʼn jaar gewerk het en toe Witbank toe is. Daar het ek my eerste besigheid begin – ʼn diskoteek; dit was so in 1966 of ’67. Toe het ek ʼn onderdele-besigheid begin, en dit het so vinnig gegroei dat ek naderhand omtrent 15 besighede in Witbank en omgewing gehad het.

In 1986 het ek toestemming gekry om my eie trein op die plaaslike netwerk te laat ry. Dit was eers ʼn stokperdjie en toe het ek aansoek gedoen om my eie lokomotief voor aan die trein te koppel. Dis geweier en ek moes wéér aansoek doen vir toestemming, maar dit was heeltemal te duur. Toe ek daaroor kla, stel hulle voor dat ek kaartjies verkoop. Wel, dit was die begin van Rovos Rail, en hier is ons ná 28 jaar steeds – ons eerste trein is in ’89 van stapel gestuur, so ons is net kort duskant 30 jaar aan die gang.

Dit is my besigheidsgeskiedenis, en op ʼn persoonlike vlak – my ma leef  nog, sy’s nou 94, ek het ook twee broers en ʼn suster wat nou in Australië bly. Ek en my vrou, Anthea, het drie dogters en ʼn seun, en het pas ʼn kleindogter bygekry. En dis my geskiedenis.

Gee ons ʼn opsomming van die tipe besigheid en bedryf, as ons nou terugkom na die kernbesigheid wat die treine is.

Soos ek sê, het ons in ’86 die eerste trein begin bou en teen ’89, toe ek die eerste rit begin  het – dit was Aprilmaand – het ek sewe rytuie aan die gang gehad. Ons het oorspronklik van Pretoria af Nelspruit toe gery, en dit was ʼn oornag-trip. Ons het so net voor etenstyd vertrek, so twaalfuur se kant, en dan so twaalfuur daardie aand in Nelspruit aangekom, daar geslaap en vroeg die volgende oggend, sesuur, op die lyn uitgegaan Sabie en Graskop toe. Dis ʼn taklyn, 124 km lank, en dit is seker die mooiste lyn in die land.

Dit is nog daar; ek was verlede naweek, interessantheidshalwe, daar verby met die kar om na Pelgrimsrus en God’s Window in daardie omgewing te gaan kyk. Maar die lyn is nog daar, niemand het hom nog gesteel nie en dit is eintlik ʼn wonderwerk, want dis lanklaas gebruik. Dis ʼn volle 124 km en jy gaan van Nelspruit af, klim van 2000 voet af daar op tot omtrent 3 500 voet, weer af na Sabie toe na 2 000 voet en dan weer op na Graskop toe hier by 4 000 voet. Dit was my eerste rit en ʼn fantastiese een! Dan bring ons daardie dag in die gebied deur – Pelgrimsrus, Blyderivierpoort, Drie Rondawels en Bourke’s Luck Potholes, en dan op na Berg Sheba toe daar bo in die berge en daardie aand slaap ons op die trein. Die volgende oggend vroeg is ons af na die Krugerwildtuin toe om by een van die privaat reservate te gaan oornag met twee wildritte en dan weer terug na die trein en so terug Pretoria toe. So, dit was vier nagte en as ek daaraan dink, was dit ʼn fantastiese naweek.

Dit was egter vir ons baie moeilik in daardie stadium om kaartjies verkoop te kry, want ons was nog onbekend en dis ʼn duur storie om op ʼn spoorlyn te ry. ʼn Trein is bietjie soos ʼn vliegtuig; jy kan nie net vir ʼn paar rand hier en daar gaan nie, jy moet betaal vir die gebruik van die spoorlyn ook. Ons betaal Spoornet ʼn tarief soos ʼn tol per kilometer vir elke rytuig, en dit is ʼn duur transaksie, so die kaartjies moes duur wees. Ons het gesukkel en ek het baie geld verloor. Daardie eerste jaar het ek amper álles verloor, maar ek het tog uitgebrei, want die besigheid het gegroei, maar vir groei het jy kapitaal nodig en ek het nie kapitaal gehad nie. In elk geval nie die soort kapitaal om treine mee te bou nie, en ek moes kontant betaal vir alles.

Daardie eerste vyf jaar van ’89 tot einde ’93 was baie moeilike jare, ek het elke dag geld verloor, maar as jy in hierdie tipe besigheid ʼn skedule probeer handhaaf, moet jy maar loop. Jy kan nie kanselleer as jy sien daar is nie genoeg kliënte nie. Net soos met ʼn vliegtuig; as jy van Kaapstad na Johannesburg vlieg en daar is net tien mense op die vliegtuig, dan moet jy weet hoeveel geld gaan jy verloor op daardie trip, nè? En met die trein was dit dieselfde ding, maar ek het geweet ek móét dit doen, want anders gaan die agente wat ons ondersteun hul ondersteuning onttrek. Hulle sal nie kaartjies kan verkoop en hulle kommisie daarop kry en dan die geld teruggee vir die mense nie; dit werk nie uit nie. Ek moes dus alles aan die gang hou en ek het alles verloor – om die waarheid te sê, ek moes ek al my besighede verkoop – die vulstasies, die winkelsentrum, alles.

Ek het ook ʼn fout gemaak en ʼn klomp van my besighede aan ʼn openbare maatskappy verkoop en dit was een van my grootste foute, want al my geld was daarby betrokke en ʼn jaar of so later het hulle skielik bankrot gespeel. Al my kapitaal, in daardie stadium dink ek dit was hier by die vyfmiljoen rand en in ’89 was dit baie geld, was daarmee heen. Op daardie tydstip het ek ʼn oortrokke bankrekening gehad van omtrent 2,3 miljoen, maar ek het die sekuriteit van die aandele in die openbare maatskappy gehad en skielik was dit alles weg! En daar soek die bank toe sy 2,3  miljoen terug! Ek het nie die geld gehad nie, en hulle het my bankrot laat verklaar op 23 Desember 1993. Ná die dagvaarding kry jy mos tien dae om te betaal en dis nou ʼn ander storie!

Ek sê altyd daar is ʼn silwer randjie êrens. Ek en ʼn ander agent, Jules Verne, het ʼn plan beraam om ʼn rit aan te bied vir die Engelse mark van Kaapstad af na Vic Falls toe. In daardie stadium het ek nog nie Vic Falls toe gegaan nie; net die Kaapstad-Pretoria-lyn en Oos-Transvaal. Dit was vir ons ʼn nuutjie, en hy het dit in die Britse Sunday Telegraph geadverteer vir 27 Desember daardie jaar. Onthou nou, die bank het my die dagvaarding op die 24ste, net so voor Kersfees, gegee en my kinders was nog klein. Ek onthou ek het gereeld in die tuin rondgeloop met daardie vier kleintjies en dan wonder ek wat ek nou gaan doen. Ek het besef ek gaan alles verloor en in daardie stadium het ek al reeds álles verkoop gehad – selfs  my skoonma! Ek het niks gehad nie, en een van my werknemers het boonop een aand my kar gesteel en hy’t dit gerol, so ek het net ʼn fiets gehad om oor die weg mee te kom. Snaaks genoeg, ek het die fiets op die grond buitekant een van die geboue neergesit en die volgende oomblik het ʼn ou agteruit gery, bo-oor die fiets, so van daardie dag af moes ek bietjie voetslaan.

Daardie Kersfees was baie sleg en ek het nie gedink ons gaan dit maak nie. Die agent het die ding in Engeland geadverteer vir 27 Desember en toe gebeur daar niks. Hy bel my hier teen die 30ste en hy’t maar gek geskeer, want ek het vir hom gesê ek’s bankrot, so hy moet versigtig wees met sy geld. Toe sê hy vir my: “Nee wat, die mense is glad nie geïnteresseerd in hierdie blêrrie trein van jou nie, wat nou?” En jy voel hoe jou hart tot in jou skoene sak! Maar toe sê hy: “Nee man, die telefoon lui aanmekaar!” Hy het toe al klaar drie treine se kaartjies verkoop. En dit was die wonderwerk, die draaipunt. Hy’t dadelik vir my bietjie geld gestuur, want dit was my enigste opdrag in daardie stadium. Ek het die bank ʼn bietjie geld gaan gee en hulle gesê om my uit te los. So, van daardie dae af was die omdraai ongelooflik vinnig. Drie maande later kon ek 38 rytuie by die Spoorweë gaan koop.

So, wat sal jy sê noudat jy terugkyk, was die groot sukses dalk dat die rit Vic Falls toe was of was dit die Engelse wat eerste op die bandwagon gespring het en toe volg die res van die Suid-Afrikaanse mark toe hulle sien hier’s ouens wat hiervan hou?

Dis ʼn moeilike ding om te antwoord, maar ek sou sê die aantrekking van Vic Falls was miskien 30%, die ander 70% was die bemarkingsvernuf van die ouens in Engeland. Die ander ding was natuurlik dat mense skielik van die Kaap af regdeur kon ry en tot in daardie stadium het ons kompetisie, die Blou Trein, net  die Kaapstad-Johannesburg-lyn gery. Dit was ʼn splinternuwe idee en ek dink dit was 70% van die sukses van die ding.

Hoe kan die Klipkouers met julle kontak maak?

Op ons webblad, www.rovos.com.

Luister na hierdie episode op www.klipkouers.com

Klipkouers is ‘n weeklikse podsending waar sakeman, Jacques Basson, met plaaslike en internasionale Afrikaner entrepreneurs en impakmakers gesels ten einde die beste praktiese besigheids-en lewensadvies met jou te deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Pietman ·

Sjoe wat ‘n storie. Welgedaan! Besigheid en risiko is maar sinoniem.

lilani le roux ·

verlede vrydag sit ek in ‘n snikhittende kar, verkeer staan bankvas, die son knaag my as passasier op my arm. Terwyl daar hoetters geblaas word, taxis wat voor ons inry, hitte wat byt, kom die rovos rail verby, ek maak my oe toe en wens met my hele hart dat ek eendag ook deur daardie venster kan loer, en “dankie sug’ dat ek nie in die verkeer sit nie…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.