China gee groot ruimtetreë

Die Long Mars 7 word met die nuwe, kragtiger brandstof gelanseer (Foto: Christian Science Monitor)

Die Long Mars 7 word met die nuwe, kragtiger brandstof gelanseer (Foto: Christian Science Monitor)

China het pas sy kragtigste vuurpyl nóg gelanseer en die land se planne is goed op dreef om teen die einde van die volgende dekade op Mars te land.

Die vuurpyl, Long March 7, is die afgelope naweek gelanseer en is in staat om meer as 13 600 kg te dra. Die vuurpyl was onbeman en het later die naweek op die steppe van Binne-Mongolië geland.

China is vinnig besig om groot ruimtetreë te gee in vergelyking met ander lande en beplan om vanjaar nog sy tweede ruimtelaboratorium te lanseer, teen 2018 ʼn maanvoertuig op die agterkant van die maan te laat ry en teen 2020 ʼn voertuig op Mars neer te laat vir verkenning.

Volgens die Christian Science Monitor wil China ook teen 2020 reeds 200 ruimtetuie in wentelbane om die aarde hê en 30 lanserings per jaar uitvoer.

China het ook pas bekend gemaak hy het ʼn nuwe soort brandstof ontwikkel waarmee sy jongste tuig pas gelanseer is. Die nuwe brandstof is meer volhoubaar en kragtig.

Kenners meen China en Japan maak nie meer bloot die ruimteprestasies van ander lande na nie, maar lewer self ʼn bydrae tot die ontwikkeling van ruimtevaart.

Die land het reeds miljarde rande bestee aan sy ruimteprogramme en ʼn rits prestasies behaal. Die eerste bemande vlug is in 2003 gelanseer en die eerste ruimtewandeling vir die land het in 2008 plaasgevind.

Bron: Christian Science Monitor

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.