Die Europese Ruimteagentskap gaan teen die einde van Januarie nog een keer, en vir oulaas probeer om die landingstuig Philae op die komeet 67P/Churyumov-Gerasimenko aan te skakel. Dit is ses maande sedert kortstondig van Philae verneem is, nadat die tuig se landing op die komeet skeefgeloop het. Met die kontak ses maande gelede is ’n magdom inligting via die Rosettatuig na die aarde gestuur.
Die komeet is nou besig om sy reis na die diep ruimte te onderneem nadat dit sy naaste punt aan die son besoek het. Elke dag word die temperatuur nou kouer, en teen minus 51 grade Celsius sal die instrumente op Philae nie meer werk nie. Dié temperatuur sal teen die einde van Januarie bereik word.
Op 10 Januarie vanjaar het ESA probeer om Philae se vliegwiel, wat stabiliteit tydens die landing moes verskaf, aan die draai te kry. So is gehoop dat die tuig van posisie sou verwissel en dalk sy sonkragpanele aan die son sou blootstel.
Bron: ESAblogs