‘Gateway’: Ons gaan maan toe!

Die maanomwentelingsplatform met die naam “Gateway”. (Foto: Nasa.)

Meer as 50 jaar het verbygegaan sedert die eerste Apollo-uitreik na die maan. Dit is ʼn gebeurtenis wat tussen 1969 en 1972 elke persoon op aarde laat opkyk het na die hemelruim en ʼn nuwe visie laat realiseer het. Altesaam 24 ruimtevaarders het op nege uittogte na die maan gereis. Van hierdie 24 het slegs 12 die voorreg gehad om met hul voete op die maan te kon staan vir ʼn totale duur van net minder as ses dae.

Die eerste man op die maan was Neil A. Armstrong wat die bevelvoerder was op die Apollo 11. Dit was ʼn legendariese oomblik toe Neil se voete op die maan se oppervlakte land, ons onthou die woorde asof dit gister was; “One small step for man, one giant leap for mankind.”

Maar in 2020 begin ʼn nuwe reis na die maan waarvoor ons al bykans 50 jaar wag met die eerste uittog na die maan aan boord van die Orion-ruimtetuig. Dié onbemande uittog na die maan word beplan vir Oktober 2020 om nuwe tegnologie te toets voor die groot 2022-bekendstelling van die maan se eerste ruimtestasie. Nie net sien ons uit na die eerste vrou wat sal kan maan toe gaan nie, maar ook na die vooruitsig van ʼn permanente ruimtestasie wat om die maan sal wentel. Die idee is om maklike en gereelde toegang tot die maan te verseker. Gateway is die antwoord.

(Foto: Pixabay.)

Gateway, ʼn maanomwentelingsplatform gaan ruimtevaarders verder van die aarde huisves as wat enige mens nog ooit was, soortgelyk aan die huidige internasionale ruimtestasie (IRS). Die afstand vanaf die aarde na die maan is 384 400 km en dit neem ʼn ruimtetuig ongeveer vyf dae om daar te kom.

Gateway bied die geleentheid om nuwe tegnologie te toets en ontwikkel wat toegang tot die maan se oppervlakte ʼn permanente instelling gaan maak. En sodoende die weg baan om dieselfde infrastruktuur en tegnologie op ʼn uittog na Mars toe te pas.

Gateway sal bestaan uit leefruimtes, laboratoriums vir wetenskaplike navorsing, asook spesifieke afdelings vir berging van robotika en ʼn afsetpunt vir die stuur en ontvang van toerusting na die maan en terug. Maar Gateway is baie kleiner as die huidige internasionale ruimtestasie wat slegs 408 km bo die aarde wentel.

Ruimtevaarders sal slegs een keer per jaar dié ruimtetuig besoek en dan vir ʼn kort tydperk van ongeveer drie maande daar kan bly. Die Gateway-ruimtetuig stel ruimtevaarders in staat om op die stasie te bly, eksperimente te doen en ook na die maan se oppervlakte te reis. Selfs wanneer daar niemand op dié ruimtetuig bly nie sal robotika spesifieke eksperimente en ruimte ondersoeke voorsit en die data terugstuur aarde toe.

Die ruimtetuig Apollo land op die maan. (Foto: Pixabay.)

Die Amerikaanse Nasionale Lugvaart- en Ruimteadministrasie (Nasa) het alreeds begin werk aan die Gateway-ruimtetuig en beoog om die eerste gedeelte van die ruimtestasie reeds in 2022 te stuur. Die volgende stap is om dan vier ruimtevaarders te stuur met twee nuwe gedeeltes van die ruimtetuig wat die leefruimte insluit. Hierna sal ruimtevaarders jaarliks na Gateway reis met nuwe gedeeltes en onderdele om uiteindelik die volledige stasie aanmekaar te kan sit teen 2026.

Die plan is om die eerste vroueruimtevaarder teen 2024 op die maan te laat land. ʼn eerste in wêreldgeskiedenis.

Hier is ’n video oor Nasa se planne:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nico ·

Ek kan nie wag dat dit moet gebeur nie. Gaan wonderlik wees om in hoë definisie te sien. Vorentoe Mars!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.