Goue Lokkies-planete in ons sonnestelsel

Dié foto is op 3 Januarie 2019 deur China se nasionale ruimteagentskap verskaf. Die foto is geneem deur China se Chang’e 4-maanlandingstuig nadat dit vir die eerste keer op die verste kant van die maan geland het. (Foto: China National Space Administration/Xinhua News Agency via AP)

Die aarde is nie die enigste planeet in ons sonnestelsel wat oor ʼn Goue Lokkies-era beskik het, of steeds beskik nie.

Onlangse navorsing dui daarop dat Mars eens oor reuseriviere beskik het, en dat Venus eens oor ʼn oseaan moes beskik het wat groot en diep genoeg was om die planeet se omwenteling om sy eie as te rem. Die toestand op Venus so lank gelede is as paradysagtig beskryf. Onlangse navorsing toon ook aan dat toestande op die maan eens geskik moes wees om lewe te kon onderhou. Simulasies is gewoonlik gebruik om tot dié gevolgtrekkings te kom.

Terselfdertyd het navorsers simulasies gebruik en vasgestel dat die meeste van die water op die aarde vermoedelik van die ruimtevoorwerp, Theia, afkomstig kon wees toe die Marsgrootte hemelliggaam 4,4 miljard jaar gelede teen die aarde gebots het en die maan uit die materiaal wat losgeslinger is, kon vorm. Die paleontoloë wat die navorsing gedoen het, het deur isotope te bestudeer vasgestel dat baie van die aarde se materiaal ooreenkom met die samestelling van die buiteplanete, en ʼn deel met die binneplanete. Die buiteplanete en ander hemelliggame daar is oor die algemeen ryk aan water, terwyl die binneplanete vandag baie droog is – met die uitsondering van die aarde.

Tog het Venus oor ʼn groot oseaan beskik, is in ʼn ander studie bevind. Die son se effek op daardie see, asook getywerking en konveksiestrome, het Venus se omwenteling om sy eie as gerem, tot die planeet nou 243 aarddae neem om een maal om sy eie as te draai, en boonop agterstevoor teenoor die ander planete. Dit neem Venus 224 dae om om die son te wentel, dus is een kant van die planeet baie lank na die son gekeer.

Hierdie hitte het Venus laat uitdroog, en sy atmosferiese temperatuur op die oppervlak tot meer as vier keer kookpunt laat styg. Die lugdruk is ook baie hoog.

Ook die aarde se oseane rem onder die invloed van die maan se swaartekrag die aarde se spoed om sy eie as, en laat die dae met sowat 20 sekondes elke miljoen jaar rek. Op Venus is bereken dat dit teen uiters 72 dae per miljoen jaar sou stadiger word. Teen daardie spoed sou dit Venus tussen 50 en 200 miljoen jaar neem om sy bestaande draaispoed te bereik.

Onlangse navorsing toon dat Mars in ʼn stadium veel meer water gehad het as wat voorheen gedink is, en dié water kon miljoene jare langer gehou het as wat eens gemeen is. Reusewaterstrome het eens op Mars geloop. Dit is selfs moontlik dat daar nog lewe op Mars kon oorleef het.

In nog ʼn studie, wat as omstrede beskryf word, is ʼn jaar gelede bevind dat die maan moontlik vroeg in sy bestaan twee keer oor gunstige toestande sou kon beskik het om lewe te onderhou. Elk van hierdie periodes sou tientalle miljoene jare lank kon bestaan het.

Die navorsingsverslae toon net aan dat die potensiaal om lewe te onderhou eens op Mars, Venus en die maan bestaan het, en nie dat daar noodwendig ooit lewe bestaan het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Carien ·

Snaaks dat die sogenaamde geleerdes God uit die skepping laat… die maan was nie gevorm deur botsing of wat nie, maar deur God wat Hemel en aarde geskape het

WL ·

Jy besef natuurlik dat dit God is wat die botsing kon laat plaasvind het, nê? Presies soos Hy dit bedoel het.

WL ·

Wetenskaplikes gebruik ‘n metode genoemd “radiometric dating”.

Kiskar ·

WL, radiometeiese datering is op iets soos 17 aannames gebasseer. En daar kan nie teruggegaan word in die verlede oom selfs een van daai aannames te toets nie. En dit is tog wat ware wetenskap is…toetsing, herhalings en eksperimente….wat net in die hede gedoen kan word.

WL ·

Ek dink hulle is so bietjie slimmer as ek en jy. Radiometriese datering is defnitief nie op duimsuig teorieë gebasseer nie.
En hoekom wil jy dit in elkgeval betwyfel?

Leon Stevens ·

Snaaks hoe die “wetenskaplikes” glo dat daar eens water op mars was (bespiegel) maar hulle glo nie in ‘n globale vloed (met bewyse oor die hele aarde) nie. Radiometriese toetsing is ‘n grap, onakkuraat en uitslae word slegs aanvaar deur “wetenskaplikes” indien dit binne hulle “deep time” teorie val. Enigiets wat buite dit val word geignoreer want dit sal ‘n “jong skepping” bevoordeel. Sonder die “deep time” “teorie” sal hulle hulle hele humanistiese gevolgtrekking ten gronde gaan.

Herman Toerien ·

Die teenwoordigheid van water eens op Mars is op vele maniere vasgestel, bv foto’s van ou rivierbeddings met delta-mondings in oer-seë. Verlede jaar is ‘n foto beskikbaar gestel van ‘n groot krater naby die een pool vol ys. Curiosity het tyd spandeer by die oorblyfsels van ‘n ou waterstroom, met spoelklippe en ander waterverwante formasies kompleet. Trouens, daar is rotswande waarteen soms lopende water uitsypel. Wat ouderdomsbepalings betref, is daar reeds ‘n groot aantal metodes. Gewoonlik werk die toetse net op ‘n sekere ouderdom, soos argon op tussen 2 en 7 miljeon jaar. Dit het nietemin praktyd geword om minstens drie verskillende toetse op iets uit te voer, en eers die datering te aanvaar as die drie toetse dieselfde ouderdom aandui. Paleomagnetisme werk bv heel anders as die bepaling van die halfleeftyyd van iets wat radio-aktief was, of is. Die doel is werklik om die ouderdom vas te stel – daar is geen versluierde motief daaragter nie, en word deur die hoofstroomkerke, oa my kerk, die Hervormde Kerk aanvaar.

GBlitz ·

Vir lewe om tot stand te kom op enige planeet (as mens aanvaar dat lewe spontaan tot stand kan kom – iets wat geen wetenskaplike nog ooit kon bewys nie) verg n hele sameloop van n enorme klomp unieke omstandighede. Die teenwoordigheid van water alleen is nog lank nie genoeg nie. Water onderhou lewende dinge, maar water kan nie self aanleiding gee tot lewe nie.

Wat betref dateringsmetodes; sonder twyfel is hulle almal afhanklik van onbewysbare aannames. Dikwels gee verskeie metodes wyd uiteenlopende ouderdomme vir dieselfde gesteente. Dan maak wetenskaplikes n “educated guess.”

Evolusie benodig baie tyd. Dit speel n rol by wetenskaplikes se vashou aan twyfelagtige metodes wat groot ouderdomme gee. Soos enige menslike bedryf, is die wetenskap ook maar onderhewig aan geloofsoortuigings en dogma.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.